Waarna sien jy uit by vanjaar se Aardklop?

Alles. Saamsing met groot name soos Steve, Juanita, Bok, Robbie en vele meer. Ek geniet sulke produksies.

Wat lê nog vir jou voor in 2011 en begin 2012?

Ek en Jay begin eersdaags ons duet-album opneem. Daar is twee nuwe treffers daarop en baie golden oldies.  

Ek is ook te sien in die fliek Platteland wat 25 November landwyd in teaters begin draai.

En later in 2012 gaan ek nog ’n solo-album opneem.

Wat is die doelwitte in jou loopbaan?

Om altyd my bes te doen. En om vir my ondersteuners liedjies te gee waarmee hulle kan identifiseer. Dit moet vir hulle betekenis hê en hul hartseer beter kan maak. As ek dit kan regkry, is my werk gedoen.

Watter optredes is vir jou die heel lekkerste?

Ek hou van enige optrede, van die groot feeste soos Aardklop en die KKNK, tot klein dorpies soos Kameel, en bietjie groter plekke soos Alldays.

Ek is veral mal oor die mense, die Vaaldriehoek se mense, Oos-Rand se mense, Pretoria se mense ... te veel om op te noem!

Jy reis vreeslik baie. Waarvan hou jy die minste op lughawens?

Ek verpes absoluut alles op lughawens! Van die check-in tot die opstyg – om van turbulensie nie te praat nie. Ek hou glad nie van vlieg nie, teen die tyd dat ons land, knaag alles aan my senuwees!

Wat is jou gunsteling-tydverdryf naas sing?

Ek is mal oor stap en fietsry, en ek is ook lief daarvoor om met my Jack Russells, Molly en Jerry, te speel. Ek kyk ook graag rugby op TV.

Maandae is my huisdag. Dan was ek wasgoed, en hou my oog op die TV vir ’n goeie program terwyl ek e-posse moet beantwoord en optredes en onderhoude reël.

Hoeveel vertonings doen jy per jaar?

Ek is bevoorreg om so 2 tot 3 vertonings per maand te doen, waarvan 'n hele paar duet-optredes saam met Jay is.

Wanneer beplan jy en Barry om te trou?

Ons gaan vroeg volgende jaar trou op ’n plaas met ’n kapel in die Vrystaat. Dit is langs die Vaaldam met die mooiste Wilgerbome.