Ek is totally gaga oor die ou!” skryf ’n aanhanger van Nicholis Louw op een van die meer as 20 Facebook-groepe oor hom. En dié aanhanger praat namens baie. Kyk na van die groepe se name, dit sê iets oor hom: “Ek is verslaaf aan Nicholis Louw”, “Nicholis Louw rock”, “Nicholis Louw is supercool” ...

In Oktober laat hy die Nicholis terugkeer waarvoor die land liefgeraak het, kondig hy aan. Met sy sesde CD, nog sonder ’n titel. “Ek keer terug na die fun toe. Dis waarvoor ek bekend is. Daar’s niks wat mense se spirits in Suid-Afrika lig soos ’n lekker liedjie nie. Suid-Afrikaners worry nie oor mooi nie, hulle hou van lekker.”

Sy tweede DVD (voor ’n gehoor), waaraan hy nou al beplan, gaan die land volgende jaar “soos ’n atoombom tref”. Sy eerste een, Rock daai lyfie, was die beste wat Suid-Afrika nog gesien het, sê hy vol bravade. Hierdie een gaan nóg groter wees.

Hy klink dalk arrogant, maar wat hy sê, sê hy met “die grootste liefde” in sy hart. En as jy nie daarvan hou nie, is dit oukei. “Vat my soos ek is.”

Sy selfvertroue is verfrissend. Iemand wat glo in homself en nie bang is om dit te sê nie. En hoekom moet hy nie in homself glo nie? Sy vorige CD, Vergeet en vergewe (wat ernstiger as sy ander CD’s is), is die CD wat die vinnigste platinumstatus (40 000 eksemplare verkoop) by Select Musiek in 22 jaar behaal het – binne twee weke. (Kurt Darren het dit sowat drie maande daarna ook reggekry.)

Toe Select Musiek aan die begin van Nicholis se loopbaan vir hom gevra het watter musiek hy wil maak, het hy gesê: “Guys, let’s make money.”

“Ek wil geld maak, want ek wil karre koop en eendag vir my vrou en kinders kan sorg. Ek’t besluit om kommersieel te wees, dis hoekom ek pop-rock sing en nie suiwer rock, my groot liefde, nie. Ek het ’n manier gekry om sukses en geluk bymekaar te bring.”

Hy’s beleefd en sê jammer toe sy foon tydens die onderhoud lui en hy optel. “Ek sou dit nie beantwoord het as dit nie belangrik was nie.” Dis ’n model wat die volgende dag in sy nuwe musiekvideo moet speel.

Dan: “Ja, jy gaan feature, die hoofrol. Jy gaan my girlfriend speel. Jy moet sexy lyk. Jy gaan ’n generaal se dogter wees (kyk die video hieronder). Oukei jy, lekker dag. Baai.”

Nicholis lééf sy liefde vir motors. Hy sit voor my met ’n wit renjaerbaadjie by Select Musiek se ateljee in Randburg. Vorentoe op sy stoel, met ’n soort James Dean-coolness. “Right,” sê hy ...

En heelwat later spoeg hy vuur oor die “leuens” in skinderjoernalis Yolanda Barnard se boek, Die ponies galop: seks en skandale van die sterre onthul.

Ja, hy en die sanger Robbie Klay hét albei ringe soos sy daarin geskinder het. Maar laat hy sélf vir jou die storie agter die storie vertel . . .

Vertel eers van jou kinderdae.
My ouers werk albei al jare vir Pep Stores. My ma is ’n winkel- en my pa ’n administratiewe bestuurder. My

Elizma Theron vra vir Nicholis...

Elizma Theron, wat saam met jou die liedjie “Kom ons vat ’n kans” opgeneem het, wil weet hoekom hou jy Denise uit die openbare oog en kan ons uitsien na ’n verlowing?
’n Verlowing, ja. Maar nie nou nie. Denise is 22. Ek wil haar kans gee om jonk te wees vóór ons trou. Ek hou my verhouding uit die openbare oog omdat mense lelik is. Kyk wat maak hulle en die media met Joost-hulle. Ek sal dit nooit aan my meisie doen nie. Ek wil nie hê sy moet uitgaan en ge-target word nie.

 

 ma sal wag totdat die hele gesin kos geskep het vóór sy vir haarself skep. Ek het al vir seconds gegaan dan is sy nog besig om vir ander mense in te skep. My pa is meer teruggetrokke. Ek het bitter goeie ouers. Ek bly nog by hulle in ’n kothuis op hul erf in Centurion. Ek sal trek as ek trou. Ek kan nou eerder huise koop en verhuur as om self daarin te bly.

En jou passie vir sing?
My ouma het my vir ’n sangkompetisie ingeskryf toe ek twee was. Ek’t gewen. Performing was my ding. Ek het op vyf keyboard op gehoor begin speel. Mense dink jy’s ’n genius, maar as jy die taal verstaan, verstaan jy dit.

Die taal van musiek?
Ja. Dis soos om ’n liedjie te skryf. Hy skryf hom naderhand self. Dis moeilik om dit aan iemand te verduidelik wat nie musikaal is nie. Terwyl jy ’n liedjie skryf, praat hy met jou: “Ek wil eerder in dié rigting gaan, dís my naam.” Dis my eie, klein supernatural power.

Watter instrumente bespeel jy?
Mondfluitjie, tromme, baskitaar, keyboard, orrel, kitaar . . . Ek het orrellesse op laerskool geneem en op hoërskool begin met kitaarlesse.

Ek en my kollega Fanie Cronjé was in Pretoria waar baie van jou aanhangers is. Ons het vir Sanette Smith in Hatfield raakgeloop. Sy wil weet hoe kry jy dit reg om nie in skandale by vroue betrokke te raak nie. Het jy ooit ’n meisie?
Wanneer ek tyd saam met ’n meisie deurgebring het, was ek eerlik en het ek haar met respek behandel. Ek het nog nooit ’n meisie gebruik en nie weer met haar gepraat nie.

Ek het nie buite-egtelike kinders nie, want ek’s nie stupid nie. Ek weet nie hoe kry jy dit reg as jy dit nie aspris doen nie. Ek kuier nooit ná ’n show nie. Ek gaan nie na klubs toe nie. Nooit, nooit, nooit-ooit nie, behalwe as ek daar optree.

Ek word soms geld aangebied om te sit en kuier ná ’n optrede sodat mense kan sien ek’s daar, soos nou die aand in Port Elizabeth. Vir my was dit ’n effense belediging. Eerstens oor die bedrag wat hulle my aangebied het en tweedens dát hulle iets aangebied het. Om die vraag te beantwoord: Kyk met wie jy meng en behandel almal met respek.

En ja, ek het ’n meisie, Denise. Sy’s ’n projekbestuurder by ’n boumaatskappy.

Elizma wil ook weet, hoe hanteer jy as uitgesproke Christen die versoekings in die musiekbedryf?
Dis makliker omdat ek nie na klubs toe gaan nie. Klubs is die ultimate evil. Ek sing baie daar. As jy sien hoe meisies hulself “vergoedkoop”, is dit maklik om jou waardes te behou. Hul optrede maak my skoon siek. Nie almal is sleg nie, maar daar’s slegte mense wat met goeie mense meng en dan word goeie mense sleg. ’n Meisie sal sommer na my toe kom en haar bors ooptrek en sê “teken”. Weet jy hoe vinnig skrik dit ’n ou af?

Gelukkig was ek eers suksesvol op 24. Op 19 sou dit ’n ander saak gewees het. God het my timeline uitgewerk. Ek was 21 toe ek die kontrak met Select Musiek geteken het. Maar God het fame vier jaar van my weggehou. Ek het baie vriendinne langs die pad gehad. Niks wat ek gedoen het, was goedkoop nie. Alles was met respek en met geen slegte bedoelings nie. Dis hoekom jy nie skandes sal oprakel nie.

Dis baie diep hierdie. Kan ons na ’n ligter vraag beweeg?

Jy’t meer as 200 modelkarretjies. Vanwaar die fassinasie?
Ek dink dis in jou bloed. Jy’s gebore vir iets. Ek’s gebore vir musiek, maar my eerste liefde is karre. Dis daai gevoel wat jy kry wanneer jy daarna kyk. Tussen een en vier jaar oud het ek in die dag by my ouma gebly, want my ouers het gewerk. My ouma sou kruideniersware koop en my in die supermark by die karretjies los. Sy sou drie uur lank gaan shop en ek sou daar stil sit. As ek soet was, het sy vir my ’n karretjie gekoop.

Derrich Gardner, aanbieder van die musiekprogram DKNT op kykNET, het al gesê jou X-faktor is jou wil om suksesvol te wees.
Ek glo my X-faktor is my talent. Ek dink God het vir my ’n fantastiese gawe gegee.

Jy beplan ’n tweede DVD?
Vir volgende jaar. Ons praat met borge. Hierdie keer gaan ek regtig groot. Die vorige DVD was die beste wat Suid-Afrika nóg gesien het. Ek sê dit nie omdat ek arrogant is nie. Niemand het al soveel geld aan ’n produksie van een aand bestee nie. Ek het byvoorbeeld 187 moving heads (ligte wat draai en van kleur verander) gebruik waar ander kunstenaars 30 gebruik. Ek het die beste band op die verhoog gehad. En ek glo ek is een van die beste kunstenaars in die land, in terme van optree.

Hoe gaan jy daarop verbeter?
Laas het dit geklink asof die band my musiek al ses maande speel en dit was goed. Hierdie keer moet dit klink asof dit ál is wat hulle nog gespeel het. Laas was daar ses mense op die verhoog. Hierdie keer gaan daar 40 of 50 wees. Jy gaan nie glo wat gebeur nie. Dit gaan awesome wees.

Blykbaar meng jy nie met die ander kunstenaars by Skouspel nie?
Dit het gebeur. Hoe gaan ek dit beantwoord. Jy maak dit moeilik vir my ... In die musiekbedryf kom jy vinnig agter mense is liggeraak. Ek het aan die begin nie met ander kunstenaars gemeng nie. Dit was nie omdat ek gedink het ek’s beter nie, maar hulle het dit so vertolk.

Ek’t ’n broertjie dood aan die “in crowd”. Ek sê nie altyd die regte ding op die regte tyd nie. My eerste jaar op Skouspel was ek te bang om enigiets verkeerds te doen, want jy wag lank om daar op te tree. Ek sou iemand nie gegroet het nie omdat ek hom nie gesien het nie. Dan word daar gesê: “Wie dink Nicholis is hy dat hy nie met my wil praat nie?” Get over yourself. Ek’s hier om ’n job te doen. Ek was professioneel. Ek was in my aantrekkamer, ek’t op my kitaar gespeel en met die hare- en grimeerkunstenaars gesels. Ek’t gemakliker gevoel daar.

In die musiekbedryf is daar ’n geskinder en jy’s of deel daarvan of die target daarvan. Ek’t gekies om nie deel daarvan te wees nie.

My tweede jaar op Skouspel het ek wel doelbewus ’n poging aangewend om meer sosiaal te wees.

En wat Yolanda sê oor jou en Robbie Klay?
Sy besef nie my ma en pa werk nog nie. Almal weet ek is hul kind. Nou vertel sy van ’n gerug dat ek en Robbie ’n verhouding gehad het, blah, blah, blah. Maandagoggend moet my ouers werk toe gaan en mense face. My ma en pa het hul lewe vir my gegee. Sy maak my mense seer. Dis onaanvaarbaar.

Ek en Robbie is goeie vriende. Ja, ons het elkeen ’n ring. Maar syne het die “R” op en myne het die “N” op. Hoekom? Ek is gek daaroor as Stefano DiMera van die sepie Days of our Lives se ring so van naby afgeneem word. Ek het vir Robbie gesê ek wil so ’n ring hê. Toe sê Robbie hy sal ook daarvan hou. Ons het besluit ons moet elkeen ’n ring hê, want dis cool, want Stefano DiMera het een. Dis die storie.