Kersfees 2018 gee haar broer, André, vir haar ’n swart Moleskine-notaboekie. Voorin skryf hy: “Daar is ’n lig wat ons almal op hierdie planeet moet volg en ek glo vrede wag vir die wat aanhou om daardie lig te volg ... hierdie boekie is vir jou om die lig vas te vang.”

Sy het dié dagjoernaal (en ’n hele paar ander) op haar agt maande lange soloreis deur 26 lande volgeskryf ... Die 24-jarige Carina Troost van die Paarl glo sy het dié “lig” gevind – “in wegslaan-oomblikke” waar sy besef het hoe baie sy kan leer, hoe mense verskil, hoe ongelooflik die natuur is en hoe sy alles moet respekteer en waardeer. “Hoe verduidelik jy vir iemand die wonder van ’n lugballonrit in Kappadosië waar jy afkyk op ’n unieke Turkse landskap?” Sy is ryper en kyk holisties na die wêreld, dankbaar vir haar lewe in Suid-Afrika, want hier is baie dinge om op trots te wees.

Ná haar meestersgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (haar tesis is in 2019 deur die Landbou-ekonomievereniging van Suid-Afrika as die beste in die land aangewys) het haar pa, Pieter, ’n dokter, haar aangemoedig om die “universiteit van die lewe” in te vaar. Haar ma, Narine, wat die gastehuis op hul plaas bestuur, het die plan gesteun.

Carina se reis was ’n projek. Sy moes deeglik navorsing doen en het blogs van soloreisigers verslind en Lonely Planet-gidsboeke behoorlik bestudeer. As kind het sy saam met haar ouers na ongewone bestemmings soos Suid-Amerika en Egipte gereis. In Suid-Afrika kampeer hulle graag en pak saam staptoeres aan. Die hele gesin het ook elk ’n skubaduik-lisensie en is dol op vakansies in Mosambiek.

Dié slag sou sy die reis alleen aanpak, iets wat haar heeltemal uit haar gemaksone sou dwing. Waar ons in ’n koffietuin in Kaapstad gesels, met Carina elegant in haar klassieke wit slooprokkie, pêreloorbelletjies en natuurlike grimering, kan ek my kwalik indink dat sy met ’n rugsak reis ... Tans soek sy ywerig werk.

“’n Mens is geneig om in boksies te leef. Wanneer jy reis, moet jy jou oopstel vir ander maniere van dink en doen. Ek het geleer ek kan koelkop bly as dinge verkeerd loop. Jy hoor hoe ander gesels oor politiek, jy eet hul kos en hoor hul taal. Ek het ook al wat ’n kunsmuseum, galery, katedraal, kerk, park en monument was, besoek. Jy besef alle lande het probleme en kry meer waardering vir jou eie land.”

Sy moes vinnig aanpas met hobbels in haar pad soos taalprobleme, af en toe vuil kommunale badkamers, en “jeughostelle” met stapelbeddens waar daar, veral in Europa, ook bejaardes tuisgaan. “Party kamermaats is slordig, soms kom hulle laatnag dronk die kamers binne. Ander het nagmerries, soos die ou oom in die jeughostel in Krakow, en hou jou wakker.”

Voeg hierby uitdagings soos vreemde geldeenhede, siekword in die vreemde, vrouwees in ’n Moslem-land, sinchronisering van visums, om van openbare vervoerstelsels sin te maak en jou weg op jou eie te vind ... Ná dié jaar het haar sin vir rigting drasties verbeter.

In die Filippyne ry sy op ’n snikhete dag in ’n oorvol bus. Die slaggate en skerp draaie op bergpasse maak van die passasiers naar en hulle gooi op. Sy het nuwe respek vir die paaie in Suid-Afrika gekry. “Ek was gelukkig om in die Filippyne ander soloreisigers, soos ’n Spanjaard, ’n Amerikaanse vrou, drie Duitsers en ’n Australiër te ontmoet met wie ek nou nog kontak het.” Met hulle het sy gaan snorkel, eilande op bromponies verken (en een keer sopnat gereën) en natuurwonders soos die Cambugahay-waterval besoek.

In El Nido op die Palawan-eiland, ook in die Filippyne, het sy ’n Franse vrou ontmoet wat haar later in Provence met die motor na klein dorpies geneem het. “Jy besef hoe belangrik dit is om vriende te maak as jy alleen reis. Dit is veiliger en prettig om in ’n groep uit te gaan.” Maar as Suid-Afrikaner is haar “gevaar-radar” goed ontwikkel en vertrou sy op haar intuïsie.

Hoewel haar pa haar onderhou het, moes sy streng binne ’n begroting leef. “Ek sou soms spotgoedkoop straatkos soos ’n gebraaide mielie eet.” In Wene het sy een aand ’n blikkie tuna en ’n appel in haar kamer geëet terwyl sy heimlik hunker na haar ouers wat tuis aan sappige skaapboud en aartappels smul. Met haar pa se woorde, “Jy moet jou rugsak goed oppas. Jou hele lewe is die volgende jaar daarin,” skop haar reis op 25 Februarie 2019 in die Filippyne af. Sy het niks verloor nie, vertel sy trots. Behalwe ’n swembroek ...

Tydens die agt maande besoek sy: Amsterdam, Sicilië, Malta, Denemarke, Noorweë, Swede, Estland, Letland, Litaue, Warskou, Berlyn, Praag, München, Wene, Boedapest, Split, Venesië, Rome, Florence, Lauterbrunnen, Milaan, Nice, Avignon, Barcelona, Georgië, Turkye, Jordanië en Israel.

André, wat self ná sy studies deur Suid-Amerika en Afrika gereis het en nou as konsultant vir ’n Duitse firma in Muizenberg werk, was toevallig tydens haar reis by die hoofkantoor in München, en hulle kon mekaar sien.

Op haar Samsung Note 9-slimfoon wys sy lieflike eiland-tonele van turkoois water in die Filippyne. “Daar is meer as seweduisend eilande en ek was op agt.” Op 10 Maart wys haar dagboek: MOALBOAL. By dié kusdorp gaan snorkel sy te midde van die bekende sardientjieloop. “Wat ’n ervaring om tussen honderdduisende van dié vissies te swem.”

Terloops, sy het net ’n slimfoon saamgeneem – en ’n ou selfoon, vir ingeval dit gesteel word. “Ek was bang ’n rekenaar of iPad word gesteel en dit was te swaar. My rugsak het slegs 20 kg geweeg.” Daarin was toiletware, bietjie grimering, onderklere, ’n paar ligte rokkies, warmer klere vir Europa en Skandinawië, en ’n basiese medisynesakkie. Sy het ’n paar seilskoene, ’n paar stapskoene en twee pare sandale ingepak.

Om vooraf visums te reël kan ’n nagmerrie wees, maar sy het ’n toeriste-visum vir die Filippyne gekry. “Dit was lekker om twee en ’n half maande in die Filippyne dinge uit te kyk. Dit was ’n groot aanpassing om die eerste keer soms met tot sewe, naas myself, ’n kamer in jeughostelle te deel en in kommunale kleedkamers te stort, maar jy pas gou aan.” Al wat sleg was, is dat een van haar swembroeke voete gekry het toe sy dit opgehang het om droog te word.

Carina het slegs haar eerste week se verblyf in die Filippyne vooraf bespreek. “In Europa moes ek meer gestruktureerd beplan en dikwels vooraf verblyf reël. Aanvanklik wou ek Oos- en Wes-Europa besoek, maar die Schengen-visum geld slegs drie maande. Daarna het ek Georgië, Turkye, Israel en Jordanië besoek, waar Suid-Afrikaners nie visums benodig nie.”

Sy moes fyn beplan om alles te sinchroniseer. Soms was sy dae lank alleen, en dan het sy weer by ’n georganiseerde toer aangesluit.

In Europa het sy die Hop On Hop Off-bustoere, van die Australiese maatskappy Busabout, nuttig gevind. “Dit is veilig vir studente wat deur Oos- en Wes-Europa ry. Hulle beveel verblyf by jeughostelle aan en laai jou daar af en op. Jy hoef nie met bagasie te piekel tot by ’n plek, net om daar aan te kom en te besef dit is onveilig nie.”

By haar broer in München kon sy lekker Afrikaans praat. Begeisterung het haar oorval in die sprokiesmooi dorpie Lauterbrunnen in Switserland. “Dit voel of jy in ’n skildery inloop.” Sy en drie vroue wat sy ontmoet het, het staproetes in die Alpe gedoen, met die sneeu nog soos versiersuiker gestrooi. “Dit was soos ’n droom, omring deur mere en watervalle ...”

Ook Europa het sy uitdagings gehad. In München sukkel sy om die regte trein na haar blyplek te vind. Later hoor sy die stasies op die roete is onder konstruksie. “Iemand het my wel uiteindelik gehelp ...”

In Rome, per bus na die Vatikaanstad, kon sy nie ’n kaartjie koop by die gebreekte kaartjiemasjien nie. Toe sy dit aan die kondukteur op die bus wou verduidelik, verstaan hy nie. “Gelukkig het ek ’n ekstra driedagpas by my gehad.”

Een aand baie laat, ná ’n pizza in Venesië en op pad terug na haar blyplek, was sy nie seker by watter busstop sy moet afklim nie. Sy klim te vroeg af, in ’n donker, ietwat ongure woonbuurt. Google Maps en 2 km later daag sy by haar bestemming op. Sy het volgens haar gesondheidsapp gemiddeld 13 km per dag gestap. “My sneakers was vol gate toe ek terugkeer na Suid-Afrika.”

Danksy tegnologie kon sy in kontak bly met familie, maar tog het sy verlang. “Hoe lekker om in Rome twee uur lank met twee wildvreemde ouens van Potchefstroom Afrikaans te kon praat.’’

Sy het geleer hoe om vir vreemdes vrae te vra en besef daar is meer goed in die mensdom as sleg. Italië was ’n kos-hoogtepunt. Haar dagboek lees: 21 Julie. Florence 42 ºC. (“Dit was daai hittegolf.”) Vir Mamma chili oli paté gekoop. Toskane gemaak en toe gaan swem en tan by die hostel se swembad. Volgende dag wyntoer.

Sy onthou hoe gereeld sy verkoue gekry het. In Warskou, Pole, het sy griep gehad. In Toskane is sy met ’n verstopte neus en seer keel op ’n wyn- en stadstoer. “Maar om dertig jaar oue balsemasyn, of lekker wyn en truffels en pasta te beproef vergoed daarvoor.”

Ook in Georgië, waar haar ma ’n maand lank by haar aangesluit het, besoek hulle die wynstreke. “Volgens die Georgiese metode – van die oudste ter wêreld – word wyn gemaak deur dit in kleipotte te verouder. Die potte, qwewri genoem, word dan ondergronds gestoor – sonder enige bymiddels.”

Sy en haar ma het lang staptogte in die berge aangepak en tuisgegaan op klein dorpies soos Oesjgoeli, waar die bekende Middeleeuse Svan-vestingtorings is. “Ons het kamers by mense gehuur en saam met hulle geëet.”

Een van Georgië se bekendste geregte is chatsjapoeri. Sy vertel met smaak hoe jy ’n rou eier breek oor dié bootvormige brode, gevul met gesmelte kaas. “Ek eet graag kos eie aan elke streek. In Split, Kroasië, het ek risotto gekleur met die swart ink wat ’n seekat spuit, geëet. In Selçuk, naby Efese in Turkye, was gözleme (Turkse pannekoek) gevul met spinasie, kaas en maalvleis so geurig.”

Oral waar die manne haar in Istanboel agtervolg het, sou hulle “hola, hola” roep, omdat sy Spaans lyk. “Aanvanklik het al hul praatjies my geïrriteer, maar later lag jy.” Op ’n groot tradisionele Turkse seilboot (gulet) het hulle aan die Turkse Riviera verby kusdorpe soos Fethiye, Antalya en Kas geseil. “Turkye se speserybasaars, die Turkse bad (hammam), geure, kleure, die andersheid, die geskiedenis wat uit alles straal, was besonders.”

Maar in Jordanië, ’n veel strenger Moslemland, moes sy fyn trap. “Ek moes jurke, lospassende langbroeke en serpe in Amman koop.” Daar moes sy létterlik sweet vir die voorreg om te kon reis. Op 10 Oktober lees haar dagboek: WADI RUM WOESTYN ... die naaste landskap wat soos Mars lyk. Die fliek The Martian is hier geskiet. Rooi sand met unieke rotsformasies en wilde kamele wat rondloop ...

Israel was die laaste en duurste land op haar reis. “Om in die Dooie See te dryf was magies. As jy Masada (’n antieke fort uit die eerste eeu v.C.) met sonsopkoms bestyg, voel jy of jy met die geskiedenis saamsmelt.”

Gereed om terug te vlieg na Suid-Afrika loop dinge effe skeef. Op 22 Oktober vlieg sy van Tel Aviv na Athene, waar sy dertien uur moes wag. Van daar na Istanboel. Maar ’n paar uur nadat hulle daar opstyg, is daar fout met die vliegtuig. Hulle draai om. Maar dit is gevaarlik om met ’n vol tenk brandstof te land en daar word ses uur lank bo Istanboel gesirkel en toe ’n noodlanding gedoen. Sy het nie gestres nie, geweet die einde is in sig.

Op 23 Oktober land sy dankbaar om elfuur die aand op Kaapstad Internasionale Lughawe. Volgende wil sy ski in Chili, en Portugal en Spanje besoek. Sy glo, soos iemand gesê het: Om te reis is om dinge te vind wat jy nooit eens besef het jy voor soek nie.

WENKE
  • Doen uitstekende navorsing.
  • Neem oorpluisies as jy in jeughostelle bly.
  • Lees vooraf resensies op die Hostelworld-app.
  • Koop ’n gemaklike rugsak wat jy ook kan trek.
  • Loop jou seilskoene en loopskoene vooraf in.
  • Neem ’n ekstra bankkaart en selfoon.
  • Maak afskrifte van al jou reisdokumente.
  • In Europa is vooraf besprekings vir verblyf en ’n retoervliegkaartjie ’n vereiste by grensposte.