Die groep is maar nog net ’n jaar aan die gang, maar dié meisies het al 4 SAMA-toekennings, 3 top-liedjies, en 1 debuut-album agter hulle naam. Hulle het ook al in die voor-vertoning by groot konserte opgetree soos by die legendariese Britse groep Mike + The Mechanics, die Italiaanse sanger Patrizio Buanne en die Britse groep Jamiroquai. Die groep bestaan uit Tarryn Lamb, wat die hoofsanger, liedjieskrywer en kitaarspeler is, haar niggie en sangeres Tamsyn Maker, en SAMA-bekroonde sangeres Axene. Hul interessante naam is geïnspireer deur die ikoniese liedjie "Blackbird" wat Paul McCartney geskryf het.

SARIE.com het die drie talentvolle skoonhede beter leer ken

Blackbyrd FOTO: Tamsyn, Tarryn en Axene

Julle het in 2012 met BlackByrd begin en baie vinnig baie sukses behaal. Wat is jul geheim? Tarryn: Ek weet nie wat die geheim is nie, maar elke dag leer ek dat jy met harde werk, dissipline en toewyding enigiets kan bereik. Wat hou die toekoms vir BlackByrd in? Tarryn: Nóg musiek uit ons hart. Ons is baie gelukkig dat mense van ons styl hou, so ons gaan net daarmee aanhou. Ons volgende album behoort volgende jaar September op die rakke te wees. Waar kom die inspirasie vir jul musiek vandaan? Tarryn: Dit kom uit my eie ervarings en verhoudings met mense in my eie lewe. Ek word geïnspireer deur sanger-liedjieskrywers soos Adele, Emeli Sandé en Laurika Rauch.

Blackbyrd FOTO: Tamsyn, Tarryn en Axene

Waar kom jou liefde vir musiek vandaan? Tamsyn: Ek het nog altyd van musiek gehou en geniet dit om myself deur musiek uit te druk - dít is my sielskos. Tarryn: Ek het grootgeword in ’n gesin wat baie van musiek hou, dit was nog altyd ’n belangrike deel van my lewe. Axene: Ek kom uit ’n musikale familie - my ma het vir my ACDC pleks van kinderrympies gespeel! Beskryf julle musiek in een woord Tamsyn: Sonder pretensie Tarryn: Waarheid Axene: Eerlikheid Wat is jou persoonlike styl? Tamsyn: Sjiek en speels. Tarryn: Die gewone meisie gemeng met Kardashian-styl. Axene: Ek is die rocker van die groep. Ek hou van gemaklike rocker–styl soos Hayley Williams (van die rock-groep Paramore).

FOTO: Tamsyn, Tarryn en Axene FOTO: Tamsyn, Tarryn en Axene

Luister hier na hul gewilde liedjie “All For Me” Dié liedjie word deesdae gespeel op al wat ’n radiostasie is. Dit is deur Highveld 94.7 en Kfm 94.5 as die top-SA-liedjie van 2012 aangewys, en is ook verlede jaar in die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtog gebruik. Hul liedjie “I Feel Good Today” is die oggendjoernaalprogram Expresso se tema-lied. Luister hier na “From the Bottom of My Heart” en “Keep On”. (Klik op die liedjie se naam om daarna te luister.)