Johan Badenhorst, ervare televisieregisseur en programvervaardiger, se eerste Voetspore-programreeks is reeds in 2000 deur kykNET uitgesaai. Daarna is die Voetspore-span se bekendheid verhoog deur nóg drie reisprogramme op kykNET, wat ook op M-Net herhaal is. In 2008/09 is Van Gansbaai tot Gaboen ('n reis oor 16 000 km) uitgesaai. Die gelyknamige boek het ook onlangs verskyn. Marguerite van Wyk het met hom gesels.

Jou hoeveelste reisboek is dit dié en hoeveel beplan jy nog?
My vyfde. Dagboek hou is deel van wat ek doen wanneer ek reis. Elke oggend dokumenteer ek als op my skootrekenaar. Dis 'n reisverhaal in die volle sin van die woord. Ek beplan nog hope reise, veral in Afrika.

Hoekom juis in Afrika?
Dis so 'n onontginde kontinent. Dit voel dikwels of mens die eerste persoon is wat op 'n plek kom. En dikwels ís mens. Die swart kinders skree soms vir ons Mzungu. Dis Swahili vir ''iemand wat dronk is''. Dis nie omdat ons werklik te veel drink nie. Maar ons ry dikwels heen en weer. Dit lyk vir hulle asof ons verdwaal. Hulle noem ons ook Le Blanc. Die wittes. Hulle wil orals presentjies by ons hê. Die natuurtonele in Afrika is ook ongelooflik. Europa is natuurlik ook spesiaal, maar daar voel dit asof jy een van 'n magdom toeriste is. Jy is een van miljoene mense wat oor die brûe in Praag stap of teen die Eiffeltoring opgaan.

Word julle goed ontvang in Afrika?
Die oomblik as die mense hoor ons kom van Suid-Afrika, is daar dadelik 'n goeie ingesteldheid by hulle. Hulle sal dinge soos Madiba en Bafana Bafana sê. Daar is geen kwessie oor ons velkleur nie. Die gids wat ons in Mali gehad het, het my onlangs opgebel net om te hoor hoe dit gaan. My vrou sê ek het nou al internasionaal vriende gemaak. Die mense in Afrika beskou Suid-Afrika as die plek van melk en heuning.

Wat doen reis vir jou siel?
Dit is die wonder van stories beleef. Ek onthou destyds as mens oorsee gegaan het, was die lekkerte van terugkom altyd om in die sitkamer te sit en stories vir die familie te vertel. Nou is reis vir my 'n leefwyse. Dis 'n kreatiewe manier van lewe. Dis vir my lekker om te sien wat sin gee aan ander mense se lewens. Wat hulle eet, drink, hoe hulle aanbid, wat hulle gelukkig maak. Afrika is so vars, want daar is baie dinge waarvan ons niks weet nie. In Westerse lande is ons reeds gewoond aan baie van die gebruike. Mense is geneig om te dink aan Afrika as die donker kontinent. Die plek van die barbare. Maar baie van die gebruike en tradisies van die sogenaamde barbare het 'n fyn sofistikasie wat oor eeue opgebou is.

Wat het uitgestaan op dié reis?
Daar was baie hoogtepunte. Die oerwoude in Gaboen is ongelooflik. Dis bosse wat ons nie ken nie. Daar woon God in die bos. Dis baie belangrik vir jou siel. Die olifante, riviervarke en buffels in Gaboen lyk anderste. Jy voel soos 'n ontdekkingsreisiger as jy dit sien. Nie net soos 'n toeris nie.

Eet julle lekker op dié reis?
Ons ry nie ná donker nie en dan maak ons lekker kos. Voorgereg, hoofgereg en nagereg,. Een van my spesialiteitsgeregte om te maak is in 'n gietysterpot - 'n gebakte lasagne. Elke ou kry 'n beurt om kos te maak. So af en toe braai ons en dis ook lekker, maar dit raak vervelig om dit elke aand te doen. En as ons braai, maak ons interessante bykos soos 'n gebakte knoffelbrood en Spaanse rys. Ons het ook self vis gevang toe iemand vir ons soesji in Angola gemaak het.

Wat leer jy van jouself op dié reise?
Om met jouself te kan klaarkom. Ons is ses mense wat drie maande saam toer. Maar jy is 'n groot tyd van die dag alleen in jou motor se kajuit. Soms is daar iemand wat saam met jou ry. Dis asof jy in 'n kokon is en as jy nie van jouself hou nie, sal jy sukkel. 'n Mens het baie tyd vir besinning oor wie en wat jy is. Reis is eensaam. Jy is weg van die huis en waar my vrou gewoonlik my klankbord is, is daar nou niemand.

Slaap julle saans in tente of onder die sterre?
Ons slaap dikwels onder die sterre, behalwe as daar hiënas in die omtrek is of as ons in wildreservate is. Dis fantasties en hou mens se kop skoon. Jy staan nooit met 'n hangover op as jy buite slaap met net die sterrehemel bokant jou nie. Selfs al het jy hoe lekker gekuier. Ek dink 'n direkte oorsaak van 'n hangover is stres!

Wat is die naam van jou volgende boek?
Ons het drie weke gelede teruggekom van ons reis van Casablanca tot in die Kaap. Dit het 100 dae geduur en was 'n moeilike, harde reis. Dís die volgende boek.