Talentvolle Tinarie. Daaroor is géén twyfel, sy het hope toekennings wat daar(v)oor kan spog. Sy is gevestig, geliefd en gerespekteerd as aktrise op die verhoog, met verskeie bekroonde produksies, soos die onlangse Valsrivier, wat pronk op haar CV. Op die silwerdoek en kleinkassie is sy ook bekend, dink maar aan die gewilde kykNET-reeks Fynskrif, uit die pen van Louis Pretorius en Albert Snyman.

En nóú is sy die regisseur van hul opwindende nuwe kykNET-drama Kompleks. Elke episode sal 30 minute duur. Dis een van vele kortformaat-reekse wat kykNET-beplan om uit te rol.

Tinarie is opgewonde vir die nuwe rigting.

“Die nuwe formaat vir ’n drama bewys net weereens dat TV-kanale wil eksperimenteer met inhoud.”

Vir die ster is dit noodsaaklik om onoophoudelik te innoveer en te verander. “Ons moet herskep. Konstante verandering is onvermydelik, kyk net na ons wêreld ... dit verander. En so verander ons ook. Dit is opwindend om te sien hoe TV homself herontdek.”

Kompleks, ’n woordspeling, gaan oor twee tieners se wel en wee. Terselfdetyd gaan dit oor die impak van hoe ons besluite ons lewe verander. Dit handel oor die komplekse tyd van menswees. Die verhaal speel letterlik in ’n kompleks af.

“As akteurs kry ons meer geleentheid om in hierdie komplekse tyd ons eie psige te besoek en te ontdek,” verduidelik sy. Akteurs werk juis met die psige van die mens. Juis daaroor was Tinarie die perfekte keuse om die regie van Kompleks te behartig. 

“Ek is obsessief met die heelal,” bieg sy. “Wanneer ek kyk na die hemel opkyk en sy skoonheid, grootheid en chaos bewonder, kry ek vrede. Daar is die mooiste dialoog in Kompleks. Die hoofkarakter, gespeel deur Arthur Falco, sê in een toneel: ‘Daar is meer atome in ons lyf as wat daar sterre in die hemel is.’ Ons weet net so min van ons eie psige af, as wat ons die heelal werklik verstaan.”

2020 het die wêreld tot stilstand gedwing, só ook is teaterproduksies en feeste op ys geplaas. Hierdie los Tinarie uiteraard sonder broodnodige werk. “Ek het besef dinge is besig om te gebeur, die wêreld verander. As verhoogakteur is jy gewoond daaraan om ’n applous te kry vir die werk wat jy sopas gelewer het. Dit is waaraan ons gewoond is. En skielik saam met die teaters wat toe is ... is dit ook weg. Jou selfbeeld word in die duister gelos.”

Maar net toe die stilte ondraaglik raak, klop ’n nuwe avontuur aan haar voordeur: Regie van ’n TV-reeks.

“Dis ’n nuwe ervaring en geleentheid wat ek gekry het. Om die regie te kon doen was net wat ek nodig gehad het. Dis verfrissend.”

Haar liggaam en siel is gevul met dankbaarheid, juis oor sy weet hoe swaar almal kry en hoe skaars werk is.

Wat lê nog als voor vir talentvolle Tinarie? Vir nou sit sy rustig in haar huis op die pragtige Riebeek-Kasteel. “My kat sit op my skoot. Ek het pas die hoenders kosgegee. Die tuin is vars ná die reën en die blomme lewe. Dis op sulke tye wat ek dink daar is nie iets anders wat ek met my lewe wil doen nie. Ek wil net hier sit en kyk na al die wonders om my.” 

Netso, Tinarie. Netso.