Hanna Grobler, wat die rol van die gewilde Kiki vertolk, gesels met sarie.com oor haar voorbereiding vir die rol. Sy's onlangs aangewys as die ambassadeur van Adventure Bootcamp (SA) en sy vertel van Kiki se besondere storielyne in die nuwe reeks.

Die storie tot dusver
Kiki (Hanna Grobler) en Fafa (Altus Theart) is nog vervreemd van mekaar en Regardt (Izak Davel), wie se storielyn in die rolprent Getroud met rugby - die onvertelde storie begin, is terug uit die Kaap en deel van die Stryders-span. Schalk (Johan Scholtz) sukkel nog om sy vrou se dood te verwerk en sy dogter Mieke (Leandie du Randt) bewys dat sy kan kers vashou by die pom-pom-meisies. Hulle beplan om die Stryders se inspirasie te wees.

Soos die Stryders baie hard werk om weer bo in die liga te wees, is daar natuurlik weer 'n gekonkel agter die skerms. Anke (Sandra Vaughn) word spanbestuurder wanneer Jimmy verdwyn, ons vind uit Brendan (Marlon Roelfze) het 'n donker geheim en Botha (André Odendaal) en Cornia (Michele Botha) is steeds agter hulle "marshmellows" aan en het nou ook 'n baba om mee te “wheel-en-deal”. Wie weet wat hierdie karavaanpark-familie deur die loop van 13 episodes gaan aanvang ...

Nuwe gesigte in seisoen 4?

Franci Swanepoel speel Anke se suster, Leatitia. Sy daag op met 'n persoonlike vendetta.

Ashley Saunders van Hartland-faam speel Raka. Hy is die nuwe Stryder-bul met 'n lekker humeur aan hom. 

Nadia Beukes (Hartland en Tree aan) speel die Stryders se nuwe sielkundige, Iva.

Aangesien die Stryders weer die beste wil wees, stel hul ook 'n nuwe bemarkingsbestuurder aan, Adam. Robbie Wessels speel die rol van Adam.