Terwyl hulle met sy honde gaan stap het, het musikant Schalk Joubert die TV-ster Vicky Davis gevra om te trou. "Dit voel reg," sê sy oor hul verlowing.

Vicky dra nog nie die verloofring wat Schalk haar gegee het nie, want dié spesiale ring word eers kleiner gemaak sodat dit haar vingergrootte pas. "Dis ’n familiestuk met baie sentimentele waarde," vertel sy.

Vicky Davis wen boekprys

Sy en Schalk het glo al baie oor trou gepraat, maar aangesien sy nie seker was wanneer hy haar sou vra nie, was die oomblik steeds ’n verrassing. Sy onthou hoe hy haar die ja-woord gevra het: "Ons het ’n alleen-naweek saam deurgebring op die plaas buite Stellenbosch waar Schalk woon. Ons het oudergewoonte gaan wandel op ’n roete waar ons al jare met sy honde gaan stap as ek daar kuier. By ’n rusplek met ’n baie mooi uitsig van die wingerde het hy my gevra."

Vicky en die musikant Schalk Joubert FOTO: Facebook Vicky en Schalk
FOTO: Facebook

Sy het onmiddellik ja gesê. "Ek hoef nie daaroor te gedink het nie," verduidelik sy en wei verder uit. "Dit voel soos ’n baie natuurlike stap. Dit voel reg."

Melinda Bam praat oor haar trouplanne

Vicky en Schalk hoop om in die lente in die Boland te trou. Hulle wil dié geleentheid ’n private en intieme feesviering vir hul familie en goeie vriende maak.

"Ons neem nou een ding op ’n slag, al is daar baie om te doen."