Die liefde

Vicky se kêrel, die 28-jarige Mauritius de Klerk (sy oupa was die skrywer W.A. de Klerk), is 'n navigator in die handelsvloot en hulle gaan al 'n jaar uit.

"'n Mens weet mos net as dit werk!" sê sy. "Hy het 'n wonderlike sin vir humor en is verskriklik positief. Ek hou veral van die persoon wat ék by hom is. Hy hou my voete op die grond, geanker en rustig."

Waar sy voorheen in verhoudings gewonder het: Is he that into me?, bekommer sy haar nou of Mauritius deur seerowers aangeval word of in 'n tifoon is.

"Sy werk is gevaarlik. Hy werk twee maande hier, dan is hy vir 'n ruk af, maar dan is hy weer twee maande op 'n skip na Mauritanië of Ghana waar hy reddingswerk op see doen. Omdat ek en hy eintlik albei 'absurde' werke het, waardeer ons mekaar soveel meer as ons mekaar sien. We don't sweat the small stuff."

Sy stem nie saam met die motiveringspreker Gretha Wiid se Worthy Woman-teorie dat 'n vrou haar man soos 'n koning moet behandel nie.

"As jy dít doen, plaas jy jouself in 'n minderwaardige posisie. Ek het Mauritius lief as mens, nie as man nie. Ons hanteer die verskillende rolle in ons verhouding volgens ons unieke vaardighede en voorkeure.

"Ons verhouding is 'n vennootskap, nie 'n diktatorskap nie. Mense moet ophou verplig voel om ouderwetse idees oor man- en vrouwees aan te hang en eerder doen wat vir jóú as individu werk.

"Ek dink ook dis goed as daar soms 'n bietjie geheimsinnigheid tussen pare is. Jy hoef nie álles vir mekaar te vertel nie, want wat bly dan oor om te ontdek? Misterie hou die magic lewendig."

Die Bollywoodfliek

Florida Road is vroeër vanjaar in Durban geskiet en het Vicky laat ontwikkel en blom as aktrise onder die Amerikaanse regisseur Brad Glass. Dit het 'n Bollywood-gevoel en word teen die einde van die jaar internasionaal uitgereik.

Die SA akteurs Cokey Falkow en Corine du Toit speel ook daarin saam met 'n paar bekende Bollywoodakteurs.

"Ek speel 'n Suid-Afrikaanse meisie,'n eks-model wat modelwerk laat vaar het ter wille van haar gesin," vertel Vicky.

"Dis glad nie die gewone Bollywood-fliek waar daar gesing en gedans word nie. Die begroting was ook baie klein, so dit was 'n groot uitdaging. Maar ek het besef SA kameramanne hoef nie 'n tree terug te staan vir internasionale spanne nie."

Balans

Om al dié balle in die lug te hou is moeilik. "Als gaan oor die regte tydsberekening," sê Vicky.

"Tog, hoe meer ek doen, hoe meer kán ek doen. Ek maak ook tyd vir joga, die gimnasium en my netballigawedstryd elke Maandagaand, en ek probeer soveel as moontlik perdry."

Sy's slank en lenig, maar sy glo die ideale gewig is die resultaat van 'n gesonde lewe.

"Ek ken 'n paar aktrises wat goed lyk, maar hulle het eetversteurings en is geestelik op 'n baie scary plek. Dis nie goed om obsessief oor enigiets te raak nie." Passie en drome - dié kan jy hê. Vicky glo daar is ongelooflike outentieke stories om te vertel in SA en sy wil deel wees daarvan.

"Ons filmbedryf kan net so suksesvol soos dié in Australië of Spanje word. Ons het oorgenoeg talent."

En mense wat dinge wil laat gebéúr - nes Vicky.