* Die KKNK word weer van 2 – 9 April op Oudtshoorn gehou. “Ons sal al hoe meer samewerking en interaksie tussen die verskillende kunsvorme sien, soos produksies waarin dans en musiek, woordkuns en toneel, asook die visuele kunste gekombineer word,” sê Theo Kemp, programbestuuder. * “Die kunste is op ’n baie lekker plek,” sê Andries Vrey, uitvoerende hoof van die Aardklop-kunstefees (4 – 8 Oktober op Potchefstroom). Hy beloof goeie toneelstukke en kabarette waarmee gehore sal kan identifiseer. Ook dalk ’n Afrikaanse musiekblyspel, soos ’n eie Mamma Mia!, asook crossover-produksies,
soos wat Theo hierbo beskryf. “Ek dink dit sal fantasties wees om die Meduma Jazz Fountain (Aardklop se pronk-jazz-groep) op die verhoog te sien saam met een van die grootste name in Afrikaanse musiek.”

Moet ook nie die volgende feeste misloop nie

* Suidoosterfees (25 – 30 Januarie) in Kaapstad.
* Woordfees (4 – 13 Maart) op Stellenbosch. Die Spier-konsertreeks word in samewerking met SARIE aangebied. Nianell, Robbie Wessels, Bobby van Jaarsveld en die Soweto Gospel Choir is van die kunstenaars.
* Nasionale Kunstefees (30 Junie – 9 Julie) op Grahamstad.
* Volksbladfees (12 – 17 Julie) in Bloemfontein.

 
Afri-Spaans EN DAN IS DAAR SARIE SE AFRI-SPAANS!
Ons het 2010 met ’n rits pryse afgesluit, onder meer die Pica vir SA Tydskrif van die Jaar. En SARIE het groot planne vir 2011. Ons kan nie alles verklap nie, maar kyk uit vir hierdie een! Ná Afri-Frans se sukses is ons nou die hoofborg vir Afri- Spaans, met die Colombiaanse sangeres Marta Gómez, Steve Hofmeyr, Anna Davel en die kitaar-duo CH2. Dié musiekproduksie, met Afrikaanse liedjies wat in Spaans vertaal is, skop in April by die KKNK op Oudtshoorn af (5 – 9 April). Daarna volg 8 konserte landwyd in April en Mei. Jy kán dit nie mis nie!
Marta Gomez Die Colombiaanse sangeres Marta Gómez – ons sien haar binnekort in SA.
Appel

’N APPEL ’N DAG

April is Wêreldgesondheidsmaand en die mediese wetenskap bly nuwe ontdekkings maak wat vroue kan help om hul gesondheid te bestuur, sê Marí Hudson, Health24 se mediese redakteur. Sy sê ook:

* Baie meer jong vroue sal (voor hulle seksueel aktief raak) die MPV-inspuiting (menslike papilloomvirus) kry. In 99% van gevalle veroorsaak die menslike papilloomvirus servikale kanker. Dié soort kanker is die grootste oorsaak van dood weens kanker op ’n vroeë ouderdom in die Westerse wêreld. In 99% van gevalle kan die inspuiting servikale kanker keer. Dié kankersoort kan dus byna uitgewis word.
* Navorsers het toevallig vasgestel dat ’n spesifieke middel wat vir osteoporose gebruik word, bisfosfonaat, help keer dat sluimerende borskankerselle in beenweefsel (waar die selle eers bietjie rus) verder versprei.
* Die gebruik van die poli-pil sal toeneem. Die poli-pil is ’n enkele pil wat jy vir meer as een chroniese toestand sluk, pleks van twee of drie afsonderlike pille. Voorbeelde is één pil vir twee bloeddrukmiddels saam, ’n enkele pil vir die behandeling van hoë cholesterol en hoë bloeddruk, en ’n enkele pil vir die behandeling van hoë cholesterol, hoë bloeddruk en die voorkoming van beroerte.
* Instap-geneeskunde vir estetiese probleme gaan toeneem. Botox en vullers word reeds oor middagete ingespuit. Nou kan vet ook in ’n daghospitaal uitgesuig word.