Vaughan het die potensiaal om net so gewild soos hulle te word, word in 'n persverklaring gesê. Lydia van der Merwe het hom gevra wat hy daarvan dink.

Wanneer is jou CD uitgereik en hoe vaar dit?
Ek het dit die eerste keer op my verjaardag, 14 April, vasgehou. Dis daarna winkels toe versprei. Ek het nog nie 'n idee hoe dit vaar nie. Maar voorlopige terugvoer is goed.

Jy het van die liedjies self geskryf. Waar kry 'n mens op 21 die lewenservaring om "diep" dinge te skryf?
Ek skryf nie uit persoonlike ervaring nie. Ek plaas my in ander mense se skoene en beeld dit uit.

Waaroor skryf jy?
Die liefde, hartseer, sulke dinge. Die naam Wie ek is gaan daaroor dat jy jouself moet wees en nie wat ander mense wil hê jy moet wees nie. Mense hou dan meer van jou.

Jy sê in die persverklaring: "Ek hoop dié album skep 'n nuwe musiekneiging.'' Is dit nie 'n bietjie ambisieus nie?
Jy moet altyd iets nuuts na die mark toe bring, jou eie stempel probeer afdruk. Jy moenie soos iemand anders probeer klink nie. Hoewel die album na pop/rock neig, is daar tog klassieke elemente in wat dit 'n uitsonderlike klank gee.

Jy speel self kitaar op die album. Bespeel jy enige ander musiekinstrumente?
Ja, klavier.

Bok van Blerk . . . Lianie May – albei protégés van Sean Else. Jy beweeg nou in dieselfde kollig as hulle. Hoe voel dit?
Ek is dit al 'n miljoen keer gevra. Dis obviously 'n voorreg om met Johan (Vorster) en Sean van Mozi geassosieer te word. Dit gee jou inspirasie en meer dryfkrag as mense in jou glo. Maar ek, Bok en Lianie het elkeen ons eie styl. Ek was van begin tot einde nou by die album betrokke en kon my eie stempel daarop afdruk. Ek hoop mense geniet my musiek.

Jy het verlede jaar die graad B.Rek. voltooi en hoop om "eendag in belasting of bankwese te spesialiseer", aldus die persverklaring. Wat ís jy: Nerd of SA se volgende superster?
Mense het my op varsity gereeld gevra: "Vaughan, wat swot jy? Wat van jou musiek? Dis só uiteenlopend." Jy weet nie wat in die toekoms gebeur nie en dis goed om 'n kwalifikasie te hê. Maar musiek is my eerste voorkeur.

Jy het op 14 by Koba Wicomb begin sanglesse neem?
Ja, ek het klein-klein al aan wedstryde deelgeneem en dit dra alles tot my ervaring by. 'n Mens moet iewers begin, jy begin tog nie bo nie. Ek is nog lank nie bo nie, daar lê nog 'n lang pad voor.

Sean het jou "ontdek'' met die Mnr. Curro-kompetisie. (Jou alma mater in Durbanville, Kaapstad.) Hoe het jy in die kompetisie gevaar?
He-he . . . Dis weird. Uhm . . . ek het gewen. Tog is daar is nie eens 'n foto van jouself by jou Facebook-profiel nie?  
Ek is nie behep met hoe ek lyk nie. * Besoek Mozi Records by www.mozi.co.za.