Beneuk pas hom soos ’n handskoen. Daarvoor sorg die diep frons, ’n steengroef op sy voorkop uitgekerf. Broeiende blik onder swaar oogbanke.

Brendon was al minstens vier keer ’n gangster in wroegende stories op die verhoog en silwerdoek. Selfs as die goeie ou, Luitenant Shane in Die Boland Moorde op kykNET, is daai frons soos ’n toegetrekte gordyn. Maar soos met sy stewiger rolle moet jy dieper kyk. Brendon se lag gaan haal hy uit sy maag.

Sy storie klink na ’n Hollywood-draaiboek. Die klong van die Kaapse Vlakte wat nog nooit van Brecht en Tsjekof gehoor het nie. Hy wou in movies wees, soos Denzel Washington. Maar hy sou die teater soos ’n fris bries tref. Nou, sowat twaalf jaar later, is hy heeltyd besig. Behalwe teater, ook in aanvraag vir rolprente, TV, radio ... Sy eerste woorde op die verhoog het hy verbrou. Hy was wat, ses, sewe? Dit was met die kerk se jaarlikse Kersspel.

Hy, Wyse Man, laat toe plegtig hoor: “Daar’s ’n ster bokant die poepel.” Koepel? Hy’t nie daai woord geken nie. Die gemeente het uitgebars van die lag en hy, vol grootoog-onskuld, kraai ewe hard saam.

Die eerste keer op ’n werklike verhoog (én hy’t geld gekry) was hy 20, as ekstra in die Verdi-opera Il trovatore. Die derde soldaat links, ’n rebel ... Maar sy brood-en-botterwerk was ver van die kollig verwyder, onder meer as skoonmaker in ’n hospitaal. “Ná ’n operasie gaan ek in en maak die teater skoon – daai vloer lyk soos ’n oorlogsveld.”

FOTO Willem Lourens

As dobbelmasjien-toesighouer by ’n casino gaan die vermaakbedryf se deur op ’n skrefie oop. Hy en ander personeel gee ’n vertoning, meer vir eie moreel as iets anders. Daar’s ’n agent in die gehoor en sy hou van wat sy sien. Brendon kry ’n agent. Hy’s vroeg in sy dertigs toe hy aankondig hy gaan sy werk los, vryskut-akteur word. “My ma en Jeanine [Joseph], my verloofde, het my in ’n hoek beetgekry. Ek’t nie drama geswot nie, ek ken niemand in die bedryf nie. Mos ’n mal perd!”

En ja, in die dekade of wat sedert hy uit die skool was, was hy nie altyd so ’n toegewyde werker nie. “Ek was all over the place, altyd laat en het nie baie invest in wat ek doen nie. Maar sedert ek akteur geword het, is ek on top of it. Of on top of it op my manier.”

Twee jaar later en met ’n paar kleiner verhoogrolle agter die blad, hoor hy van ’n oudisie op Stellenbosch. Dit was vir Die Joseph en Mary affair, met Marthinus Basson as regisseur.

"Ek’t nie geweet wie hy is nie! Ek sien die kort mannetjie met die bokbaardjie en hy sit daar in sy Crocs.” Sê Brendon met bry-r’e, nes Marthinus. En teater “gryp” hom. Sedertdien werk hy gereeld saam met dié veelsydige teaterpersoonlikheid.

Toe kom die rol van Adidas, ’n geharde misdadiger in Tertius Kapp se veelbekroonde tronk-drama, Rooiland. Sy moeilikste, uitdagendste nog, sê hy. Jy gaan elke vertoning saam met die karakter na ’n baie donker plek. Hy kry ’n Fleur du Cap-, Kanna- (KKNK) en kykNET Fiëstatoekenning daarvoor.

Die mantel van gangster sou hy ook ’n paar keer in flieks omhang, waarvan die bekendste seker Four Corners is. (Hy kry ’n Safta-toekenning vir sy rol as Farakhan.) Teater, dís egter sy passie.

FOTO Willem Lourens

Jy spring met boots en al in ’n rol in.

Uit vrees omdat ek geen ander fondasie het nie. My oupa het altyd gesê: “Steel met jou oë.” En ek doen dit. Steel met my oë en herskep dit. Ma’ ek’s ook nie bang om te sê help my nie. Toe ek in graad ses met ’n toets afkyk, trap die juffrou my uit. “Moenie dink jy is te belangrik om te vra as jy iets nie weet nie.” Sê die regisseur ons gebruik nou die Brecht-tegniek, seg ek: “Wie is Brecht? Verduidelik gou.” En dan: “Oukei, maar ek verstaan nog nie rêrig nie.” Tot ek vertroud is daarmee, niemand ken immers als nie.

Jy was al soveel keer ’n gangster in rolle [hy kreun]. Is dit jou beneukte gesig?

Ek ken sulke mense, het saam met hulle grootgeword op die Kaapse Vlakte. Niemand word so gebore nie, dis weens sosiale omstandighede, die geskiedenis. Ek het besef met die uitbeelding daarvan kom ook ’n verantwoordelikheid. Jy moet die menslikheid in die karakter raakvat. Dat hy gevaarlik is, is amper ’n gegewe. Met Four Corners was my invalshoek ’n pa wat graag ’n verhouding met sy seun wou opbou. Sodat die fokus nie op hom as gangster val nie, maar as pa.

Enkelouer-gesinne is ’n groot probleem in ons land, ook op die Kaapse Vlakte.

Ek kon nie verstaan hoekom kinders my aanmekaar vra of ek rêrig Ricardo [sy seun in die fliek] se pa is nie. Tot ek besef het dis omdat hulle wag vir húl pa om hulle te kom haal. As Ricardo werklik my seun is, bestaan die kans dat ook hul pa hulle sal kom soek. My ma, Lily [Thompson], werk vir ’n NGO wat perdryterapie gebruik om probleemkinders te laat oopmaak. Dertien, veertien met oortredings wat jou hare laat rys – verkragtings, moord. Dikwels kan hulle nie deal met hul emosies nie, hulle gebruik geweld as uitlaatklep. En terwyl jy met hom praat, kan jy nog die kind in hom sien.

Jy het nie self kinders nie?

Kyle, Jeanine se seun, was nege toe ons mekaar ontmoet het. Glo my, ek weet watter uitdaging ’n tienerseun kan wees! Ek’t altyd in my agterkop die idee gehad van akteur word. Met ’n kind sou ek nie die sprong gewaag het nie.

Hoe voel jy oor SA, jou plek hier?

Verlede jaar skiet ons die fliek Krotoa*; ek speel Harry die Strandloper, of Autshumato. Dis deels my geskiedenis ook, maar ek ken dit nie. Ek praat met oumense wat Nama [’n Khoi-San-taal] ken, maar daar is niemand met wie hulle in hul taal kan gesels nie. Ek moet dit in die fliek praat, maar my tong steek vas, wil nie om daai klapgeluide buig nie. Bruin mense het nie ’n identiteit waarvan hulle bewus is nie, dis nie gedokumenteer nie. Nou gryp hy na iets en dis ongelukkig die bendes. Dit gaan oor rituele, oor behoort.

En jy?

Ek voel sterk oor my plek in die Kaap, in Suid-Afrika. Ek voel ek het ’n stem gekry om sekere dinge te deel. As jy kyk na die sukses van Four Corners, hoe roofkopieë soos ’n veldbrand op die Kaapse Vlakte versprei het nog voor die fliek se uitreiking, gaan dit juis oor daai gevoel van identiteit. Die onderwerp was nie altyd lekker nie, maar hulle kyk daarom, om die geweld. Dit het my aanhangers gegee van vier tot sewentig jaar. ’n Hele gemeenskap aangegryp, daar was iets waarmee almal kon identifiseer. Die ouma wat haar kleinkind grootmaak, die pa in die tronk; die kind wat met daai wêreld gekonfronteer word elke keer dat hy buitentoe gaan. Die ma wat vir my sê: “Ai, my kind is mos nou betrokke by die bende.” Asof ek iets kan doen, ek’t net ’n rol vertolk.

Hier's die lokprent van Krotoa, wat reeds internasionaal bekroon is:

* Krotoa is vanaf 4 Augustus in fliekteaters te sien.

Hierdie artikel het oorspronklik in die Mei 2017-uitgawe van SARIE verskyn.