Elizma Theron

Ek gaan 'n paar shows in en om die Hartenbos-omgewing doen, en om nie te veel te reis nie het ek vir my en 'n paar vriendinne by Diaz-strand 'n huisie gekry om vir so twee weke te lê en ontspan (en aan ons tan te werk).

My lekkerste en ideale Kersfees is om, maak nie saak waar dit is nie, by my ouers te wees, maar dit is maar altyd moeilik met so baie vertonings in dié tyd. Ek sien tog baie uit daarna om Kersfees en Nuwejaar saam met my vriende (family away from home) te spandeer.

Daar gaan definitief 'n Kersboom wees en ons almal gaan vir mekaar geskenke koop, maar ons het afgespreek om te kyk hoe kreatief elkeen kan wees, so niemand se geskenk mag bo R20 kos nie. Ons almal gaan net lekker eet, lekker lag en lekker rus.


Cindy Nell

Die jaar neem my man my na 'n vyfster-oord in Mauritius (ons is mal oor die plek) vir 'n week so net voor Kersfees. Daar wil ek net op die strand lê en rus, cocktails drink en swem in die lekker warm see.

Ons is twee dae voor Kersfees terug en gaan dan na ons plaas in die Natalse Middelande, Nottingham Road, waar ons familie by ons sal aansluit.

Ons sien uit na 'n familie-Kersfees. Oukersdag is gewoonlik 'n gewerskaf in die kombuis terwyl die manne buite bocha speel en braai. Kersoggend eet ons 'n ligte, heerlike ontbyt terwyl ons geskenke uitruil. En die middag is ons Kersete en dit hou die hele dag aan@

Dan spandeer ons net lekker rustyd saam en speel speletjies, ons is mal oor 'n vol huis, met honde en kinders en ouers en chaos.

Ons maak die hele huis op met liggies en feestelike versierings, en al die vroue maak beurte om te kook en maak hulle spesialiteitsdisse.

En waar beter as langs die rivier onder die groot bome saam met die hele familie?

Christi en Nico Panagio

Christi Panagio

My sussie en haar kinders het hierdie jaar voor Kersfees kom kuier, so ons het lekker familietyd saam gehad. Maar vir Kersfees dié jaar gaan ons alle tradisies verbreek. Waar ons gewoonlik saam met familie is, gaan 'n klomp van ons vriende die jaar oorkom na ons huis toe, en ons gaan 'n kalkoen aandurf...

Ons was drie keer in die jaar wat verby is oorsee, so ons gaan hierdie vakansie net by die huis bly en die Kaap geniet!

Sonja Herholdt

Sonja Herholdt

Die afgelope 13 jaar was dit maar moeilik omdat ons as gesin maar die gebrokenheid van 'n egskeiding beleef. Die een Kersfees moet die kinders by my wees en die volgende Kersfees by hul pa.

Daarmee saam beleef ons dan dalk die realitieit van hoekom Jesus moes sterf vir 'n gebroke wêreld... en besef mens met empatie hoekom Kersfeestyd vir baie mense nie feestyd is nie, maar wel 'n eensame tyd.

Ek het ook die eerste paar jare van my "weer oorbegin" gewerk en getoer oor dié tyd. So daar is maar min tradisie as 'n gesin. Ek sit wel Kersliggies aan en maak 'n Kersboom op en vier só die Gees van Kersfees. Gelukkig weet ek en die kinders dat die Vrede en die Vreugde van Jesus ons nog deur elke Kerstyd gedra het... en dit is waaroor Kersfees vir ons gaan.

Geseënde Kersfees en mag 2011 vir ons almal werklik die seën en "Persoon" van die Here inhou.

Isabella Niehaus

Isabella Niehaus, sarie.com-blogger

Die Kersvakansie herinner my altyd aan ons heel eerste slaap in die huis hier op die Duin. Sewe jaar terug se 24ste Desember het ons die lekkerte van hier bly, ontdek, en dit bly vir my 'n wonderlike tyd van die jaar hier. Daar's mense van oraloor. Die winkeltjies gons en die strand is 'n ongoing movie set om na te kyk! Ek wil nêrens anders wees nie. Vroegoggend se lekker stap en swem... en dan sommer heeldag in jou costume en sarong met lang glase outydse lime cordial en soda, en 'n boek in die hand op die dek! Dis die tyd van die jaar wanneer jou voete daai lekker gesonde sonbruin kleur kry... wanneer jy heeltyd kaalvoet loop en jou hare 'n sunbleached look kry. Dis wanneer pelle onverwags inval en daar altyd 'n krefie en pot mossels is om vinnig iets aan mekaar te slaan. Oral lê plakkies met seesand op, wet suits en kite-borde. En die malva onder die buitestort floreer van al die water!

Kersdag is ek en Taro dikwels alleen. Ek bederf hom in die oggend met gebakte eiers en cheese grillers of 'n lekker bord vars gebakte pannekoek. Ons twee is nie groot op geskenke nie. Vir jare het ek dik vet kerse gekry tot hy op 'n dag aangekondig het: Nooit weer koop ek vir Mamma 'n kers nie! Toe besluit ons, nie meer geskenke nie!

Ons Kersboom is 'n beautiful tolbos met 'n ragfyn strikkie (is mos darem die strikkie queen) hier en daar en my geskenk is om my kind by my te hê!

Oukersaand braai die jongklomp altyd iewers en Kersdag dié jaar is ek en Taro deel van ouma Lolita Hanekom van Moorreesburg se Kerstafel by Friday Island hier in Langebaan. Die afgelope twee jaar het Ouma, Pauline, Malita en Marinda en hul mans en die jongklomp soos familie vir my en Taro geword. Ons mis nooit enige van die family-kuiers nie....so Kersdag sal onthou word as 'n hoogtepunt van 2010... en die eerste Kersfees in 10 jaar wat ons om 'n groot familietafel gaan sit! Aan almal: Happy, happy Krismis! En mag 2011 'n blessed jaar wees.

Tanya O&aposConnor

Tanya O'Connor, sarie.com-blogger

Die vakansie gaan ek self kreef uitduik! Ek gaan dit self, langs die see, in soutwater kook, 'n vuurtjie maak en kuier saam met my man en my seuntjie. Rory gaan op 'n reisdeken lê en saam met sy ma en pa die buite-wees geniet.

Daar sal 'n ekstra plek wees hierdie Kersfees, met 'n bottel gedek en daarby sal 'n vier maande oue liefling sit in 'n rooi pakkie wat sê, "I Love Father Christmas!" My grootste Krismisgeskenk is dié van liefde, vrede en koestering van my klein familie en spesiale vriende. Elke dag word ek belaai met die geskenk van lewe en van leef.