Die dorpenaars het die saaltjie volgepak. Op die verhoog was een van hul eie, die aktrise Desiré Gardner, met haar eenvrouvertoning Magda Louw. Alles vir ’n goeie doel, om geld in te samel vir ’n inwoner van Philadelphia, ’n dorpie in die Wes-Kaapse Swartland, wat kanker het.

Des is in ’n heel ander gedaante vanaand as die flambojante, platinumblonde Carmen wat sy in kykNET se Suidooster vertolk. Stomme Magda wroeg oor haar leë nes, menopouse en middelrif wat uitrys. Sy weet egter hoe om te lag, “al sukkel sy met oudword, eensaamheid en die bleddie skaal”.

Nie net blaas sy op die planke asem in Magda se ronde lyf nie, sy het die karakter ook geskep. Wat jou laat wonder wat weet iemand in haar vroeë dertigs van die leefwêreld van ’n middeljarige vrou. As jong ma, breekbaar dun en met haar oudste so pas skool toe, verskil hare immers lynreg daarvan.

Haar pad saam met Magda is ’n lange. Ja, sy het onder meer in 2017 by die US Woordfees op Stellenbosch in Magda se fat suit geklim. Voor haar verhuising Kaap toe by verskeie klein restaurante in Johannesburg opgetree. Maar rol die jare nog verder terug, toe sy ’n langbeen-meisiekind in matriek was.

Passie, noem haar gesin haar, die baba van vyf kinders. ’n Troetel-naam afgelei van “pasella”. Haar ma is dokter toe om te gaan praat oor ’n histerektomie, vier maande ná die geboorte van Michael, haar vierde spruit. En toe is sy reeds weer swanger. Die huishulp het getroos: “Jy het baie kinders by die Here gekry en dié ene is pasella.” Want koop jy baie, kry jy altyd iets pasella.

Haar kinderjare was gelukkig en geborge, maar as die jongste het sy haarself baie in die rol van waarnemer bevind. “Ek het die kamerdeur toegemaak en gespeel ek is iemand anders, iemand op TV, of my ousus en haar vriendinne. Want klim ek in ’n karakter, is ek nie meer skaam en lomp nie, kan ek alles hanteer.

“As my ma dokter toe gegaan het, wou ek altyd saam. Ek het die mense dopgehou en in my kop karakters ontwikkel. In matriek wou ek vir ’n kunswedstryd iets komies doen, maar kon nie ’n lekker monoloog kry nie.” Magda is gebore, haar storie toe natuurlik baie korter, vertel sy by Philadelphia se bekende Pepper Tree-restaurant.

Toe ons drie jaar gelede gesels het, was sy swanger met Robin, haar tweede kind, en het rooibostee bestel. Vandag is haar hande om ’n cappuccino gevou. “Die eerste ding waarna ek kyk, is jou hande en oë, seker omdat ek self nie mooi hande het nie. My naels is gekou en als.” Ja, Chris, haar man, het pragtige hande en oë.

Nietemin, destyds het sy by vroue-okkasies begin optree vir ekstra sakgeld. “Ek was sewentien en mense het dit interessant gevind dat ek in ’n ouer vrou se psige klim. Nou ja, my ma was ongelooflik oop oor goed. Sy het gepraat oor dinge soos die menopouse, hormoonvervangingsterapie ... Maar sy is snaaks en die goed wat sy kwytraak so pragtig. Sy het nooit babataal met my gepraat nie, maar asof ek dieselfde ouderdom is as my ousus Maricia, tien jaar ouer. My ma is sonder pretensie en sê ’n ding nes dit is.”

Maar altyd getemper deur humor. Dankie tog daarvoor, sê sy. “Ek dink reeds te veel, ooranaliseer dinge. Jy moet by ’n punt kom wat jy iets net kan laat gaan, daaroor kan lag. Die dag toe ek besef James [haar seuntjie] het ’n sin vir humor, was dit vir my ’n groter mylpaal as toe hy begin loop en praat het.”

Hy en Ouma, ook Desiré, is geesgenote, en hy is liewer vir Ouma as vir háár, sê sy ma. En dis goed só.

Middeljarige vroue het haar nog altyd gefassineer. “My ma is regtig ’n mooi vrou, sy kyk na haarself en is nie oorgewig nie. Maar die manier hoe sy van haarself praat, kan baie afbrekend wees. Dis maar Afrikaanse vroue se ding ... As iemand sê jy lyk mooi ... Ag dankie, maar die hare . . . Magda hét so ’n paar rolletjies [danksy daai fat suit], maar hoor jy haar praat, sou jy sweer sy is obese, ’n logge walvis.

“My lewe lank het ek boonop ’n ding oor oudword. My pa, Mike, ’n afgetrede bankbestuurder, het ons geleer begroot, vooruit beplan. Vir my, ’n beheervraat, was dit nog altyd interessant dat die ouderdom die een ding is waaroor jy geen beheer het nie. Nou ja, jy kan die proses netso wel geniet.” En só het Magda saam met haar gegroei, oor die jare ontwikkel. ’n Komedie, ja, maar met ’n onderliggende lewenswaarheid. Want Magda het meer jare geleef as wat voor haar uitgestrek lê. Maar het sy regtig gelééf? “’n Ou tannie kom ná ’n vertoning na my toe en sê sy wens iemand het dit vroeër vir haar gesê. Dis die grootste kompliment, dat ek op 33 vir iemand van daardie ouderdom ’n lewensles kon leer.”

Maar dan terg haar ma dikwels sy was eintlik al ’n ou vrou op twaalf, die ouderdom waarop Desiré beroerte gehad het. Daaroor het sy al dikwels gepraat. Hoe haar ma wakker geskrik het van haar roggelgeluide. Haar hart het drie keer in die ambulans gaan staan. In die hospitaal, bewusteloos, is ’n breingewas gediagnoseer. John Lewis, ’n predikant van die Metodistekerk, kom vir haar bid. Hy raak aan haar en voel ’n skok, nes wanneer jy jou voete op ’n mat sleep. Haar pa, wat by is, voel dit óók. ’n Paar uur later word sy wakker. Sy moes weer leer loop, maar die gewas was skoonveld. John sou haar en Chris uiteindelik trou.

Al dié dinge maak jou mos maar wie jy is, het ’n effek op jou besluite en jou toekoms. Ook op jou verhoudings, dít wat eintlik die aarde laat draai.

“Ek en Chris benader elkeen ons verhouding vanuit ’n ander hoek – en dit het alles te doen met hoe ons grootgemaak is, dinge wat in ons vormingsjare gebeur het. Ek praat, hy sluit toe, wil nie verder oor iets praat wat hy in sy kop as afgehandel gemerk het nie. Ek moet dan ook aanbeweeg, anders is dit ou koeie wat ek uit die sloot haal. “Deesdae probeer ek ’n konfrontasie vermy terwyl ek irrasioneel en emosioneel is, want hy kan dit nie hanteer nie. Ek wag ’n dag of wat en gebruik dan ’n ander invalshoek. Maar om weg te loop terwyl ek nog so emosioneel is, vat als uit my.”

Vanweë haar posisie in die gesin is sy ’n gesoute diplomaat, altyd gereed om jou op jou gemak te laat voel. Een ding wat ’n groot gesin jou leer, is buigsaamheid. “My pa is stil en teruggetrokke, maar baie snaaks. Hy praat nie eintlik oor sy gevoelens nie en is nie een wat drukkies uitdeel nie. My ma vat, voel en praat weer, nes ek ook. My drie susters en my broer het ook uiteenlopende persoonlikhede. En ek, die jongste, het opgekyk na hulle almal.

“Eintlik is ek die gemaklikste in my eie geselskap, by my kinders of saam met mense wat my regtig goed ken. Want dan kan ek wees wie ek is, met die wete dat daar volkome aanvaarding is.

“Vertroue, daardie gom wat alle verhoudings saambind, maak die pad oop om te kan verskil, jou mening te gee. Ek vat lank om goeie vriende te maak en mense te vertrou. Maar dan kán ek ferm wees, hóéf ek nie altyd saam te stem en my kop instemmend te knik nie.”

Só is dit ook met werksverhoudinge. Sy het Kwêla se Hannes van Wyk gevra om met Magda Louw se regie te help. Een van sy talle hoede is spelvervaardiger by Suidooster en sy het geleer om sy oordeel te vertrou. “Hy sal iets voorstel en ek sal dink hoe op aarde gaan ek dit doen ... en hy sal sê wag, jy sal sien, op TV gaan dit werk. En dan werk dit.”

Hannes het gehou van haar skryfstyl, hoe sy ’n ernstige onderwerp met humor benader. En haar gevra sy moet ’n eenmanstuk vir hom skryf, oor die verhouding tussen ma en seun.* “En ja, ek het ’n seun, ’n sensitiewe een, nie ’n klein Tarzan nie. Hy is ’n kind wat dink en soms met goed vorendag kom wat my verstom.”

Stomme Magda het nog ’n deur oopgemaak: Om saam met Marcel Spaumer, ’n skrywer by Suidooster, Wessel Pretorius en Chris Vorster (hoofskrywer) ’n komedie neer te pen. Lui maar op, Belinda word in Julie op kykNET uitgesaai en gaan oor ouer mense se doen en late in ’n negosiewinkel.

Skryf is nie so ’n nuutjie nie. Sy was een van die skrywers van danZ!, ’n jeugdrama verlede jaar op kykNET & kie. En het skryfwerk gedoen vir Binnelanders, waarin sy die rol van Daleen vertolk het. Sy werk haar oor ’n mik, onder meer met die vertaling van Afrikaanse reekse se subtitels in Engels. En lê Afrikaans in die mond van die Turkse akteurs in e-tv se telenovela Gebroke harte.

Taal was altyd ’n liefde en syself het tweetalig grootgeword. Met ’n Afrikaanse ma en Engelse pa, was sy in ’n Engelse kerk, maar Afrikaanse skool. Vandag dink sy in Afrikaans en bid in Engels! Chris is Engels, maar praat Afrikaans met die kinders. James, binnekort 7, is “Afrikaans in murg en been”. Robin, byna 3, het egter besluit sy verkies die rooitaal. “I’m sitting on the sofa,” sal sy sê, kompleet in queen Liesbet se stywelip-Engels. “Daar hol so ’n klein Britse dingetjie in die huis rond. Nou praat ons maar Engels met haar.”

Toe die gesin so drie jaar gelede Kaap toe getrek het, was Desiré swanger, onseker en bang alles werk nie uit nie. “Daar was moeilike tye, maar dis mos maar die lewe. Op die ou end is dit oukei, is als oukei. Jy moet net onthou om te lewe, want soms vergeet jy dit in die harwar van elke dag. “Soggens, as die kinders én hul kosblikke in die kar is en ons ry, sherbet, dan herinner ek myself om net gou asem te haal. Net gou te besef ek is hiér. Dis amazing hoe ons leer en groei ... en hoe ons weer vergeet, van voor af moet leer.”

* Wees op die uitkyk vir ons onderhoud met Hannes van Wyk in die Junie-uitgawe van SARIE. Sy eenmanstuk, Sê groete vir Ma, geskryf deur Desiré, open by Innibos (26-29 Junie). Sandra Prinsloo is die regisseur.

Ek vat lank om goeie vriende te maak en mense te vertrou Desiré Gardner