Volgens ’n verklaring van die ANC is hy buite gevaar en is hy slegs vir roetinetoetse in die hospitaal.

Die jongste nuus op Donderdag 27 Januarie (bron: Beeld)

14:30 Winnie het glo die hospitaal in trane verlaat

13:45 Graça Machel het volgens e.tv die hospitaal deur 'n agterste uitgang verlaat. Albertina Sisulu is ook pas daar weg.

13:00 Mandla Mandela het pas by die hospitaal opgedaag.

12:30 Lede van die ANC, onder andere Winnie Madikizela-Mandela en Jeff Radebe, het vandag die hospitaal besoek. Die weermag het ook joernaliste gedreig met fisieke geweld indien hulle sou versuim om die gebied rondom Madiba se huis te verlaat.

Ter ere aan hom het ons in die argiewe gaan rondkrap om SARIE se Madiba-oomblikke te herleef.

 
Vyf SARIE-redaksielede het hom in 1997 by Tuynhuys in Kaapstad ontmoet en onthou dit so

Prof. Lizette Rabe, voormalige redakteur van SARIE
"Ná ons onderhoud met Nelson Rohlilhala Mandela het ek die betekenis van ’n Messias verstaan. Hier was 'n Messias: 'n Gees veel groter as groot, 'n lewe veel meer as lewe. As ek terugdink aan daardie helder Tuynhuys-oggend, onthou ek hoe die hele vertrek met sy teenwoordigheid gevul is toe hy daar instap. Die onderhoud was vir my 'n lewenshoogtepunt. SARIE kon 'n inspirerende gesprek met haar lesers deel. En ons wat daar was, het weggegaan met inspirasie waaruit ons altyd weer kon tap."
Alida Vos, nou adjunk-redakteur, SARIE
“Ons het daardie dag Madiba-magic, waaroor só baie geskryf word, ervaar. Die waardigheid was dáár die oomblik toe hy die vertrek binnestap. Hy was hoflik en het ons vrae uitgebreid beantwoord. Ons was vrolik-verspot toe hy aandui hy sal saam met ons vir foto’s poseer. Ek het die indruk gekry hy geniet dit baie."
Elna van der Merwe, nou teksredakteur, Huisgenoot
“Ek was só oorstelp ek het ’n oomblik gedink ek val flou. Tydens die onderhoud was daar geen teken van die warm, vriendelike Madiba nie – dit was Nelson Mandela, wêreldstaatsman, wat ons vrae met erns en aandag beantwoord het. Eers toe ons toegestane dertig minute verby was en ons stoep toe is vir foto’s, het ons daardie sy gesien: Gul sit hy ’n arm om elkeen se skouer vir nóg ’n foto, vra uit oor Nazeema se swangerskap, oor ditjies en datjies . . ."
Nazeema White, nou IT-kantoorbestuurder, Media24
“Ek was swanger. Madiba het aan my maag gevat en gesê hy hoop dis ’n pragtige, wonderlike kind. My seuntjie, Mogamat Aasif, het net vyf dae gelewe. Dit was baie hartseer, maar my ander kinders (nou 15, 8, en 7 jaar oud) vergoed daarvoor."
Maryke Cumpsty, nou webredakteur, SARIE
“Ek was vars uit universiteit en SARIE se baba. Toe ek my vraag moes vra, was die oomblik te groot. Ek kon nie onthou wat dit was nie! Toe sê ek maar: ‘Mr President, if you don’t mind I’ll just read my question.’ ‘Not at all,’ was sy antwoord. Ek moes die artikel ná die tyd lees om te sien wat hy geantwoord het!"
Suzette Truter, nou SARIE se leefstyl-redakteur, wat destyds die artikel geskryf het:
In September 1997 het SARIE ’n eksklusiewe onderhoud met Madiba gekry. “Hy was alles wat ek verwag het – en méér. Intelligent, sjarmant, warm, humoristies, medemenslik . . . Voor ons onderhoud begin het, het hy my tot oor my twee dogtertjies uitgevra. Wat my finaal uitgeboul het, was sy afskeidswoorde: ‘Mooi loop. En sê liefde aan Heléne en Marietjie.’”

Mense wat hom goed ken sê:

 
Zelda la Grange, Madiba se persoonlike assistent

“Ek het hom ontmoet toe ek so sewe was. Hulle het ons vertel hy is in die tronk. Maar dit was ’n huis met ’n swembad, sitkamer en sjefs. Daar was ’n videomasjien en ons het flieks gekyk. Ek het gedink ek wil ook sommer gou tronk toe gaan – by my huis was daar nie die helfte van dié goed nie! (Madiba is van 1988 tot 1990 in ’n huis by die Victor Verster-gevangenis buite die Paarl aangehou.) Hy het my geleer om altyd nederig te bly. Om nie te spog oor wat jy het nie, want daar is mense met min of niks. En jy moet altyd jou beste doen, jou volle potensiaal gebruik. Ek sou graag wou hê hy moet meer tuis ontspan en ophou om rond te vlieg asof hy my ouderdom is. Verkieslik in die Transkei, ek weet hoe hy dit mis."

Ndaba Mandela, Madiba se 25-jarige kleinseun, wat politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria studeer
“Hy het aan die wêreld iets gebring wat nooit weer ongedaan gemaak sal kan word nie. Hy het gewys anderkant die kleinlikheid en kleinserigheid van ons daaglikse bestaan is ’n grootser, ruimer menslikheid moontlik – wat mense en leefwêrelde by mekaar kan uitbring en versoen. Elkeen van ons het die keuse om dié ‘groter menswees’ uit te leef."

Adv. George Bizos, Madiba se vriend van meer as 60 jaar, wat hom in die Rivonia-verhoor (1963–1964) verdedig het
“’n Vooraanstaande Amerikaanse professor het in die vroeë negentigs gesê die 21ste eeu het begin met Nelson Mandela se vrylating uit die tronk. Hy het vrede in ons land bewerkstellig. In die meer as twee dekades wat ek saam met hom gewerk het, het ek besef sy openbare lewe is ’n verlengstuk van sy innerlike vrede."

Kader Asmal, buitengewone professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap en voormalige minister van onderwys en watersake
“Vóór ons eerste ontmoeting was ek gelyktydig opgewonde en geïntimideer. Ek is egter oorweldig deur sy buitengewone welwillendheid en onvoorwaardelike gewilligheid om jou tuis te laat voel. Ek het by hom geleer om nederig en beskeie te wees in my omgang met mense uit alle vlakke van die samelewing. Die woorde wat hy die meeste teenoor my gebruik? ‘Dankie vir jou hulp!’ Eenvoudig, maar swaar aan betekenis.“

Dis wat julle gesê het:

Debbie Du Toit sê op Facebook: “Seker een van die mees wonderlikste dae in my lewe was in 2001, toe my seun 'n rolstoel van die Madiba-Kinderfonds ontvang het! Ons was almal by sy huis in Houghton en hy het met elke kind gesels en hom spesiaal laat voel. Sal dit in my lewe nooit vergeet nie...”

Lizle Mc Lellan Fourie sê op Facebook: Hy't my hand geskud by die konsert waar Pavarotti, Jose Carreras en Placido Domingo daai jaar in SA opgetree het

Rene van der Merwe sê op Facebook: Wens ek kon hom persoonlik ontmoet.... soo baie respek vir hom!

Ons hou die nuus angstig dop en hou julle op hoogte van wat aangaan.

Volg ons op twitter
Like onsFacebook blad

Deel jou boodskap tot beterskap aan Madiba hier