Haar hart behoort reeds die afgelope vyf jaar aan Avukile Mabomb, die aantreklike man met die kop vir besigheid en hart vir avontuur, wat haar deur dik en dun bystaan. Haar konstante, haar reisgenoot, die een saam met wie sy die graagste nuwe dinge aanpak.

Bemindes en reisgenote. FOTO Instagram / Tracey Lange

Nou het Avu, soos sy hom noem, haar vir hul grootste avontuur nóg genooi: om met hom te trou. En Tracey Lange, gewilde TV-aanbieder en radio-omroeper, se antwoord? ’n Ja sonder enige twyfel!

Die groot oomblik was by hul huis, haar en Avu se stil plek. “’n Persoonlike sjef het vir ons die heerlikste ontbyt gemaak,” vertel Tracey vir SARIE.com. “Hy het my gevra op dieselfde dag wat ons sewe jaar gelede ontmoet het.”

Saam het hulle al die wêreld gesien, met stede soos Parys, Istanboel, New York, Amsterdam, Rio de Janeiro en Boedapest wat ewig opgeslaan in hul geheuebanke is.

Tracey en Avu op een van hul vele avonture wat hulle as die Travul Diary doop. FOTO Instagram / Avukile Mabombo

Oor Avu het Tracey in SARIE se April 2018-uitgawe, toe sy ook op die voorblad was, gesê:

“Ons kan sommer net kinderlike pret saam hê. Lê met suigstokkies op die bank. Springmielies eet. So eenvoudig soos dit. Kinderlike pret hê, maar ook lekker volwasse gesprekke voer.”

Nes Tracey het hy hoop vir Suid-Afrika. “Hy is passievol oor ons land, voel daar is baie wat reggemaak, gebou moet word.”

Baie geluk, Tracey en Avu!

Lees ook 

James Alexander: ‘Los Angeles vir nou huis ...’

Dié item is perfek vir jou lente-kas

Voorbladgesig se Vinishia: ‘Dis iets groters as ek’