Sy dra haar lippe rooi by haar Converse-tekkies én hakskoene. 

“Wat jy aantrek, is ’n uitvloeisel van jou eie kreatiwiteit ... My styl kan nie ingeperk word nie, daar is soveel fasette aan een mens se persoonlikheid. Ek hou van klassiek en sjiek, kuns en boheems, glitz en glam. Ek het ’n liefde vir mooi aantrek, maar ek is nie ’n modeslaaf nie,” vertel die aktrise Donnalee Roberts aan SARIE.

Donnalee glo vroue kan sterk wees én terselfdertyd vroulik. “Sterk en sag, sterk en weerloos. Vroue kan nie ingeperk word nie.”

FOTO Chanel Oosthuizen

Elke vrou moet dra wat haar gelukkig maak, volgens haar. “My wens is dat elke vrou braaf genoeg sal wees om te ontdek wat hulle uniek maak. Die wêreld verwag van ons om saam met die stroom te swem, maar jy ontdek wié jy is as jy juis teen die stroom swem. Ons moet nie net onsself vier nie, maar ook ander vroue.”

Stroomop, die derde fliek van Donnalee en haar verloofde en vennoot, Ivan Botha, gaan juis hieroor. “Daar is ’n plek vir almal onder die son. As vroue vergeet ons dikwels ons innerlike krag. Maar elke vrou is sterk, elkeen kan in die lewe stroomop swem.”

Het jy al die lokprent van Stroomop gesien? Dit draai tans landwyd in teaters.

Vir elkeen van die fliek se premières het Donnalee ’n unieke skepping van die ontwerper Vesselina Pentcheva gedra. “Ek en Vesselina kom al ’n lang pad saam. Dis die grootste voorreg om haar kunswerke te dra. Haar mooi hart word na elke skepping oorgedra.”

Ontwerper Vesselina Pentcheva se noukeurige sketse vir aktrise Donnalee Roberts se drie uitrustings. FOTO Verskaf

Vir die Johannesburgse première het Donnalee ’n smaraggroen rok met blinkers en ’n oop rug gedra. Agterop die rok se skouers was delikate blomme vasgewerk. “Om hierdie rok te dra het gevoel soos die definisie van ’n droom wat waar geword het.”

Volgens Donnalee wou sy en Vesselina fasette van vrouwees uitbeeld. “Sterk, vierkantige lyne simboliseer die idee dat jy sterk en terselfdertyd weerloos kan wees. Die blomme op die rok simboliseer lewe en ’n nuwe seisoen wat aanbreek.

Donnalee se eerste uitrusting. FOTO Charné Kingwill

En die rok se kleur? Met Stroomop se verfilming langs die Oranjerivier was groot dele van die landskap dor en woestynagtig, maar langs die rivier was daar alle skakerings van groen. 

“My gunsteling-kleur was nog altyd blou. Maar sedert Stroomop trek groen my oog. En met die blinkers wou ons simboliseer dat jy jou lig in die wêreld moet skyn.”

By die SARIE-première het Donnalee ’n kort fluweelrok gedra met dramatiese detail op die regterskouer. “Ons wou graag hulde bring aan SARIE met die rooi, en die lyne op die regterskouer is geïnspireer deur die SARIE-s. Vir my is ’n SARIE-vrou die definisie van ’n Stroomop-vrou. Sy is sterk, maar speels.”

Donnalee wou graag hulde aan SARIE en die SARIE-vrou bring. "Ek's al vir jare deel van die SARIE-familie..." FOTO Verskaf

En by die laaste première in Kaapstad het sy ’n power suit-oomblik gehad: ’n wyepypbroek en blinkertop met ’n blommotief. 

“Dis ’n alternatiewe power suit. Die blinkers simboliseer weer die idee van die lig wat jy skyn. En die wyepypbroek is vleiend. Ek het sterk en vroulik gevoel.”

Donnalee beleef haar eie 'krag'-oomblik in SARIE. FOTO Nardus Engelbrecht

As Donnalee nie ’n liefde vir storievertelling gehad het nie, sou sy graag ’n voltydse ontwerper wou wees. Maar nou, nes haar karakter in Stroomop, waag sy. “Ek het ’n reeks ontwerp, dis nog in sy babaskoene, maar ek wil dit graag einde vanjaar bekend stel.”

Die Romantic Collective sal wees vir die moderne vrou wat met een uitrusting kan “up dress en down dress”.