Vir ’n groot deel van haar loopbaan was die woord “nee” standaard. Maar die blondekop met die treffende groen oë het nie gaan lê nie. Trix Vivier was honger ... vir die kunste, vir stories, vir toneelspeel.

“Daar was eenvoudig nie ’n plan B nie. Ek móés ... ek wóú hierdie loopbaan volg,” vertel Trix aan SARIE.com.

“Met elke ‘nee’ het jy ’n tipe resilience aangeleer. Verwerping was normaal vir my. Dinge het nie vinnig in my loopbaan gebeur nie.”

Bloed, sweet en trane het gevolg, tot op ’n dag.

“Ek het net besef: Jy is nie jou werk nie, ’n rol definieer jou nie. Jy is ’n volkome mens. Ek is Trix ... ek gaan nie myself verander nie. My krag lê in my essensie, in my uniekheid.”

Stadig maar seker het die rolle na haar kant toe begin kom. Toe kry sy ’n hoofrol in die kykNET-dramareeks Waterfront, as die jongste van die drie Myburgh-susters, Kate. Rolanda Marais en Milan Murray was die ander twee.

FOTO Chanel van der Merwe

Sedertdien het Trix haar verskyning gemaak in gewilde sepies soos 7de Laan en Suidooster.

“Ek het hierdie reis nie alleen aangepak nie. My ouers, my gesin en my man was my grootste ondersteuners.”

Eerskomende Dinsdag is sy te sien in die kykNET-gruwelreeks Die Spreeus. “Ek speel ’n spook, ’n interessante ervaring!”

Tydens verfilming van 'Die Spreeus'. FOTO Instagram / Trix Vivier

Die episode is geïnspireer deur die sogenaamde spook van Uniondale, die bekende plaaslike spookstorie wat nou nog die nekhare laat rys.

“Talle van die tonele is in die middernagtelike ure op ’n verlate pad verfilm. Ons almal het kort-kort oor ons skouers geloer. Dit was asof daar ‘iets’ teenwoordig was.”

FOTO Chanel van der Merwe

Trix bieg haar verbeelding werk gereeld oortyd.

“Ek kan nie scary stories kyk nie! Ek het nie die maag daarvoor nie. Daarom kyk ek maar die reeks in die middag, terwyl die son nog helder skyn.”

Haar jonger aktrise-suster, Lea Vivier, was in die eerste twee episodes van Die Spreeus te sien. Die derde suster, Meije, studeer medies.

Trix vertel hul grootwordjare was iets soos ’n toneel uit Louisa May Alcott se klassieke roman Little Women. “Ons het gedans, ons het toneel gespeel, ons het gediggies opgesê. Ons het die klankbaan van Lion King so baie geluister dat die CD in ons CD-speler gebreek het. Ons is kreatief grootgemaak. Dit was ’n goeie tyd.”

Trix en haar aktrise-suster, Lea Vivier. FOTO Instagram / Trix Vivier

Volgende speel sy in ’n internasionale reeks wat op ’n plaaslike skrywer se storie gegrond is.

“Maar meer kan ek nie sê nie!” lag sy.

Saam met wie wil sy graag om ’n koffietafel sit? “Die Amerikaanse aktrise Elizabeth Moss. Sy is ’n veelsydige aktrise. Sy skryf en vervaardig en doen haar eie werk se regie. Dan sal Oprah Winfrey ook aan tafel moet sit. Sy is ’n besonderse vrou. En die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie ... ek het onlangs haar boek Dear Ijeawele, or A Feminist Manifesto in Fifteen Suggestions gelees, daar was ongelooflike insigte in. Natuurlik sal my twee susters ook daar moet wees. Hoewel ek hulle feitlik elke dag sien!”

FOTO Chanel van der Merwe

* Die Spreeus wys elke Dinsdag om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).