Interessante man, dié David Kramer . . .

  • Wanneer hy in New York is, gaan kuier hy graag by die musikant Paul Simon in sy woonstel. Paul kuier op sy beurt by David wanneer hy in SA is. Hulle het glo een aand by David se huis in Oranjezicht, Kaapstad, gebraai en na die sterre gekyk. 'n Strofe uit Paul se liedjie "The Boy in the Bubble" – "The way we look to a distant constellation that’s dying in a corner of the sky" – het net daar ontstaan.
  • David reis slegs met een tas, dan hoef hy hom nie te bekommer dat hy dalk iets sal verlê nie. Hierby sy Apple-skootrekenaar en een hoed.
  • Sy gunsteling SA-restaurante: Marianas in Stanford, Die Strandkombuis in Yzerfontein en Clarke of the Karoo in Barrydale.
  • Sy liedjies word meestal deur die visuele geïnspireer - en hy besoek veral kunsgalerye (met 'n notaboek byderhand) op die plekke waar hy kom. "Ek hoor nie musiek in my kop nie. Ek sien eers die prentjie, dan kom woorde en eers dan die musiek."
  • Die Ballade van Koos Sas is byvoorbeeld geïnspireer deur 'n manskopbeen wat David in 'n museum op Montagu gesien het. Dit sal die eerste Afrikaanse musiekblyspel wees wat in Londen opgevoer word (met onderskrifte, natuurlik!).
  • Hy is die beskermheer van die Donkey Sanctuary op McGregor. Ou, mishandelde donkies word hierheen gebring en versorg.

Bron: British Airways se Horizons-tydskrif, April 2009