“Suid-Afrikaners is hardegat en koppig. Ons hou nie daarvan dat mense ons afskryf nie. Ons het dit weer eens gesien met die Wêreldbekerrugby.”

Tim hóú van dié gesindheid. Afrikaanse rolprentmakers het ’n stryd, gee hy toe, maar anders as wat mense dink, tel Afrikaans in ons guns.

“Dit is asof Afrikaners honger is vir goeie produkte en dit graag ondersteun.”

As rolprentmaker is sy grootste uitdagings: die produk moet ’n kreatiewe én sake-sukses wees. “Ons beginpunt is om genoeg geld te kry om dit te maak en aan kreatiewe bemarkingsidees te dink. Mense gaan nie na ’n rolprent kyk as hulle nie genoeg daarvan weet nie. Een van Griekwastad se kommersiële troefkaarte was om die internasionale Suid-Afrikaanse ster Arnold Vosloo uit Hollywood vir die hoofrol te kry.

“kykNET ondersteun Afrikaanse rolprente regtig goed en maak soveel dinge moontlik, maar hulle het net ’n beperkte hoeveelheid geld en jy ding mee met filmmakers wat puik produkte lewer. Onthou, ons vergelyk onsself met die bestes in Europa en Amerika, met reuse-begrotings. Ten spyte van ons kleiner beursies, vaar ons uitstekend.”

Klein begrotings verg kopkrap. Met die skiet van Griekwastad was hulle dikwels beperk tot een omgewing. “Ons stories is dus nie so ‘groot’ soos dit kan wees nie, maar al dié frustrasies stimuleer kreatiwiteit. Mense werk al hoe harder om stories te laat gebeur, nuwe genres te probeer en storielyne uit te dink.”

Tim maak flieks, want dit is sy lewe.

“Ek wil nie huise verkoop of polisse uitskryf nie, al sal ek meer geld verdien. Ons sal ons koppe moet oopmaak, leer om saam te werk met die buiteland. Ons is reeds gewoond aan Hollywood en Bollywood wat rolprente hier kom skiet omdat dit so goedkoop is. Nou moet ons buitelandse geld gebruik om óns stories te vertel. As ons akteurs een keer per jaar die geleentheid kry om te speel in groot internasionale produksies wat plaaslik gemaak word, kan hulle tot R600 000 verdien. Dit maak dit vir hulle makliker om vir die kleiner plaaslike produksies ja te sê, sonder dat hulle die hele tyd wonder waar hul brood en botter vandaan gaan kom. Ons moet daardie soort balans in Suid-Afrika probeer kry.

“Deon Meyer se televisie-reeks Trackers het internasionale hulp gekry. Dit is die tipe samewerking wat al hoe meer sal moet gebeur.”