Erica Wessels is op die oog af ’n enigma. Dis nie maklik om inligting oor haar op te spoor nie. Ál genade is om kollegas en vriende te bel. Asof uit één mond duik woorde soos “professioneel”, “talentvol” en “toegewyd” op. Maar jy kom nie dadelik uit by wie sy regtig is nie...

Draaiboekskrywer en regisseur Henriëtta Gryffenberg, wat saam met haar gewerk het aan die gewilde SABC2 TV-drama Erfsondes, waarin sy die rolle van onderskeidelik Amoré en Adele (’n tweeling) vertolk het, vergelyk haar met die Amerikaanse aktrise Jessica Lange. “Sy’s intuïtief, kan nie jok nie, speel uit die gut en soek altyd die waarheid. Sy is sterk, maar ook weerloos. En sy het die vermoë om jou altyd op die verhoog te verras.”

Regardt van den Bergh, regisseur van die Afrikaanse dramareeks Vloeksteen, wat pas op kykNET klaargemaak het en waarin sy die speurder Elle Fourie speel, reken: “Sy gee áls! ’n Plesier om mee te werk.”

“Sy is byna soos ’n Anna-Mart [van der Merwe],” reken Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, wat die voorblad-fotosessie behartig het. “Eerstens aktrise. Dit gaan vir haar oor die wérk. Die roem volg soort van terloops.

Vandag besef sy om akteur te wees definieer haar nie. Sy doen dit die afgelope sewe jaar voltyds, maar sê eerlik: “Daar is belangriker dinge met ewigheidswaarde. As dít my enigste raamwerk was, sou ek totaal messed up gewees het. Dis nie asof ek ander se menings minag nie. Dis vir my báie belangrik wat mense van my dink. En ek weet deur dít te erken, maak ek myself weerloos. Maar jy moet leer onderskei wat werklik saak maak.”

Toneelspel vervul Erica nie.Dit inspiréér haar wel en sy’s baie lief daarvoor. “Dit gaan oor stories vertel, mense se psige ondersoek...Teater kan menings verander, idees losmaak..."

Lees die volledige onderhoud met Erica in jou Augustus 2012-uitgawe van SARIE

SARIE TV: Erica vertel van haar Vloeksteen-ervaringe en dat sy "nie nét intens is nie."