Ek praat baie en vertel silly jokes, volgens party mense. Maar eintlik is ek net die stil Afrikaanse meisie in die hoek wat jou wil laat glimlag.”

Dis hoe Tracey Lange haarself op haar en “boyfriend” Avukile Mabombo se reisblog, Travul Diary, beskryf. Stil meisie in die hoek? Regtig? Jy kan haar baie dinge noem. Aarts-optimis, heel bo-aan die lysie. Stap sy ’n winkel binne, sien sy eenvoudig nie die swart klere raak nie. Daardie donker wolkie het nie ’n silwer randjie nie, sy kyk hom heeltemal mis. Só positief is sy, dit irriteer sommige mense. Hulle dink dalk dis aangeplak, reken sy.

“Charming, charming, charming!” ’n Vrou in Frankryk in gebroke Engels aan haar. Altyd is daar iemand wanneer sy reis wat aanbied om haar tas te dra, selfs in lande wat as lekker ongeskik bekend is. ’n Dartelende vlinder, ’n beeld wat versterk word deur haar liefde vir kleurryke rokke wat sag na benede tuimel. Haar maklike lag. Maar ene met oemf, hoor. 

Sy’s ’n harde werker, ’n vasbyter, wat van nêrens gekom het en ’n plek in die TV- en radiowêreld uitgekerf het. Neem haar gesig weg van kykNET se glansprogram Bravo! en dis nie meer dieselfde program nie. Haar oggendgleuf op Heart FM het die meeste luisteraars van alle radioprogramme in die Wes-Kaap. En dis nie eens spitstye op die lug nie. Sy het intussen bedank en begin in Julie waarskynlik by ’n ander radiostasie werk.

As aanbieder van Dancing with the Stars op M-Net, kry sy boonop blootstelling aan ’n groter, ook Engelstalige gehoor. Tracey was ’n bietjie skrikkerig, maar wen harte met haar empatie en warmte. Nie dat sy net daarop staatmaak nie: Twee maande vooraf toe ken sy reeds deelnemers se besonderhede, interessante feite oor elkeen, uit haar kop. Dieselfde doelgerigtheid waarmee sy aan die begin van die week elke dag se sosialemedia-insette vooruitbeplan. Want heeldag foon in die hand sit, nee. “Dit wat jy daar sien, kan nie die plek inneem van sit en gesels nie.”

Praat, stil wees, dié twee klaarblyklike teenpole versoen sy maklik. Haar huis is haar stil plek. Avu, sy “Boyfriend” hom en hy “Girlfriend” háár, is dieselfde. Lekker gesels, maar ewe tuis met stilte. Small talk, dís vir haar moeilik. “Jy hoef nie te praat net om die stilte vol te maak nie, dis oukei.”

Saam met Chris Jaftha, mede-aanbieder van 'Dancing with the Stars'

Haar verhouding met haar TV-“mans” is net so ongekompliseerd. Chris Jaftha, mede-aanbieder van Dancing with the Stars, is soos ’n boetie. “Ons het mekaar dadelik gevind.” Met Robbie Kruse van Bravo! werk sy reeds sowat ses jaar saam. “Hy is net so gemaklik met homself.” 

Maar dan, onse Tracey glo sy is positief gebore. Sekerlik het haar omgewing ook ’n rol gespeel. Haar ouers is gelukkige mense wat altyd die blink kant raaksien. “En hulle het nie maklike kinderjare gehad nie, hoor. Dan moes jy mos êrens langs die pad vir jouself gesê het: Ek gaan ’n verskil maak. 

Na die goeie dinge in die lewe kyk en net deurdruk.” Tracey is altyd bereid om mense die voordeel van die twyfel te gee. Want goeie mense, hulle is in die meerderheid. “Ek sê eenkeer vir iemand ek’s nie ’n goeie beoordelaar van karakter nie, en hy antwoord, ‘nee jy is, maar jy gee mense tweede en derde kanse’. Ek verkies om die beste van mense te glo. Soms is dit moeiliker. Soms moet jy net besluit solank iemand nie deel van jou binnekring is nie, is dit oukei. Maar ek sukkel met moeilike en onbeskofte mense. O, dis vir my erg. Dit krap aan my. Avu, jy kan maar onbeskof wees en skreeu, hy bly rustig en kalm. Water van ’n eend se rug.” Avu met sy onverstoorbare houding, sy leer so met verdrag by hom.

By ’n vorige werkplek het ’n getroude man haar lewe met onwelkome aandag versuur. Hoe sy dit nou sal hanteer? Hom trompop loop. “‘Hoe durf jy so met my praat, wie dink jy is jy?’ Nou die dag ry ’n man in ’n trok verby en fluit. Hy moet by die verkeerslig stop en ek stap soontoe. ‘Nou staan ek hier en wat nou? Dis nie ’n kompliment as jy vir my fluit nie. 

Het jy ’n vrou en dogters? Hoe voel hulle as hulle straataf loop en iemand doen dit? Basta!’ My kollega by my huil van die lag. Sy sê die grote man het hom asvaal geskrik. Dit gaan oor mag . . . en ek’t myne teruggeneem.” 

Feminisme, sê Tracey, het te doen met ’n keuse. Jare gelede het vroue dit nie gehad nie. As jy nou besluit om tuisteskepper te wees, of nie, dis jou keuse. Jy het die vryheid om te doen wat jy wil.

Maar ons moet nou ook nie die dam onder die eend uitruk nie. “Nou die dag het ek ’n helder top aan. ’n Kollega kom verby en sê: ‘You look gorgeous today.’ Vyf minute later kom hy na my toe: ‘Ek wil verskoning maak, het ek verkeerd opgetree?’ En ek: ‘Vir wat?’” Waar trek jy die streep? Jy wéét net.

Sy het vir seker ook haar af dae. Wanneer sy snot en trane huil en dit voel asof die wêreld en sy maat teen haar is. “Kyk, ek gee myself altyd ’n afsnypunt. Tot hiertoe, van môre af gaan ek net die beste raaksien. Dan moet jy deurdruk. As jy wil huil, nee! Toe ’n vorige lang verhouding eindig, het ek myself minstens ’n maand gegee om al die emosies daarom te vóél. Probeer jy gevoelens in die doofpot sit, lees jy maande daarna ’n hartseer boek en huil dae aaneen. Maar iewers moet jy ’n perk stel. Negatiewe emosies kan verslawend wees.”

Sy is Kaaps in murg en been, maar ook ’n wêreldburger met ’n kielie vir Europa. Boedapest, Praag, België, Amsterdam . . . daarheen sal sy met ’n vingerklap verhuis. Sy vind Europese mense vriendelik, selfs die korrekte Duitsers. Die feit dat alles altyd daar werk, laat die perfeksionis in haar spin. Sy kan tienuur saans op ’n trein spring en dis veilig. Watter vryheid.

Maar nou is sy versot op ’n Xhosa met dreadlocks en ’n voorliefde vir bont sokkies. Geel met pienk kolle, ditsem! ’n Boorling van die Oos-Kaap wat met ’n Oxford-aksent Engels praat. Hy is passievol oor Suid-Afrika, voel daar is baie wat reggemaak, gebou moet word. Buiteland toe sal hy nooit verkas nie. As dit ooit by daardie punt kom, sy seker ook nie, erken sy. Wye arms, so omhels sy die lewe. Natasha Bedingfield se liedjie “Unwritten” met die lekker beat, dis hoe sy soggens wakker skrik.

Feel the rain on your skin

No one else can feel it for you

Only you can let it in 

DÍT LAAT MY DANS

AVU

Ons kan sommer net kinderlike pret saam hê. Lê met suigstokkies op die bank. Springmielies eet. So eenvoudig soos dit. Kinderlike pret hê, maar ook lekker volwasse gesprekke voer. 

MY WERK

Vanjaar het ek met die gedagte gespeel om radio te los. My ouers, Theresa en Colin, het gesê: “Onthou net hoekom jy radio gekies het.” Ek werk met ander mense se stories, gee vir hulle ’n stem, die geleentheid om dit te deel. Ek praat nie oor myself op die lug nie. Wie gee om as iemand vanoggend voor my ingery het? Ander mense se inspirerende stories, dís hoekom my program so goed doen. 

MY VRIENDE

Ek is altyd oop vir nuwes, maar het ook jare lange vriendskappe. Daar is vier van ons wat na aan mekaar is, almal besig. As ons mekaar die week nie gesien het nie, sal een bel: “Gaan gou saam SPAR toe om suurlemoene te koop.” Dan spring ons in haar kar, dis die snaaksste ding! Ry net winkel toe en terug. Ek ken dit nie, ek’s nie ’n winkelmens nie. Avu koop die kos, kook. Ek sorg net vir die skoonmaakmiddels. [Sy’t ’n passie vir skoonmaak.]

Life is good with my girls! ??@roxannev_eyslend @shoequeenannie @cindy_witten

A post shared by Tracey Lange (@traceylange) on

MY OUERS

Iemand sê eendag my ouers se liefde is onvoorwaardelik, daarom dat ek sonder enige veroordeling na ander mense kyk. As ek ’n fout maak, sal my ma egter sê: “Jy’s groot, gaan maak reg.” Op skool het ek eendag ’n handboek by die huis vergeet en my ma gevra om ’n briefie vir die onderwyser te skryf. Ek’t nooit goed vergeet nie, ek was bietjie van ’n nerd. Sy het geweier. “Dis ’n fout, leer daaruit.”

REIS

In Parys, Frankryk, gaan jy op ’n boot onderdeur ’n brug en dis in 1450 gebou. In perspektief: Van Riebeeck het in 1652 hier aangekom. Hier is plek vir groei in Suid-Afrika. Reis ek plaaslik, laat dit my glo in die goedheid van mense. Jy kom op Paternoster en almal is vriendelik, almal kom met almal oor die weg. (Daar veral, ja. Rêrig!)

GODSDIENS

Ek sal nie vir jou ’n Bybelversie kan gee nie. Ek’s hopeloos daarmee en sal makliker kan sê wat in SARIE staan! Maar ek kan my ervarings met jou deel en dit beteken dalk meer vir jou, die feit dat God nou nog hier is. Jongmense vra hoekom ek steeds so plat op die aarde is. My grondslag is sterk. Die oomblik dat ek te veel van myself begin dink, gaan Hy my terug op my knieë dwing. 

AFRIKAANS

Ons gaan nie die stigma om Afrikaans afbreek deur op Twitter te baklei wie se taal dit is nie. Die beste manier om dit te doen is deur dit te leef, pret te hê in Afrikaans.


Produksie:

DEUR LYDIA VAN DER MERWE

FOTO’S MARIJKE WILLEMS

KONSEP EN STILERING FANIE CRONJÉ

GRIMERING ALEX BOTHA MET DERMALOGICA

HARE KELLY-JEAN GILBERT MET GRAFTOBIAN