SARIE het die stel in die laaste week van verfilming besoek. Dit is in die veld op ’n plaas anderkant Bronkhorstspruit buite Pretoria en dit het kompleet gelyk of ons meer as ’n eeu teruggegaan het in tyd. Die storie speel in 1901 af en oral was vroue in swaar Victoriaanse-rokke en Voortrekker-kappies en mans met veldhoede en Mausers oor die skouer.

Dit vertel die verhaal van Jakobus van Aswegen (Gys de Villiers), ’n gerespekteerde kommandant in die oorlog, wat ná hy gehoor het daar kom konsentrasiekampe, gekies het om eerder huis toe te gaan en sy gesin en plaas te beskerm as om verder teen die Engelse te veg. Sy vrou, Gerda van Aswegen (Rika Sennett), beleef dit as ’n erge vernedering en dit dryf haar tot waansin.

“Ek dink die fliek gaan baie omstrede wees,” sê Sallas de Jager, draaiboekskrywer. “Dis nog ’n baie rou deel van ons geskiedenis.” Hy het sy inspirasie vir die storie in die boek Boereverraaiers deur Albert Blake gekry, maar die draaiboek is nie volledig op dié ware verhaal gebaseer nie. “Dis sowat 50 persent fiksie en 50 persent feite.”

"Dit was ’n groot uitdaging om te sorg dat die stel en die kostuums getrou is aan die tyd," sê Waldemar Coetzee, kunsregisseur. “Ons het gaan kers opsteek by historici, deur baie ou foto’s van die Anglo-Boereoorlog gegaan en ook museums besoek.” Benewens die stel van die Van Aswegen-gesin se plaas (waar die SARIE-span was), het hulle ook ’n dorp om die Willem Prinsloo-landboumuseum buite Rayton, oos van Pretoria, gebou.

Marlé Trotsky, kostuum-ontwerper, het ook museums besoek en na foto’s gekyk om navorsing te doen oor presies hoe die vroue daai tyd gelyk en aangetrek het. “Die klere is donker en swaar,” sê sy.
Die oorgrote meerderheid van die Verraaiers-span het ook aan die 2011-kunsrolprent Roepman gewerk, wat baie goed ontvang is. “Hierdie keer is die standaard van die produksie in ’n nuwe liga,” sê Sallas. “Ons hoop vir ’n Oscar.”