* SA se grootste dekorskou, Decorex, is van 5 – 9 Augustus in Johannesburg. (Durban: 18 – 21 Maart en Kaapstad: 29 April – 2 Mei.)

* “Geel is dié dekorkleur vir 2011. Dis vars, kreatief, gloeiend en warm,” sê Anita Rossouw, SARIE se mede-dekorredakteur. “Maar die geheim is om dit net as klein aksente aan te bring.”

* Die lekkerste doen-dit-self dekor-gier van die oomblik is opgradering (upcycling), nie herwinning (recycling) nie, vertel Annemarie Meintjes, assistent-redakteur van Visi. Dit beteken jy gradeer afgeleefde items in jou huis op deur dit in ’n nuwe (skoon/helder) kleur te verf. Ons is klaar met vernis en die verweerde voorkoms, sê Annemarie.

* Breiwerk is in. Meubels kry gebreide los oortreksels en stoele word uit staal “gebrei”. Papier word ingespan om van vrugtebakke tot meubels te maak. En skaapvel is die warmste mode-materiaal – in jou huis en jou klerekas.

* Die gewildste blom vir 2011 is steeds die pioenroos (Paeonie lactiflora). ’n Mens kry hulle net van middel Oktober tot einde November, daarom is daar bruide wat hul hul troue rondom dié blom beplan, sê Kobus Scheepers, hoof: kleinhandel en skakeling van Okasie op Stellenbosch en Hermanus. Dié onderneming spesialiseer in blomkuns en doen ook dekor by troues.

Daar is ook ’n sterk neiging na skoon, sagte en meer klassieke blomme in variasies van wit. Dit skep byna ’n soort bonkige, spontane indruk. Soos onder meer die outydse dahlia, enkel-krisant, ekstragroot anthuriums, groot groen aronskelke, dubbelblaar-pioenrose, die koningsprotea, artisjok-blomme en sint josefslelies. Die blomme word dan kreatief gerangskik in ultra-moderne houers met interessante lyne.

Rose, angeliere en aronskelke word gekweek in nuwe, helder kleure soos dieprooi, skelpienk en heldergeel, asook in tweekleur-variasies.

Dahlia Dahlia – ’n gunsteling-blom in SA. Irma Stern se skilderye met dahlias verkoop juis tussen R4 miljoen en R6 miljoen elk.
Verfkwas ‘Jou liefde is oneindig nes die son se geel geel goud’ uit die gedig ‘Geel sticky note liefde’ deur Frances Nel, 15-jarige van Parys in die Vrystaat, op www.woes.co.za

SARIE WOON is vanaf 2 November op straat en SARIE BRUID vanaf 31 Augustus.