Willem Pool van Clanwilliam het verlede jaar die liefde van sy lewe, Sanel Prinsloo, op die vlerksleep-program Boer soek ’n vrou ontmoet. 

Die paartjie het in Julie verloof geraak en die toekomstige Mev. Pool het destyds die volgende aan SARIE.com verklap: “Ek het van begin tot einde gehuil. Maar dis trane van blydskap, ek belowe! So ek voel soos ’n kat wat room gekry het. Ek glimlag van oor tot oor.”

Die pragtige paartjie se fotosessie het op die duine van Lambertsbaai plaasgevind. Die fotograaf Kilig Photography het die treffende foto’s geneem. 

FOTO Kilig Photography
FOTO Kilig Photography
FOTO Kilig Photography

Só het boer Willem die ja-woord gevra

Aanloopborde, fairy lights en ’n kamera om al die herinneringe vas te vang. 10/10, Mnr. Pool!

Dit het begin met ’n wit leuentjie: Hulle moet net gou na ’n plaaswerker toe ry, wat die hek moes sluit. Maar daar ry hulle verby die werkers se huise en draai af na Innie Mikkie by Langbergpunt – die einste plek waar hul onlangse fotosessie plaasgevind het én waar hy haar gevra het om sy nooi te wees. Aitsa!

Sanel vra onmiddellik: “Maar wat sal hulle [die plaaswerkers] hier maak?”

Boer Willem skiet nog ’n wit leuen uit sy heup: “Nee, hulle is besig om ’n drein reg te maak.”

Sanel glo dit toe, want hulle braai gereeld daar en daar is ’n toilet. Vir wat sal die man stories opmaak? “Ag, ek sit en babbel toe oor die dag se gebeure ... Ek is maar iemand wat baie maklik sy stories glo,” lag sy. “En toe ons daar aankom, stop ons voor ’n eerste bordjie en hy speel ’n stemboodskap van my ouers wat sê hulle gee hul toestemming, hulle het klaar lief geword vir hom en hulle wens ons net die beste toe.”

Net daar begin Sanel dink iets is aan die kom. “Maar ek het dit glad nie vermoed nie! Hy het baie gespot oor sy sesjaarplan. O, en daai sesjaarplan het aansienlik korter geword.”

FOTO Kilig Photography
FOTO Kilig Photography
FOTO Kilig Photography
FOTO Kilig Photography