Die aktrise en TV-aanbieder Vicky Davis het onlangs erkenning vir haar skryfwerk gekry. Haar kinderboek, A is vir appel, is bekroon. SARIE.com gesels met haar hieroor én vind uit of daar ’n nuwe liefde in haar lewe is.

A is vir appel is by die South African Early Childhood Development (SAECD)-toekennings as Beste Publikasie van die Jaar aangewys. Lees meer HIER oor dié boek.

"Ek is trots dat die boek ’n bydrae lewer en gesien word as een wat liefde vir lees by babas en jong kinders aanmoedig en ontwikkel," vertel Vicky aan SARIE.com. Dít was altyd haar motivering en bedoeling met die boek.

FOTO: Twitter FOTO: Twitter

Besiger as ooit

Sedert dié boek verlede jaar gepubliseer is, het Vicky nie stilgesit nie. Sy het bekendheid verwerf as Tessa in 7de Laan, en later ook haar lyf Pasella-aanbieder gehou. Maar nou beplan sy reeds ’n opvolg vir A is vir appel en werk tans aan ’n leesboekreeks van ses novelles vir tieners.

Sy het ook ’n toneelstuk geskryf wat by vanjaar se KKNK opgevoer word. Bladsy 3 gaan oor twee paartjies - een in die 1970's en die ander in die hede. Albei paartjies se lewens word indirek deur die ontkleedanseres Glenda Kemp geraak. Elma Postma en Armand Aucamp speel in die stuk.

SARIE is vanjaar terug by die KKNK

"Ek is deesdae net soveel agter die kamera as voor die kamera," vertel Vicky, wat ook insetselvervaardiger by Expresso en Doctor's Orders op SABC 3 is. Sy is ook ’n veldaanbieder by Doctor's Orders. "En ek is binnekort te sien in kykNET se nuwe spanningsreeks Die Byl." Dié reeks gaan oor die Suid-Afrikaanse speurder Piet Byleveld se ondersoeke. FOTO: Facebook FOTO: Facebook

My grootste lewensideaal is om altyd aan te hou beweeg en te bly groei. Sodoende kan ek altyd aanhou leer en nuwe uitdagings en ervarings hê - of dit nou as skrywer, vervaardiger, aktrise of binne ’n verhouding is.

Nuwe liefde?

Ook wanneer dit by die liefde kom, gaan dit goed met Vicky. "Soms is die grootste liefde reg voor jou oë, en wanneer jy dit eindelik raaksien, besef jy dit was nog altyd daar."

Volgens musikant Schalk Joubert se Facebook-blad is hy en Vicky glo ’n paartjie.

Vicky en die musikant Schalk Joubert FOTO: Facebook Vicky en die musikant Schalk Joubert
FOTO: Facebook

Vicky se gunstelinge

  • Japannese animasie -  sy was ook al in Japan.
  • As iemand aan haar voete vat.
  • Die winter, en sy hou van see toe gaan in die reën.
  • Soesji, soetgoed en spoed.
  • Oudhede, geskiedenis-programme en Tweede Wêreldoorlog-flieks soos The English Patient en The Thin Red Line.
  • Enigiets wat Indies is. (Lees dié reisartikel as jy ook 'n liefde vir Indië het.)

Dinge wat niemand van Vicky weet nie

  • Sy kan klavier speel, maar nie sing nie.
  • Haar volle name is Heloïse Victoria en sy het Italiaanse bloed.
  • Sy wil leer beeldhou.
  • Sy kry soms erge migraines.
  • Sy praat vreeslik in haar slaap.
  • Sy is 'n katfluisteraar.
  • Sy dink sy was in haar vorige lewe Indies en het 'n sari gedra.