EK HOOP

my gemoed sal stiller raak. Die oomblik as ek stilsit, maal my kop. Een keer toe ek in ’n groep gemediteer het, het ’n halfuur soos ’n oomblik gevoel. Ek het dít nooit weer beleef nie.

om die oomblik te ervaar en nie te wens vir iets beters nie. Ek het ’n rukkie terug ’n mooi aanhaling gelees, iets soos: “To look for anything special outside of everyday activities is like brushing away the waves to look for water.” Ek glo jy kan godheid in jou alledaagse lewe vind. Jy moet net kies om dit te beleef.

nie meer vir grootse rolle nie. Toe ek jonger was, het ek gehoop ek gaan in Shakespeare se King Lear speel. Ek het nie deesdae ’n vreeslike behoefte aan so iets nie. Ek het geleer om die werk wat ek kry te aanvaar en te waardeer.

die regering bestee meer geld aan opvoeding. My peetkind, Refilwe, sê sy moet nou net 30% vir haar vakke kry om deur te kom. Opvoeding moenie makliker gemaak word vir kinders nie; onderwysers moet eerder harder werk om kinders ’n goeie opvoeding te gee.

ek kom deur al die pantomime-optredes!

EK IS BANG

vir spinnekoppe, altans ek wás. Ek het dié vrees by my ma gekry. Sy het histeries geword as sy een sien. Ek het besef dis sommer nonsens. Nou’s ek vriende met hulle. Daar’s ’n paar in my stort, maar ek voel ’n bietjie ongemaklik as ek voor hulle moet uittrek.

vir mislukking. Nou nog. Ek begin áltyd met ’n negatiewe gemoed as ek ’n nuwe rol kry. Ek moet hard werk om myself te oortuig ek kan dit doen. My grootste vrees is dat ek nie al my woorde onthou nie.

ek moet al hoe rustiger rolle speel omdat ek ouer raak. Ek beweeg nie meer so maklik nie. Dis jammer, want die soort komedie wat ek doen, was nog altyd fisiek.

nee, nie vir die dood nie, maar vir dít wat in die lewe agterbly. Ek is ’n opgaarder en glo aan herwinning. My huis is baie deurmekaar. Alles wat ek kry, bêre ek, want ek kan dit weer gebruik. Ek dink dit weerspieël wat in my kop aangaan. Daar’s baie dinge in my kop wat ek nie kan laat gaan nie.

WAT EK GELEER HET

Kersfees gaan oor eenvoud. My gunsteling-Kersherinnering is vakansie as kind saam met my gesin aan die Natalse Suidkus. My ma het ’n groot blik growwemeel-beskuit saamgevat en ons het dit saam met tee en kondensmelk geëet. Ons het op die stoep gesit en oor die see uitgekyk. Dit was spesiaal.

Die dinge waarvoor ek die bangste was, is my lewe se hoogtepunte. Alles wat nuut en uitdagend is, is die moeite werd, want dit dwing jou uit jou gemaksone. My negatiewe ervaringe was gewoonlik ’n trappie na iets positiefs en opwindends.

Jy moenie weghardloop van hartseer nie. Maak vrede daarmee. My lewensmaat, William Pretorius, is meer as ’n jaar gelede oorlede. Ek wens soms nog dat dit nie gebeur het nie, maar ek voel dit was nie verkeerd dat hy gesterf het nie. Dit moes gebeur.

Wanneer jy jou horisonne verbreed, gaan dit soms gepaard met depressie en lyding. Toe ek op ’n tyd depressief was, het die akteur Clive Scott vir my gesê ’n mens stel in jou onderbewuste vir jouself grense. Wanneer jy psigies ontwikkel, word die spasie binne daardie grense te klein. Om deur hulle te breek is pynlik, maar dis nodig om weer vry te voel. Sy woorde het my baie gehelp.

Net deur ander mense gelukkig te maak is ék gelukkig. Hoe kan ek gelukkig wees as die mense om my nie is nie? Ek is ook gelukkig as ek ontspanne is op die verhoog. Dit gebeur nie baie nie, maar soms geniet ek my gate uit en lag uit my maag uit.