Sy glo nie in spoke nie. “Maar daar is beslis forces.” Só sê Nicole Fortuin, die pragtige aktrise met die sonsoentjies op haar neus, wat vanaand in die kykNET-gruwelreeks Die Spreeus te sien sal wees.

“Ek is een van vyf mense wat as gevolg van ’n realiteitsreeks in ’n spookhuis beland,” verklap Nicole oor haar karakter, Lea.

Nicole as Mia in die reeks 'Die Spreeus'. FOTO Instagram / Nicole Fortuin
'Die Spreeus' FOTO Instagram / Nicole Fortuin

“Sy is eensaam, weird ... en daar is dalk deeper ties met daai huis.” Nicole sal in twee episodes te sien wees. 

Het sy self vreemde goed op stel ervaar? “Ek het iewers ’n koue gril ervaar,” lag sy. Maar sy is nie bang vir gruwelstories nie, inteendeel, sy is gek daarna!

In Julie gaan sy in nóg ’n kykNET-reeks te sien wees – Alles Malan, ’n familiedrama wat in die Paarl afspeel.

“Dis ’n groot verandering. Die reeks is warm, ’n goedvoelstorie. Dit gaan als oor die familie en die belangrikheid daarvan.”

FOTO SJ van Zyl

Nicole vertolk die rol van Lee-anne Isaacs, ’n onderwyseres wat verloof is aan Nico Malan (Sean Vorster), jongste seun van Derik (Albert Maritz) en Brenda (Elsabé Daneel).

“By die Malans leer Lee-anne wat dit beteken om ’n familie, ’n gesin te wees, ’n verwysing wat sy nie altyd gehad het nie,” verklap Nicole.

Sy en Sean, wat ’n ware grapjas op stel was, het gelukkig hope chemistry. “Dis lekker om ’n karakter te speel wat verlief is. Ek en Sean het ons karakters se verhouding in detail uitgepluis, ons het joernale geskryf.”

En hoe was dit om Albert en Elsabé as surrogaat-ouers te hê? “Wonderlik! Hulle het geen air rondom hulle nie. Hulle is warm en oulik.”

Sy het by albei geleer. “Dit was ’n meesterklas.”

Haar verhouding met Elsabé weerspieël hul karakters s’n. “Ons was baie na aan mekaar.”

Die Malan-familie in die reeks 'Alles Malan'. FOTO Instagram / Nicole Fortuin
Vroeër vanjaar in Londen. FOTO Instagram / Nicole Fortuin

Sy knyp haarself steeds oor sy kan toneelspeel vir ’n lewe. “Ek het as kind hieroor gedroom.”

En nou het die talentvolle 27-jarige, wat ook in reekse soos Dwaalster (2018) en Swartwater (2017) te sien was en die hoofrol in die rolprent Flatland (2018) vertolk het, ’n kontrak met ’n agentskap in Londen geteken. Sy was met vakansie in die Britse hoofstad toe sy daar en dan besluit het om agente te gaan sien. Nicole word reeds in Los Angeles teenwoordig.

“Ek is so dankbaar, ek het net ’n kans gevat.”