‘My vriendin Renda King se gewigsverliesverhaal is een van vele oppe en affe. Dis steeds ’n daaglikse stryd, maar haar storie is ook een van sukses wat met harde werk gepaardgaan.

Op 13 Julie 2014 het Renda saam met haar gesin die Gold Reef City in Johannesburg besoek. Sy wou op die gewilde Anaconda-tuimeltrein ry, maar haar sitplek se harnas wou nie toemaak nie. Met ’n glimlag op haar gesig het sy gemaak asof sy te bang is, maar in haar binneste het sy gehuil. Hoe kon sy skielik nie meer in die sitplek pas nie?

’n Foto van haarself op die waterrit het haar aaklige vermoede bevestig. Twee swangerskappe kort ná mekaar en ’n gereelde rondtrekkery het sy tol geëis.

Renda se suster het haar van Curves vertel en sy het met groot ywer gaan aansluit. Sy het ses dae per week geoefen, 10 000 treë ’n dag gestap en hul gesonde eetplan begin volg. Binne ses maande, teen Januarie 2015, het sy reeds 30 kg verloor.

Hoewel dit daarna stadiger begin gaan het, het sy teen Februarie 2016 ’n totaal van 45 kg verloor. Sy het toe by ’n gewone gimnasium gaan aansluit met ’n groter keuse van klasse, waarna sy nóg 10 kg afgeskud het.

FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King

Min of meer in hierdie tyd het sy ’n intra-uteriene apparaat laat insit. Ongelukkig was dit ’n groot fout, want sy het erge newe-effekte daarvan gekry. Binne ’n jaar het sy weer 35 kg aangesit. Die apparaat is verwyder, maar haar hormone was deurmekaar. Hoewel sy hard probeer het om weer gewig te verloor, het sy 10 maande lank gesukkel om 10 kg af te skud.

In September 2018 het Renda met Happy Shrinkers se gewigsverliesprogram begin, en uiteindelik het die kilogramme weer begin wegsmelt. Sy het ook met gewigte begin oefen en ’n liefde daarvoor ontwikkel. Hier oefen ek en sy saam met ’n persoonlike instrukteur wat vir ons persoonlike eet- en oefenplanne uitwerk.

Van haar nommer 26-jeans pas Renda vandag gemaklik in ’n nommer 12. Was dit maklik? Aarde, nee, sy moet elke dag opnuut die besluit neem om reg te eet. Elke oggend moet sy 4:00 opstaan om 5:00 in die gimnasium te wees. Daar was baie opofferings langs die pad, maar geen geld kan gesondheid koop nie.

Emosioneel is dit daagliks ’n uitdaging, veral vir ons vroue wat een keer ’n maand sommer net vet en lelik en opgeblaas voel en nie werklik lus is vir gesond eet en sweet in die gim nie. Maar die pad na sukses is nie ’n reguit een nie. Daar is baie trane, baie hoekoms en jy moet jou motivering elke dag voed.

Edna en Renda saam in die gym
Elda en Renda saam in die gym
Renda moet hard werk om haar figuur te onderhou
Renda moet hard werk om haar figuur te onderhou

Mense sê graag “jou kop moet reg wees”. Dit is so, want jou brein bepaal tog maar op ’n daaglikse basis jou emosies en optredes. Maar jy moet ook eet. So hoekom dan nie maar net gesond eet en suiker en slegte goed uitsny nie? Elke keer as jy ongesonde kosse eet, styg jou bloedsuikervlakke, jy voel goed vir so ’n uur of twee, tot jou suiker val en jy jou aan nog ongesonde kos vergryp. Renda het my geleer hoeveel beter jy voel as jy met gesonde groentes en proteïen jou bloedsuiker meer konstant kan hou. Wat jy in jou mond sit, is 80% van die probleem. Oefening maak nie slegte eetgewoontes ongedaan nie.

Dit alles gebeur allermins oornag. Met tyd word dit makliker en daar gaan ’n dag kom wat jy besef jou harde werk werp vrugte af. Op ’n doodgewone dag bereik jy ’n mylpaal, soos Renda s’n op 23 Augustus vanjaar toe sy uiteindelik in haar nommer 12-broek kon pas.

’n Obsessie met die skaal is ’n fout wat baie vroue maak. Dit is net ’n nommer. Weet wat in jou lyf aangaan, hoeveel liggaamsvet jy het wat jy moet verminder, en hoeveel spierweefsel jy moet hê sodat jou metabolisme vinniger kan word.

En wat van sosiaal verkeer, partytjies en dies meer? Dit bly jou keuse wat jy in jou mond sit. As dit belangrik genoeg is, neem jy jou eie kosse saam. Werk ’n lekkerny so nou en dan in. Dit verg uithouvermoë, volharding en wilskrag. Onthou bowenal: “Consistency is key.” ’

Het jy ’n inspirerende verhaal van hoe jy jou lewe verander het? Stuur ’n e-pos na annemie.lombard@sarie.com

FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King
FOTO Verskaf / Renda King

SLANKER MET SARIE

500+ VROUE Dís hoeveel lesers al by Slanker met SARIE aangesluit het. Hoekom? Die oefen- en eetplanne is ontwerp deur kenners, die maaltye is bekostigbaar, jy benodig die minimum oefengereedskap en jy kan alles teen jou eie tempo doen. En as jy motivering en ondersteuning kort, is daar ’n Facebook-groep waarby jy kan aansluit.

*Vir Vrouemaand kry SARIElesers 30% afslag. Prys: R350 vir ’n 12-week-eet-enoefenplan (BTW uitgesluit, terme en voorwaardes geld). Gebruik die koeponkode #Vrouemaand by die digitale betaalpunt. 

Besoek Slanker met SARIE hier