EK HOOP

om as aktrise te groei. Dis my eerste liefde. Ek wil meer werk in Afrikaans doen. Ek wil ook weer sing. Ek was agtergrond-sangeres vir die band Bok van Blerk en die Mossies, en het dit baie geniet.

ek kan leer om alleen te wees en nie te voel ek het iemand nodig om my heel te maak nie, dat ek sal besef ek maak myself heel.

om my sakesin op te skerp. Die vermaaklikheidsbedryf is onvoorspelbaar, veral as jy ’n aktrise is. Jy moet met jou geld kan werk.

om vanjaar die Tanya van Graan Stigting van Hoop op dreef te kry. Ons wil geld insamel en dit in die breër gemeenskap terugploeg - enige plek waar ’n behoefte is, en probeer om die publiek betrokke te kry.

EK IS BANG

vir die tye waarin ons leef, eintlik maak dit my eerder hartseer. Iemand sê vandag hy’s lief vir jou óf hy’s moeg vir jou - per SMS. Dis asof alles waarde verloor het. Liefde het in lus ontaard, geld het belangriker as familie geword. Ek smag na die tyd toe dinge stadiger gebeur het.

. . . ek was bang vir die onbekende, maar nie meer nie. Die onbekende kan vreesaanjaend wees. Jy glo in jou doelwitte, maar jy wonder of jy dit gaan bereik. Ek het besef ek hoef nie dié vrees te hê nie. As iets moet gebeur, sál dit. En as dit nie gebeur nie, sal iets anders gebeur. As jy bang is, weerhou jy jou moontlik van wonderlike ervarings.

WAT EK GELEER HET

As ek nie gelukkig is nie, gaan ek niemand anders gelukkig kan maak nie. As kind was ek ’n pokkel en kinders het my gespot. Ek het agtergekom as ek vir mense “gee”, gaan hulle van my hou. Ek kies altyd verhoudings waar ek kan gee en niks hoef terug te kry nie. Ek het altyd gedink dis verkeerd om tyd aan myself te bestee. Ek moet leer om na myself om te sien.

Jy moet nooit spyt wees oor enigiets wat jy gedoen het nie, maar jy moet erken as jy ’n fout gemaak het, al is dit pynlik. Dis goed om pyn te ervaar. Jy groei nie as jy gelukkig is nie.

Bekendheid gaan nie daaroor om vir mense te wys hoe perfek jy is nie. Mense wil nie die volmaakte meisie sien nie. Hulle wil met jou kan identifiseer. Hulle wil sien jy is ook iemand wat moeilike tye beleef. Mense kry respek vir jou as hulle sien hoe jy die lewe se uitdagings hanteer.

My voorkoms het my gebring waar ek vandag is, maar ek sien nie die waarde daarvan nie, want dit kan binne ’n dag weggeneem word. Mense wat rondloop en dink hulle is belangrik omdat hulle mooi is . . . dis so leeg. Daar moet meer in jou lewe as voorkoms wees.

Ek glo jy moet werk vir wat jy wil hê. Niks in my lewe het maklik gekom nie. Ek het tyd en geld opgeoffer deur sekere dinge sonder betaling te doen. Jy kan nie waardering vir iets hê as jy nie hard daarvoor gewerk het nie.

Bly nederig en wees bewus daarvan dat jy nooit ophou leer nie. Jy moet soos ’n spons wees wat alles absorbeer. Moet nooit dink jy is nou dáár nie, want jy is nie. Jy gaan nooit dáár wees nie.

Wanneer jy emosioneel gedreineer is, eis dit sy tol op jou liggaam. Verlede jaar was daar stories in die media dat ek te maer is. Ek was in ’n verhouding waarin ek ongelukkig was. Ek was gedreineer. Jou siel, hart en kop moet gesond wees om te kan aangaan. En jou lyf is soos ’n motor wat petrol nodig het om aan die gang te bly.

Mense gaan jou oordeel, ongeag wat. Baie mense sien my net as ’n “modelletjie”, maar ek gáán groei en goed doen, nie net as model nie. Die element van verrassing kan ’n groot impak hê. As mense ’n sekere idee het van wie jy is, kan jy hulle maklik verras.