Uitgevat in ’n koffiekleurige knielengte jas, ’n noupypbroek en hakskoene wat haar kop en skouers bo almal om haar laat uittroon, kom Mej. Suid-Afrika na my toe aangestap in die koffiewinkel in Johannesburg waar ons ontmoet. Dis presies ’n maand ná haar kroning en mense vergaap hulle.

Tamaryn Green groet met ’n breë glimlag en die beligting laat die roosgoue grimering op haar ooglede glinster.

’n Paar maande gelede sou sy nie só in ’n winkelsentrum rondgeloop het nie, bieg sy. “Dís nou vir jou iets om aan gewoond te raak – die hare en grimering waarvoor ek nou elke oggend moet tyd maak. Ek besluit selfs die vorige aand wat ek gaan dra om tyd te spaar. Voor ek vir Mej. Suid-Afrika ingeskryf het, het ek nie eens behoorlik geweet hoe om my grimering self te doen nie. Die foto’s van my by die streek-uitdunne . . . oh my word! Ek moes vinnig leer.”

Tamaryn is ’n borrelende 24-jarige, vol lewenslus, en skielik is die wêreld aan haar voete. Haar lewe het letterlik oornag verander sedert haar naam daardie aand uitgelees is. “Dit was 27 Mei. Ek sal dié datum nooit in my lewe vergeet nie,” lag sy en skud haar kop asof sy dit nou nog nie kan glo nie.

“Die oomblik dat jy jou naam hoor, gaan daar regtig niks deur jou kop nie – dis net adrenalien en ’n warboel van mense wat jou gelukwens. En dan, verligting. Dis iets wat ek my hele lewe lank wou hê, waarvoor ek hard gewerk het, en hier gebeur dit nou – regtig-egtig. Dis hoekom ek begin huil het op die verhoog, ek het net so bevoorreg gevoel.”

Daardie aand was sy te opgewonde om aan die slaap te raak, maar die werk moes reeds die volgende dag begin. “Sedertdien is ek so besig, ek weet letterlik nie watter dag van die week dit is nie. My eerste dag as Mej. SA het begin met elf media-onderhoude en my amptelike fotosessie. En dit het nog nie opgehou nie.

Vanoggend, byvoorbeeld, het ek van Kaapstad af gevlieg waar ek die naweek die rugbywedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika op Nuweland bygewoon het, en ’n rits gesellighede en onderhoude gehad het. Toe is ek reguit na ’n vergadering met ’n borg. Saans val ek op my bed neer, raak dadelik aan die slaap . . . en die volgende dag doen ons dit weer. Gelukkig is daar ’n hele span wat my dagboek beplan en ek maak net seker ek is betyds.”

So tussendeur het sy boonop na Johannesburg verhuis. “Ek, hierdie kleindorpie-meisie van die Paarl, woon nou alleen in ’n woonstel in die groot stad. Voorheen was ek net een keer vinnig in Johannesburg vir modelwerk. Dit gaan nog gewoond raak vat – die paaie is so besig!”

Net ’n paar maande gelede nog was Tamaryn ’n mediese student aan die Universiteit van Kaapstad – met ’n jaar oor voor sy haar mediese graad sou kry. “Dit was ’n baie moeilike keuse om my studies te staak. Ek kan nie regtig verduidelik hoekom ek besluit het om vanjaar deel te neem eerder as ná my studies nie. Dit was ’n gevoel in my hart. Ek het gewik en geweeg, en eers die dag voor die Kaapstad-uitdun besluit om wel in te skryf.

Ons was nog die aand in die Spur en my familie het vir my gesê ek moet eerder wag en klaar studeer. Maar ek kon nie. Ek het die kelnerin gevra om die aansoekvorm te gaan uitdruk en dit daar en dan ingevul!”

Maar haar studies gaan sy beslis voltooi. “Ek is passievol oor gesondheidsorg en dis die projekte waarop ek vanjaar wil fokus. Dít en opvoeding.”

Dié belangstelling kom van haar ouers, wat albei in die onderwys werk. Haar ma as laerskoolonderwyseres en haar pa as kurrikulum-adviseur. Sy glo dis die waardes wat hulle haar geleer het wat haar gehelp het om die kroon te wen.

“Ek het in ’n doodgewone middelklashuishouding grootgeword, die middelkind van drie. My ouers het my altyd laat glo ek kan enigiets doen. En ek is iemand wat álles wil doen. Op skool het ek akademies goed gevaar, maar ek het ook aan elke sport deelgeneem – hokkie, swem, netbal. Ek was ’n regte tomboy wat krieket saam met die seuns gespeel en boom geklim het. Op hoërskool het ek in die junior stadsraad gedien, ek was hoofmeisie en ek het aan skoonheidskompetisies begin deelneem.”

Dit het haar voorberei vir die struktuur van dié soort kompetisies, maar glad nie vir dít wat sou volg ná die kroon op haar kop gesit is nie. Die grootste aanpassing is al die skielike aandag, sê sy. Haar volgelinge op Instagram het ná haar kroning binne ’n paar dae van 15 000 tot 80 000 gegroei.

“Dis oorweldigend. Deesdae is sosiale media ’n baie groot deel van die titel. Ons het selfs lesse daarin gehad – hoe jy jouself en jou borge bemark. Mense wil jou reis kan volg. Maar ek word selfs op straat herken. Skielik is ek nie meer Tamaryn nie, ek is openbare besit. Dis veral vir my moeilik om met die media te gesels. Jy hoop iemand verstaan jou hart, maar dít wat jy sê, word net so geskryf en soms is dit buite konteks of die bedoeling gaan verlore.

“En dan gaan ek vanjaar nog soveel belangrike mense ontmoet, wêreldleiers – ek het reeds pres. Ramaphosa ontmoet; dit laat ’n mens soms baie jonk en onervare voel om te dink jy moet gesprekke met hulle kan voer. Ek het vir myself gesê ek sal luister wanneer dit tyd is om by hulle te leer, en wys wat ek kan doen wanneer dit weer tyd is daarvoor. Mense onderskat jou maklik as jy jonk is. Maar solank jy nie dink jy het al die antwoorde nie, sal jy hulle uiteindelik verkeerd bewys deur hard te werk.”

Met tye wil-wil die moegheid en stres, en selfs die opwinding van haar nuwe lewe, haar oorweldig. Dan bel sy haar ouers of haar kêrel van drie jaar, en as dit moet, gaan huil sy vinnig in die badkamer.

“Ek is nie skaam daaroor nie! Trane is ’n natuurlike manier om van spanning ontslae te raak. Dan voel jy dadelik beter en jy gaan aan.”

Daar is darem ook byvoordele. Die nuutgekroonde Mej. SA het pryse ter waarde van R3 miljoen gewen, onder meer R1 miljoen kontant en ’n luukse motor. Tamaryn het nog nie eens besluit wat om met die geld te doen nie. “Dit was eintlik ’n lekker verrassing, want ek het nie eens daaraan gedink toe ek inskryf nie. Ek wou wen om ’n verskil te kan maak.

“Mense dink dié kompetisies gaan net oor skoonheid, maar ek het as tiener gesien watter impak dit het toe ek in 2011 my hoërskool se skoonheidskompetisie, Miss New Orleans, gewen het. Jonger meisies in ons klein gemeenskap het my begin herken en ek het besef ek kan ’n rolmodel vir hulle wees.”

Maar selfs as jongmens met ’n kop vol drome is sy realisties oor wat sy vanjaar kan bereik. “Ek is net een mens, ek weet ek gaan nie die wêreld binne ’n jaar verander nie. Ek het al met baie mense gesels oor hoe jy die meeste impak kan hê in jou beperkte tyd. Tot iemand die dag vir my gesê het jy gaan eintlik jou lewe lank ’n Mej. SA wees. Jy dra die kroon dalk net vir ’n jaar, maar jy gaan ná die tyd steeds invloed hê. Dit het my laat ontspan.

Ek het besluit ek gaan net drie projekte kies waarop ek vanjaar sal fokus en dan kan ek later aan al die ander werk waaroor ek ook passievol voel. Al kan ek net ’n klein verskil maak – een of ander statistiek van 2% na 5% verbeter – sal dit iets beteken.”

Tamaryn het nog nie tyd gehad om met die vorige wenners te gesels oor presies hóé jy dit doen nie, maar baie het reeds aangebied om te help en raad te gee. “Vanjaar was die 60ste jaar dat Mej. SA aangebied is en daar was seker 40 voormalige Mejj. SA in die gehoor, en soveel van hulle was mý rolmodelle. Dit was ongelooflik!

Daar was nie tyd om almal te ontmoet nie, maar ek het met Rolene Strauss [Mej. SA 2014] en Demi-Leigh Nel-Peters [2017] gesels. Albei het gesê dit gaan die besigste jaar van my lewe wees, beslis die lekkerste, en ek moet onthou om dit te geniet. Demi het ook vinnig genoem ek moenie die kroon vir meer as twee uur op ’n slag dra nie, want dis swaar – nie figuurlik nie, letterlik!”

Sy beklemtoon skoonheidskompetisies is deesdae baie meer as wat dit dekades gelede was. Daar is meer verantwoordelikheid – veral nóú, met veldtogte soos #MeToo wat in die nuus is. “Dit voel soos ’n belangrike tyd om ’n vroue-rolmodel te wees, om ander vroue te bemagtig.

My boodskap aan vroue, veral jonger meisies, is dat ons moet ophou om onsself met mekaar te vergelyk. Ons het almal sterk punte en jy moet fokus op joune, nie iemand anders s’n nie. Aan mans wil ek sê: Wys jou kinders van kleins af dat seuns en dogters ewe belangrik is, dat hulle dieselfde drome kan nastreef en daardie doelwitte kan behaal, en leer jou seuns dat hulle meisies as hul gelykes moet hanteer.”

Maar is dit dan geregverdig dat die uiterlike steeds deel moet uitmaak van die kompetisie? “Ja, dit is ook ’n boksie wat jy moet kan aftik, deel van die volle pakket. Jou voorkoms wys hoe jy binne voel – dat jy trots is op jouself.”

Tamaryn neem later vanjaar aan Mej. Heelal deel, maar voor dit lê daar, benewens al haar ander verpligtinge, nog harde werk voor. “Die datum en plek is nog nie eens vasgemaak nie, maar ek weet reeds ek gaan ’n oefenprogram nader aan die tyd moet begin volg.

Daar is nogal baie druk, veral omdat Demi verlede jaar gewen het. Dit het al voorheen gebeur dat een land twee of selfs drie jaar agtereenvolgens wen, so die kans is daar. Dit skep baie verwagtinge van my en almal vra my daaroor uit. Maar ek is nie gespanne nie, ek kan mos net my bes doen. Ek wil alles gee en dit geniet, maar die uiteinde is in God se hande.

“Vir eers wil ek dinge net dag vir dag hanteer. Ek dink dit begin eintlik nou eers insink dat ek Mej. Suid-Afrika is; dit het regtig, regtig met mý gebeur!”

Ek sal luister wanneer dit tyd is om te leer, en wys wat ek kan doen wanneer die tyd reg is