Een van die grootste modeskoue in Suid-Afrika, die Africa Fashion Week, skop dié maand in Johannesburg af. Aan die modefront gaan ons motiewe en nogmaals motiewe sien, sê Lucilla Booyzen, stigter en direkteur van die Suid- Afrikaanse Modeweek.

“Mode is pret. Motiewe word met strepe, blompatrone en effekleure gekombineer.”

2011 is sag en vroulik. “Materiaal is luuks, sag en lig en die fokus is op gemak. Noupassende snitte maak plek vir meer vloeiende en losser snitte en die groot kleure is pienk, oranje en turkoois met titsels skel kleure.”

Die lengte van jou broeke of rompe is óf kort óf tot in die middel van jou kuit. “As jy ’n kortbroek kan dra, koop dit!” sê Lucilla.

Puntskoene is ook terug – met strikkies op, asook manskoene vir vroue.

Skoonheidsproduk

In 2011 gaan skoonheidsprodukte hard moet werk, sê Mariska van Rooyen, SARIE se skoonheidsredakteur. Die resessie het ons nie net geldelik geraak nie, maar ook sielkundig. “Ons soek waarde en wil weet waarvoor ons betaal.

“Daar word wonderlike deurbrake gemaak. Ek glo vroue gaan begin wegbeweeg van prosedures soos Botox omdat skoonheidsprodukte die resultate gaan gee waarna jy soek.”