Wanneer sy lag, skyn die son, sing die voëltjies en dans die feetjies. Só beskryf ene Daantjie van Stellenbosch vir Tammy-Anne Fortuin, model en Roer!-aanbieder, in ’n brief aan Die Burger. Dan lyk sy boonop soos Aishwarya Rai, die Bollywoodaktrise en voormalige Mej. Wêreld. Met haar aankoms by ’n koffiewinkel in Durbanville buite Kaapstad, waar sy by haar ouers woon, sak ’n stilte neer. Almal kyk op, want Tammy-Anne is eenvoudig sensasioneel.

Haar dik swart hare met die effense kartel hoort tuis in ’n haaradvertensie. En haar oë is so groot en mooi dat hulle soos glas lyk. Wanneer sy vir jou kyk, sien jy haar opregtheid.

“My oë kan nie lieg nie,” vertel sy later. Dis halfvier in die middag en sy bestel ’n toebroodjie met ham, kaas en tamatie “en ’n glas wyn in die plek van die aartappelskyfies, asseblief”. Sy sê sy was te besig om te eet. Haar vingers met die rooi naels vou om die glas.

“Rooi is so opvallend,” sê sy. “Ek verkies meer neutrale kleure.” Dié naelkleur is vir ’n opname van Roer!, haar kosprogram Donderdagaande op kykNET. Tammy praat soos ’n vriendin, een met ’n ou siel. Oor Zimbabwe se politiek, die Irak-oorlog, aard-verwarming en Barry White se musiek. Sy vertel ook van die biografieë wat sy graag lees. Van dié oor Jane Fonda en Richard Branson tot by dié oor oudpres. Nelson Mandela en Robert Mugabe.

Sy wissel die gesels af met daardie lekker gul lag - wat al in die pers gekritiseer is. “My lag is myne en ek sal dit nie verander nie. Ek is net wat ek is,” sê sy. “En ek het lankal vrede gemaak daarmee dat almal nie van my kan hou nie.” Sanet Olivier, Roer! se regisseur, sê juis: “Niks aan Tammy-Anne is vals nie.” Is dit dié dat hulle die program nié oorgeskiet het die aand toe Chris Chameleon die glanspersoonlikheid was en die fudge geflop het nie? “Net so,” sê Tammy.

Chris se enigste pot was te klein en die fudge het oorgekook. “Ons bied realiteitstelevisie aan en probeer nie die Hollywood-illusie verkoop nie.” Sanet sê Tammy is ’n talentvolle en natuurlike aanbieder  “en sy’t sjarme”. “Sy gee als. Wanneer sy hier aankom, is sy reeds gegrimeer. Ek het haar nog nooit eens ’n nael gesien vyl nie.”

Dis egter nie asof Tammy net werk nie. Jo-Ann Strauss, ’n voormalige Mej. SA en Top Billing-aanbieder, sê sy is ’n fantastiese en prettige vriendin. “Tammy het my verjaardagpartytjie gereël en is altyd die siel van elke partytjie. Jy kan ook als met haar bespreek. Sy is betroubaar en lojaal.” Sanet beaam dit: “Sy’s enige tyd, selfs snags, vir jou beskikbaar.” Leanne Slabber, Tammy se vriendin van Worcester, stem saam: “Ek het deur ’n moeilike tyd gegaan en kon Tams absoluut met my gevoelens vertrou. Sy is nie oppervlakkig nie. Eintlik baie slim.”

Vir Tammy tel veel meer as voorkoms. Sy sê juis: “Mooiheid trek aandag, maar persoonlikheid trek die hart.” Sy het ’n paar skoonheidstitels agter haar naam, maar het bekend begin word nadat sy in 2003 die eerste prinses in die Mej. SA-wedstryd was. (Cindy Nell het gewen.) “Die wedstryd het van my ’n wenner gemaak. Dit het my in ’n model en later TV-aanbieder verander,” sê sy.

In die gehoor was ’n verteenwoordiger van die Sports Illustrated Swimwear Edition, wat haar daarna gevra het om in swemklere te poseer. “My eerste shoot was skrikwekkend. Ek het nie geweet wát om te doen nie,” vertel Tammy. “Die fotograaf was gelukkkig baie  professioneel. Ek het na die foto’s gekyk en besef ek kan my droomwerk doen - en dít vir geld!” Jo-Ann sê Tammy is ’n uiters professionele model wat altyd betyds is. “Daarby is sy beeldskoon. Ek sê altyd sy laat my aan Angelina Jolie dink.”

Gunstelinge

BOEK: The Secret deur Rhoda Byrne
MUSIEK:
Tina Turner, Mariah Carey, Barry White, Madonna
FLIEK:
Braveheart
PLAASLIKE MODEL:
Minki van der Westhuizen, Christina Storm, Roxy Louw, Lieschen Botes en Dominique Piek
INTERNASIONALE MODEL:
Liz Hurley, Kate Moss, Naomi Campbell
PLAASLIKE TV-AANBIEDER
: Leanne Manas, Jo-Ann Strauss en Ruda Landman
INTERNASIONAAL:
Oprah Winfrey
GOUE OOMBLIK:
Roer! se 100ste episode en middagete saam met oudpres. Nelson Mandela (ek en Conrad Jantjes het saam met hom en sy vrou, Graça, gaan eet).

Jy was in die Hoër Meisieskool in die Paarl. Dink jy ’n meisieskool is ’n goeie ding?
Ek het eers erg teen die prikkels geskop toe my ouers my in Girls High wou sit, want ek het niemand daar geken nie. My eerste jaar daar was die demokrasiejaar. Ek was een van net drie bruinmeisies en moes gewoond raak aan die kultuurverandering. Ek is gelukkig onmiddellik aanvaar. Ek het seuns nooit gemis nie, want ek het ’n broer.

Het jy geswig onder tienerdruk?
Ek het nie al die neigings in kleredrag gevolg nie. Ek hou steeds van jeans, hoë hakke en ’n top. Ek het ook nog altyd, selfs as 16-jarige, van nostalgiese musiek gehou. Soos dié van Nat King Cole, Frank Sinatra en Shirley Bassey.

Jy was ’n junior stadsraadslid van die Paarl. Was maatskaplike kwessies nog altyd belangrik?
Ja. Ek is ’n welwillendheidsambassadeur vir die SOS Children’s Villages en betrokke by Celebrities for Humanity. Albei liefdadigheidsorganisasies verbeter die lewens van weggooi- en mishandelde kinders. Die kinders se ervarings kom uit in hul tekeninge. Dis verskriklik. My pa het ons ook pakslae gegee wanneer ons stout was, maar daar’s ’n verskil tussen streng dissipline en mishandeling.

Wat is die waardevolste dinge wat jou ouers, Thomas en Anthea, jou geleer het?
Wees wie jy werklik is, moenie wêreldse goed aanhang nie en moenie tou opgooi nie.

Jy is 26. Wanneer kry jy jou eie woonplek?
Ons is ’n baie hegte gesin met oop verhoudinge. My ouers het my nog nooit versmoor nie. Maar ja, ek dink dis tyd om eersdaags my eie plek in Kaapstad te kry. Bloot omdat dit onprakties is om die heeltyd stad toe te moet ry en ek ook so in en uit is.

Beskryf jou persoonlikheid?
’n Algehele ekstrovert wat mal is oor perform. Op skool was ek ’n tamboermeisie, ballerina, folk-danser, pianis en aktrise. Maar ek beskerm my privaatheid en persoonlike lewe. Ek vertrou ander nie maklik nie, want ek was al die teiken van skinderstories en media-spekulasie oor my liefdeslewe. Ek is ook ’n leier. Sommige mense noem dit hardkoppigheid. Ek laat nie toe dat ander hul idees in my keel afdwing nie.

So gepraat van skinderstories . . . Jy en die Springbokrugbyspeler Conrad Jantjes was sewe jaar saam. Wat het gebeur?
Ons het eers ’n langafstandverhouding gehad. (Hy was in Johannesburg, ek in die Kaap.) Toe hy eindelik hierheen trek, het ek besef ons het niks gemeen nie. En dis die hartseer ding. Daar was nie mishandeling of ’n derde persoon nie. Die kollig op albei was ook moeilik . . . Dit het lank geduur om oor dié verhouding te kom. Nou praat ek en hy glad nie met mekaar nie, maar ek lê nie daaroor wakker nie.

Is dit waar dat hy nie daarvan gehou het dat jy so lank neem om gereed te maak om uit te gaan nie?
Nee! Maar ek hou van ’n lang mooimaaksessie. Dis meer as net versorging. Sulke tye versterk my geestelik en is terapeuties.

Jou onlangse verhouding met ’n Amerikaanse nagklubeienaar is ook beëindig?
Ek het nou die kans om te praat, hy het nie . . . Daarom wil ek nie veel sê nie. Ek respekteer hom. Ons is steeds goeie vriende en ons praat gereeld. Hy het immers ’n sielkunde-agtergrond! Hy is dierbaar, maar die verhouding het net nie gewerk nie.’ n Mens weet nooit wat dalk nog kan gebeur nie, maar vir eers is ek enkellopend.

Wat is die mees romantiese ding wat ’n man al vir jou gedoen het?
’n Oorsese sanger (ons is jare lank vriende) het ’n liedjie vir my geskryf. Dit was ’n treffer. Niemand kan my dit ontneem nie. Dis myne en dis privaat.

Wat sal jy doen as jou kind eendag ’n model wil word?
Dis ’n uiters mededingende beroep wat soms met verwerping gepaardgaan. Sy sal ’n sterk mens moet wees. Maar ek sal nie haar droom van haar wegneem nie. En ek sal haar leer om haar unieke self te wees.

Jy is die derde kind en het twee ouer susters en ’n jonger broer. Wat is die mooiste ding wat een van hulle al vir jou gedoen het?
My boetie, Tom-Ross, is baie macho en wys nie sommer liefde nie. (Maar hy beskerm my soos ’n leeu.) Toe ek in die eerste toneel van die Mej. SA-wedstryd op die verhoog kom, het ek glad nie die mense, ligte of kameras gesien nie, net my boetie se trots en sy plakkaat met dié woorde: Tammy for Miss SA!

Die Mej. SA-wedstryd het gebeur terwyl jy B.Comm deur Unisa gestudeer het. Was opskop die regte besluit?
Ek was nie seker wat ek met my lewe wou doen nie. So, ja. Terselfdertyd dink ek studeer is ongelooflik belangrik. Jy kry beter werkgeleenthede,’n blinker toekoms en jy bemagtig jouself. Dalk studeer ek weer eendag.

Wat sê jy as mense hul wenkbroue lig omdat jy ’n onderkleremodel is?
God het my met ’n gesonde liggaam geseën. Ek is trots  daarop. Ek doen niks onwettigs of aanstootlik nie. Dis my werk om verleidelik te wees en sodoende ’n produk te verkoop. My ouers ondersteun my ook. My pa het hom eendag doodgeskrik vir ’n lewensgroot plakkaat van my in onderklere in Woolworths. Hy het vir ma gesê: Dis pragtig, maar sy’t dan nie klere aan nie!

Wat doen jy as ’n man jou op ’n lelike manier probeer ‘optel’?
Daar is skoolseuns wat sê: “You’re so hot.” Hulle maak egter nie obsene voorstelle nie. Ek dink mans kan sien ek handhaaf ’n goeie balans tussen die sexy model en die ernstige TV-aanbieder. Daarby is ek nie op my mond geval nie en kan ek ’n man kýk!

Het modelwerk jou laat groei?
Beslis. Ek reis baie en dit verbreed my perspektief. Ek leer van ander lande en hul mense. Daarby is ek nou ’n veel wyser sakevrou. Ek hanteer my eie sake, soos finansies, kontrakte en beleggings.

Hoe belangrik is spiritualiteit vir jou?
Elke mens moet glo in iets wat groter is as jyself. In my geval is dit God. Ek is nie happy clappy nie, maar sonder geloof sal ek verlore wees. Ek kan my lewe nie alleen lei nie.

Jy is ’n vennoot in Homebrew Films wat Roer! vervaardig. Het jy al self ’n program gemaak?
Ek maak tans ’n opvoedkundige program oor die geskiedenis van ons land. Ek mag nie eintlik meer sê nie, behalwe dat dit in 2009 uitgesaai sal word.

Jy kon nie kook toe jy die Roer!-oudisie geslaag het nie?
In die oudisie moes ek ’n blikkie voor die kamera oopmaak. Toe besef ek: O, gaats, dis ’n kosprogram! Maar ek dink daar’s baie vroue wat met my kan identifiseer. Ek kook al beter. Roer! is in elk geval eerder ’n leefstyl as ’n kosprogram.

Hoe hanteer jy stres?
Ek bid, vra myself af of die probleem regtig die moeite werd is om oor te stres; ek hanteer die probleem; gesels met my ma en gaan vir ’n gesigbehandeling of massering.

Mense hou jou dop. Rafel jy soms uit?
Net by ware vriende, want ek is tog ’n rolmodel. Ek hou van kuiers in restaurante met goeie kos, wyn en lekker nostalgiese musiek. En dan kan dit laat raak.

Hoe weet jy jou vriende is nie net vriende omdat jy bekend is nie?
Ek is nogal genadeloos. Wanneer iemand my vertroue skend, sal ons daaroor praat en kan ek vergewe. Maar as dit weer gebeur, rou ek en beweeg aan.

Hoe lyk jy wanneer jy soggens opstaan?
Skrikwekkend. My oë is geswel en my hare staan in alle rigtings. Eers ná my tweede koppie koffie begin ek moontlikhede sien. Daar’s ook dae wanneer ek onseker voel en nie aangestaar wil word. Maar dan dink ek aan als wat ek het om voor dankbaar te wees.

Wat sou jy aan jouself wou verander?
Ek is 1,73 meter lank, maar sal graag langer wou wees. Statig, soos ’n standbeeld.

Gaan jy gereeld op ’n dieet?
Glad nie. Dit maak my miserabel. Ek eet als, maar matig. Ek’s mal oor rooivleis en aartappels, brownies en sjokoladekoek. Ek is ook alte bewus van anoreksie en bulimie. Ek glo in myself, daarom sal ek nie my vinger in my keel druk nie. Boonop dink ek ’n vrou moet borste en rondings hê.

Wanneer sal jy ophou modelwerk doen?
Wanneer dit my nie meer stimuleer nie, ek te veel karakterlyne (nie plooie nie!) het en nie meer my gewig van 55 kg kan behou nie.

Sal jy ooit plastiese chirurgie oorweeg?
Hoekom nie? Elke vrou het die reg om mooi te lyk. Maar ek glo nie ek sal dit loop en verkondig nie.

Toekomsplanne?
Ek wil meer leefstylprogramme vir TV maak, meer reis en dalk ’n aktrise word. Ek wil ook eendag trou en kinders hê, maar kinders is ’n groot verantwoordelikheid en ek is nog effe selfsugtig. Ek sal soek tot ek die man kry wat tuis is in sy eie vel. Hy moet my werk verstaan en lojaal en betroubaar wees. As ek hom nie vind nie, sal ek nie trou nie.

*** Tammy-Anne gee my ’n drukkie, skud haar dik bos hare en klim in haar pikswart BMW Z4 (’n sportmodel). Sy lyk soos ’n model in ’n motoradvertensie. Maar, dis haar léwe die. Sy lag weer, waai ’n soen en blaas die toeter. Nes ’n ou vriendin. Een wat die woord aanstellerig nie ken nie.