Sy was nog nooit op haar mond geval nie, kom uit ’n Struggle-agtergrond, stuit vir niemand nie, en baklei vir sake waarin sy glo. Dis nie Charmaine Beukes van 7de Laan nie. Dis Vinette Ebrahim. Sy moes al baie terugslae verwerk. Maar dis in ’n blou papegaaiveer dat sy hoop vind. “Dis waarin ek die mooi en die hoop van die wêreld sien.

“As ek dít wat tot dusver sinvol in my lewe was, kon preserveer in ’n outydse can fruit-bottel, dan sou dit ’n familiefoto, Kaapse kerrie en ’n koningsblou veer uit die stert van Pedro, my blou ringnek-papegaai, wees.Pedro is die mooiste ding in die wêreld. ’n Wêreld wat sulke mooi goed kan lewer, moet mos hoop ook hê.”

Haar jongste kruistog is teen geweld in die land. Sy het op 1 Mei vanjaar, Werkersdag, saam met ander bekendes aan ’n optog na die Uniegebou deelgeneem. Vinette is ’n stigterslid van Kunstenaars teen misdaad. Die volgende dag het haar betraande gesig op die voorblaaie van koerante die boodskap by lesers tuisgebring . . . Dis ’n saak wat vir haar byna groter as die regering self is, sê sy. In Februarie vanjaar het sy pres. Thabo Mbeki, mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, en komm. Jackie Selebi, nasionale polisiehoof, aangedurf. “Ek het gehelp om julle in ’n regerende posisie in te stem. Julle het my ’n vry en demokratiese land belowe.”

Sy het die brief geskryf nadat sy en 7de Laan se produksiebestuurder, Mari Nieuwoudt, ’n misdaadpeiling gedoen het onder sepie-akteurs van 7de Laan, Binnelanders en Backstage. By 7de Laan het 68 werknemers 188 keer onder misdaad deurgeloop en by Binnelanders is 28 werkers se lewe 75 keer en by Backstage 39 mense se lewe 171 keer deur misdaad geraak. Só kan dinge nie aangaan nie, het sy en Mari een dag besef. Maar dit help nie jy kla net nie. Hulle het besluit om iets te doen. Mari noem Vinette haar eie suster.

“Sy is na aan my hart. G’n wonder ons het een oggend albei by die werk opgedaag met die idee om ’n optog teen misdaad te reël nie.” Ná die dood van hul kollega Randall de Jager (wat Aubrey gespeel het) in ’n rooftog in Desember 2001 by ’n huis in Melville, is Francois Lensley (wat Marko speel) ook vroeër vanjaar in ’n rooftog geskiet. “Francois was gelukkig, maar gaan ’n volgende mens na aan jou weer so gelukkig wees?” wonder Mari.

Vinette en mense soos onder andere Mari, Christi Panagiotopoulos (Karien in 7de Laan) en die Xenobia-akteursagentskap het die optog gereël. ’n Menigte akteurs, sangers, digters en ander wat deur misdaad geraak is, het in rooi T-hemde by die Unie-gebou in Pretoria opgedaag. Vinette het ’n lys name afgelees van bekendes, soos Randall, asook onbekendes, wat weens misdaad gesterf het. “Hiermee wil ons vir die regering sê: ‘Ons weet julle is bewus daarvan dat óns weet wat die ware misdaadsituasie is,’” het sy van die podium af gesê. Die rooi ballonne wat losgelaat is, was vir Vinette ’n boodskap aan die slagoffers: “Ons wou vir hulle sê: ‘Ons sal julle nie vergeet nie. Julle moes vandag hier gewees het.’”

Haar ma, Millicent, het by haar gekuier toe sy met die reëlings vir die optog besig was. “Sy het my sit en dophou. ‘Jy’s jou pa se kind,’ het sy droogweg gesê.” Haar oorlede pa, Carter Ebrahim, was deel van die bevrydingstryd en destyds ook minister van kuns en kultuur in die driekamer-parlement. Sy glo haar pa sou ook hierdie saak gesteun het. “Dit gaan daaroor dat ons ná die bevrydingstryd nie vryheid het nie. Dit gaan nie meer oor kleur, taal of ras nie. Ons is almal gevangenes van misdaad.”

Maar op stel is Vinette nie net die een wat jy aan jou kant kry as jy wil baklei nie, maar ook die een teenoor wie jy jou hart uitpraat. Mari noem haar “die aartsmoeder”, en Ingrid Paulse (wat Charmaine se dogter, Vanessa, speel) noem haar “’n mentor”.

“Sy het my alles van ma-, vrou- en aktrise-wees geleer. Gelukkig baklei ons nie soos Charmaine en Vanessa nie. Ek dink in die regte lewe sou sy my lankal ’n klap gegee het!” Kwaai is Vinette beslis, maar sy is ook dikwels die een op stel wat situasies ontlont of ’n jong akteur eenkant sal roep en raad gee. “Ek dink ek het Charmaine se karakter in ’n mate oorgeneem.

Ek kan lank sit en luister en raad gee. Soms luister ek net en sê liewer niks, dit het ek al met my eie kinders geleer.” Die passie gloei in haar byna pikswart oë. Soms lig sy haar linkerwenkbrou hoog as jy ’n vraag vra wat aan ’n senuwee raak. Maar sy kan lag ook. Haar kop agteroor gooi en skaterlag uit haar keel.

Hoe lank gaan die veldtog aanhou?
Tot die regering iets aan die saak doen. Ek glo aan reg en geregtigheid, en ek sal baklei tot die dood toe as ek sterk voel oor iets.

Waar het die passie begin?
Randall se dood was ’n keerpunt. Dit was vir my vreeslik dat hy net so kort op aarde kon wees. Hy het elkeen aangeraak met wie sy pad gekruis het.

Jy het misdaad ook aan eie lyf ervaar?
Toe ’n gewapende man verlede jaar my motor wou kaap, het ’n doodse kalmte oor my gedaal. Dit was vreemd, maar ek het vrees in sy oë gesien. Die kalmte het in woede omgesit toe ek hom in my motor sien sit. Ek het ’n baksteen gesoek en op hom afgestorm. Ek het by myself gedink: “Jou blikskottel, as ek vandag hel toe moet gaan, gaan jy saam!” Maar hy het weggekom.

Hoe het jy dit verwerk?
Aanvanklik moeilik. Dit het twee weke geneem voor ek die moed gehad het om by die hek uit te ry. Ek het nie vir berading gegaan nie, maar baie teenoor vriendinne ontlaai. Mense soos Annelize van der Ryst (Matrone in 7de Laan) het baie vir my beteken. Sy het ’n gawe.

Wie is na aan jou?
My hart se punt is my kleinkind, Saige Matthew (10). Hy’s Talia (26), my jongste, se kind. Lehana (30) is my oudste. Dan is daar my lewensmaat, Ivan D. Lucas, my ma, my broer Vincent (Ashwin Kumar in die Britse reeks The Kumars at No 42) wat in Londen woon, en my ander broer Ivan, ’n IT-kenner.

Talia se ongeluk op 8 Junie moes baie traumaties gewees het vir jou?
Sy’s twaalfuur die middag beseer in ’n tref-en-trap-ongeluk en ek was om 6.15 nm. op ’n vlug Kaap toe. Ek was vreesbevange dat my kind gaan sterf. Sy het baie seergekry en onder meer haar bekkenbeen gebreek. Ek het haar 45 minute lank uit ’n koma gepraat. Die woord “Mamma” uit haar mond was ongelooflik. Ek het so gewens ek kon haar pyn wegneem. Ek was dae lank in ’n waas, maar ek is nou gevul met ’n diepe dankbaarheid.

My kind is op die herstelpad. Dit breek my hart om nie by haar te kan wees nie. Haar ongeluk het ons familie se trauma van ’n jaar gelede weer oopgekrap. My broer Ivan se seun, Ian, is in Mei (weke voor sy 25ste verjaardag) dood in ’n ongeluk. Nou moet my kind net gesond word. Sy het ’n tweede kans gekry en kan nou besin oor die lewe.

Was jy bang toe ’n skare jou en jou man vanjaar by Aardklop bestorm het?
Nee, ek was net skaam om ’n bruin mens te wees. Ek was hartseer. Ivan het op die verhoog gestaan en vir hulle gesê hulle toon geen respek teenoor ons nie. Ons gaan nie met die vertoning voort nie. Die skare was rumoerig en opstandig omdat daar nie genoeg sitplek was nie. As die polisie nie opgedaag het nie, kon dinge lelik geword het. 

Hoe het julle ná die tyd gevoel?
Hartseer en hulpeloos. Nadat die polisie ons uit die skare begelei het, is ons terug hotel toe. Ons het elkeen ’n drankie geskink en die ding deurgepraat. As ons eers begin praat, kan ons die wêreld se probleme oplos.

Voel jy kwesbaar op die verhoog?
Dis moeilik as iemand die vertoning ontwrig. Dis selfsugtig. Die gehoor betaal en hulle het die reg om dit te geniet. ’n Vrou het eenkeer haar 6-jarige kind na ons Boesman en Lena-vertoning gebring en reg voor in die gehoor kom sit. Weens die kru taal daarin word dit nie aanbeveel vir kinders onder 15 nie. Dit het my die heeltyd kriewelrig laat voel. Die arme kind het waarskynlik kom kyk hoe “Charmaine van 7de Laan” van nader lyk, en toe sien sy die kras vrou op die verhoog. Ek het ná die tyd ’n woordjie met die ma gewissel.

Is jy altyd so kwaai?
Ek kan lekker befoeterd raak, vra my man! Ek is soos ’n drukkoker, ek moet net soms stoom afblaas.

Gunstelinge

AKTEUR: Bob Hoskins en Anthony Hopkins

AKTRISE: Judy Densch

KOS: Kaapse kerrie

BOEK EN FLIEK: The Joy Luck Club, deur Amy Tan, wat ook verfilm is.

GOUE OOMBLIK: Ek het eendag in Kimberley ’n halfuur lank gesit en kyk hoe ’n vink sy nessie bou. Ek het besef, God is daar bo.

WYSE RAAD? Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.

WAT LAAT JOU LEKKER VOEL? Ek gee graag. Daarom sal ek nooit ryk word nie. Ek weet nie of dit ’n seën of ’n straf is nie.

WAAROOR IS JY DANKBAAR? Dat ek in my jong dae deur die genade van God nie moed opgegee het of by dwelms betrokke geraak het nie.

Jy is ernstig en intens. Sukkel jy met spanning?
Ek beleef nog elke dag angsvlakke voor die kamera. En op openingsaande is ek ’n wrak.

Hoe voel jy oor die Kanna wat jy as beste aktrise vir Lena in Boesman en Lena gewen het?
My hart sweef! Dis my eerste toekenning, en dit vir ’n verhoogstuk! Hopelik wys dit jy kan in ’n sepie wees en ook die verhoog aan die brand speel. Ons toer nou al 18 maande daarmee. Ek wens so ons kan ’n behoorlike speelvak in ’n teater kry.

Mense weet min van jou?
Ja, ek doen glad nie die celeb-ding van in die kollig leef nie.

Watter invloed het jou pa se politieke loopbaan op jou gehad?
Hy het die liggies van politieke bewustheid aangesteek. Ek was in st. 2 toe Verwoerd vermoor is. Ons het in rye gestaan toe die nuus aangekondig is. Ek het kliphard van my laat hoor: “Dis nou goed en wel, maar wat kom, kan dalk erger wees.” Die onderwyser was onthuts, maar dit was waarskynlik soos ek die grootmense by die huis hoor praat het.

Wat het jou pa jou geleer?
Om nooit minderwaardig te voel nie. En om almal te respekteer. Ek was bietjie kwaad vir hom toe hy in die driekamerparlement was. Ek het in daardie stadium gevoel die onderhandelinge was onregverdig, omdat dit nie verteenwoordigend van al die mense in die land was nie. Ek het gevoel hulle het ons bruin mense misbruik. Maar nou, met ’n terugblik, is ek trots op wat hy vir ander beteken het.

Wat het vir jou ná die Struggle verander?
Net een ding. Die ANC het vir baie mense hul menswaardigheid teruggegee, maar dit sit nog nie brood op die tafel of gee ’n dak oor die kop nie. Dit beskerm hulle ook nie teen misdaad nie.

Voel jy dit is tyd vir verandering?
Die huidige regering was nou lank genoeg in die magsposisie. Hulle mors geld. Die gaping tussen ryk en arm raak te groot. Ons kort balans. Ek is bang vir wat kan gebeur.

Is daar hoop vir ons toekoms?
Met die reëlings vir die optog is my geloof in die mensdom herstel. Ek weet daar is goedheid in baie mense in ons land.

Wat maak jou trots om ’n Suid-Afrikaner te wees?
Tans is daar nie baie om op trots te wees nie. Ek sal die dag trots wees as minibus-taxibestuurders leer om verantwoordelik te bestuur. En ag, as ons krieketspan tog net begin wen! Ek sal ook trots wees as die regering uiteindelik sê: “Ja, ons hoor julle!” . . . en iets daaraan doen.

Jy het jou kinders as enkelma grootgemaak?
Dit was nie aldag maklik nie. Ek en hul pa is vroeg geskei. Dit was nie ’n goeie tyd in my lewe nie.

Raak dit jou nog?
Ek wil nie in detail ingaan nie. Daar was emosionele en fisieke mishandeling. Ek het die hartseer agter my gesit, maar jy dra altyd ’n stukkie daarvan saam.

Hoe het jy oorleef?
Ek kon nie voltyds in die teater werk nie. Ek was in ’n stadium by ’n reklamemaatskappy, ek was telefonis by ’n hotel, ek het koeldrankmasjiene verkoop en ek het goed op Kaapstad se Groentemarkplein verkoop.

Wat het jy jou kinders geleer?
Al skop die lewe jou op jou agterstewe, gaan aan en hou jou kop omhoog. En daar is altyd ’n oplossing vir ’n probleem.

Jy het toe geluk gevind?
Ek en Ivan is sielsgenote. Ons deel ’n liefde vir die teater. Hy laat my lag, die ou blikskottel. Ek kan nie my lewe sonder hom voorstel nie. Ons hou mekaar regop.

Maar wie is Vinette regtig?
Ek is ’n werkende aktrise en ek wil werkend bly tot ek tagtig is. Ek hoop iemand sal vir my sê dat dit tyd is om op te hou! Dan sal ek die pad vat. Weskus toe. Dis waar ek wil gaan rus.