Jy bly in Pretoria, jy’t op Tukkies geswot, was aanbieder van Tuks FM, nou van Jacaranda 94.2 en jyhou van rugby. Ek neem aan jy is 'n Blou Bul?
Natuurlik!

Het jy ook ’n rok wat van Blou Bul-vlae gemaak is?
Ha-ha-ha, nee, maar ek het ’n Blou Bul-trui! En as ek ’n kans kry, gaan ek Loftus toe.

Sit jy dan in ’n losie?
Ja.

Ek wou dit nog altyd graag doen. Is dit lekker?
Ja, baie. Jy kan eendag saamkom.

Regtig? Dankie.
Dis ’n date!

Jy is ook ’n omroeper, nè?
Ja, op Martin Bester Drive en ook Sondagaande van agt tot twaalf.

O, ek sal nie kan luister nie, want ek luister dan na Kate Turkington op 702.
Wat? Niks se ge-702 met jou nie! Dan kan jy daai losiekaartjie op jou maag skryf.

Hou jy van geskeurde jeans?

Hoekom vra jy dit? Is dié jeans nou weer nie reg nie? Ag wat, jy sal my darem nie op Toks ’n Tjops daarmee vang nie. Ons word geborg.

Daar is darem baie mans op Toks ’n Tjops.
Ha-ha, ja, daar is baie testosteroon. Maar hulle het my onder hul vlerk geneem en ek hou hulle op hul plek.