Vicky Davis, aktrise en medeaanbieder van Pasella op SABC2, vertel van haar ‘groen’ lewe op ’n spesiale plaas in die Boland.

Haar kop werk beter in oop ruimtes. Vicky Davis, TV-persoonlikheid, vertel van die bloublommetjies, piepklein (net 5 mm in deursnee), wat soos ’n see ná die winter golf oor die veld – ’n lus vir die oog en sag op die siel.

Met haar lang, lenige lyf stap sy tussen die skrophoenders, die koeie wat loom lê in die gras en die spelerige honde na haar “geheime” blyplek, ’n 200 jaar oue plaas-kothuis met dik mure. Dis een van sewe huise op die plaas. Sy huur dit die afgelope jaar by die eienaar,Wendy Lilje, wat self op Bloublommetjieskloof buite Wellington in die Boland woon.

Hier word holistiese, natuurlike boerderymetodes gevolg. Dit was tyd om ’n plek te vind waar sy ’n bietjie kon herlaai – na genoeg aan die stad, maar ook stil. Sodat sy soms net kan afsluit ná al die frenetiese gewoel van lughawens, onderhoude en fotosessies in die stad. “Hier het ek geleer hoe om na aan die natuur te leef,” vertel Vicky.

“Kos-afval word vir die varke gevoer, ons gebruik net die plaas se reeks ‘groen’ skoonmaakmiddels – alles word herwin.” Saans wanneer sy by kerslig bad, gebruik sy seep wat gemaak word van kruie op die plaas, soos laventel, tiemie, lemoengras en kruisement. En nes Harry Potter is sy ook mal oor uile. Trouens, ’n familie nonnetjiesuile op die solder hou haar geselskap voor sy gaan slaap.

In die somermaande, as dit soms 46 grade is, trek sy haar plaasstewels aan (“hier is slange soos pofadders en geelslange!”) en gaan koel af in die plaasdam. En in die winter gaan sy vir lang wandelings in die dennewoud naby haar huis.

“Die reuk van die dennenaalde, veral ná die reën, is ongelooflik.” Dis ook dié hout wat sy dikwels gebruik om kaggel te pak as vriende van die stad kom kuier en sy haar lyf kok hou.

Vicky raak nie sommer alleen op die plaas nie. “Ek is dikwels in die week besig om te skiet vir Pasella. En ek het nog ’n woonplek in die Tuine, Kaapstad. My werk is so dol en dis lekker,maar hier op die plaas kan ek net wéés. Lê in my hangmat onder die boom. Speel met die plaaskat Igor, lees, goed regmaak in die huis. Of gaan gesels met die perde, Panda en Imari.”

Sy het darem internet-verbinding, hoewel sy nie televisie kan opvang nie. “Ek werk nou aan ’n boek vir kleuters en peuters wat sal help met hul eerste woordassosiasies. Dit verskyn aanstaande jaar.”

Sy doen ook – alte lekker in die plaasstilte, rooibostee in die hand – voorleggings vir RockSolid, ’n
organisasie in Kaapstad, wat deel is van die BrandsRock-groep. Dit word deur haar en sakeman Mike Joubert bestuur. Hulle help maatskappye en handelsmerke om by sosiale en omgewingskwessies betrokke te raak.

In vanjaar se Maart-uitgawe van “The Naked Issue” van Marie Claire het Vicky saam met ander SA
glansmense stylvol naak geposeer saam met ’n hondjie, Bart, ter ondersteuning van weggooidiere wat by die DBV beland. “Ek sal enigiets doen om diere te beskerm,” sê sy.

Sy het selfs al twee kursusse in diere-kommunikasie by die Kaapse diere-fluisteraar Anna Breytenbach gedoen.“Mense dink dit klink weird, maar eintlik leer sy jou net hoe om diere intuïtief te verstaan. Ons kan baie by hulle leer. Diere verstaan en aanvaar hulself onvoorwaardelik. En hulle is báie geduldig met die menslike spesie se tekortkominge. Hulle weet hoe om in die oomblik te leef!”

In Januarie vanjaar het sy, nadat Pasella ’n insetsel daaroor gedoen het, betrokke geraak by die liefdadigheidsorganisasie Cheetah Experience in Bloemfontein. “As ambassadeur probeer ek mense
daarvan bewus maak dat dié pragdiere ’n bedreigde spesie is en hoe ons hulle kan beskerm. By die jagluiperd-skuiling is daar ook ’n teelprojek en mense kan na die diere gaan kyk. Van hulle is weens verwerping deur hul ma of gebreke nie in staat om in die natuur te oorleef nie.”

Benewens natuurkind, is Vicky natuurlik ook nog aktrise. Vanjaar was sy te sien in die bekroonde skrywer Ingrid Winterbach se toneelstuk Spyt by die Woordfees op Stellenbosch en by die KKNK
op Oudtshoorn, saam met onder andere die akteur Stian Bam. Dit het verlede jaar die Aardklop Ashanti-prys gewen as beste produksie en sy het ’n Fiesta-benoeming ontvang as beste byspeler.

“Die stuk ontleed die menslike psige en ondersoek temas soos berou, verraad en moraliteit. Wow! Daar is glo mense wat uitgeloop het omdat die tonele tussen my en Stian te stomend was, hoewel ek ’n kuis rok gedra het! Ek glo aan uitdagings.”

Sy is baie trots op haar toneelstuk in die buitelug, Hel op Hemel-en-Aarde, wat op die KKNK gedebuteer het. Sy het die regie daarvan gedoen en hoop om dit na nog feeste te neem. Die stuk vat die gruwelspoor van Hansie Mowers, ’n reeksmoordenaar in die Hemel-en-Aarde-vallei naby Hermanus van 2003 tot 2007, en die akteurs Elma Postma en Ivan Botha is onder andere daarin te sien saam met die jong wenners van die Stad Kaapstad se Nasionale Toneelkompetisie vir hoërskoolleerders.

“Die gehoor word deel van die speelruimte in die weerloosheid van die nag,” sê sy. In teenstelling hiermee het Vicky verlede jaar nóg een van haar drome waar gemaak en saam met die dolfyne gaan swem by Ponto do Ouro in Mosambiek. “Dis ongelooflik om te sien hoe hulle as ’n groep saamwerk. Hulle kyk ’n mens in die oë as jy naby hulle swem. Daar is algehele harmonie en kalmte.”

Belangstellendes kan Vicky se werk op Facebook volg by “Vicky Davis – Fans” en haar blogs lees by www.pasella.com/blogs.