Die wêreld is onseker en die Covid-19-pandemie ’n realiteit. Niemand weet wat die toekoms gaan inhou nie. Maar midde-in hierdie vreemde tye het ’n nuwe seisoen in Tana van Rooyen, SARIE se Voorbladgesig in 2012, aangebreek: Ouerskap. 

Die blondekop is swanger met haar eersteling, ’n seuntjie wat Tao gaan heet. “Ek koester elke oomblik van my swangerskap. Elke skop en sentimeter wat my maag groei is net ’n epiese reis. Eintlik kan ek nog nie glo hierdie is my werklikheid nie,” vertel Tana opgewonde aan SARIE. 

Sy dank haar sterre vir iemand soos Martin - haar entrepreneur-man met wie sy in 2018 getrou het. “Hy is die grootste droom wat in my lewe waar geword het. ’n Beter vriend kry mens nie. Ons huwelik blom - inperking was die beste ding wat met ons kon gebeur het. Ek weet nie wie meer opgewonde is oor ons seuntjie se koms nie,” lag sy.

FOTO Verskaf

As alles goed verloop, arriveer klein Tao op 1 September - Lentedag. “Ek voel altyd so verlief as die lente aanbreek en hierdie gevoel is in pas met sy koms.”

Tana erken sy het van die begin af ’n vreemde gevoel oor 2020 gehad. “Asof ek geweet het hierdie gaan nie ’n normale jaar wees nie.” 

Familie was en is nog altyd belangrik vir haar, maar nou koester sy dit nog soveel meer. “Ons is meer as ooit gefokus daarop om goed te wees vir mekaar.”

Wanneer die wêreld na normaal terugkeer, gaan sy dankbaar wees vir mooi hoekies in koffiewinkels, vars blomme op die straat en bowenal mense. “Om saam met wonderlike en unieke mense die lewe te geniet.”

Tana is uit haar vel uit opgewonde oor die baba se koms. FOTO Verskaf

Die lewe gaan oor kanse waag, dit weet Tana maar alte goed. Sy het immers al drie keer in haar lewe gewaag. “Nommer 1 is my SARIE Voorbladgesig-inskrywing. Tweedens, my tyd as Emirates-lugwaardin. Nommer 3, om my eie besigheid, Die Kaal Konyn Illustrasies, te begin. Dít gee my nou die moontlikheid om as mamma van die huis af te werk.”

Wil jy ook waag? Skryf in vir SARIE Voorbladgesig of Nuwe Gesig. #JyIsGenoeg

Klik hier om in te skryf.