RYK, ’N DIEP SEUN

Die oulikste outjie!

Ryk se handpalms is langwerpig en sy vingers kort in verhouding met die lengte van sy palms. Dis die klassieke vuur-vorm, wat dui op baie energie, passie en veelsydigheid. Sy lewenslyn buig styf om die onderpunt van sy duim.

Die kans is skraal dat hy sy geliefde land vir goed sal verlaat. ’n Huis waarop hy trots is, huislike plesiere, om in ’n bekende omgewing te ontspan terwyl hy deur geliefde gesinslede omring word – dís vir hom belangrik. Dit balanseer sy “vuur”-kant, wat geneig is tot oormaat en om die kers aan albei kante te brand.

Sy hartlyn dui op sensitiwiteit. Emosionele ervaringe raak hom diep. Hy dink baie aan watter eienskappe hy by ’n ideale lewensmaat soek. Maar sy hartsbegeerte en die werklikheid van sy omgewing verskil hemelsbreed. Hy het al pynlike emosionele ervaringe gehad. As ’n beleefde, opregte en vriendelike mens probeer hy almal tegemoetkom.

Hy het ’n lang inligtingslyn en sy denke is meer filosofies as wetenskaplik. Dit word bevestig deur die effense knoesterige voorkoms van sy vingers, wat op diep gewortelde oortuigings dui. Ryk is ’n diep en filosofiese denker. Hy sal nooit ’n fanatiese volgeling wees nie, maar dink goed oor die voor- en nadele van enige situasie. Sy kop is oop en sy houding liberaal, maar sy menings vas.

Die groot ruimte tussen sy hart- en inligtingslyn dui op ’n opgeruimde geaardheid. Ryk hou van grappies en om te lag. Hy het ’n goeie sin vir humor en natuurlike optimisme. Nat vadoeke met lang gesigte irriteer hom – hy wil deur positiewe en suksesvolle mense omring word. Hy werk om te lewe, hy lewe nie om te werk nie. Daarom maak hy tyd om ook te speel.

Ryk het goeie kommunikasievaardighede, is eerlik en suiwer gou die lug. Sy geliefde moet ook sy vriend wees en emosionele eerlikheid is vir hom belangrik. Só ook duidelike kommunikasie as hy sake doen.

Sy sterk en reguit duim wat laag op sy palm sit, wys op ’n bestuursvermoë en geweldige deursettingsvermoë. Hy blink graag uit en het hope selfdissipline.

Ryk se vingerafdrukke dui op ’n liefde vir water. En boë op sy wysvingers dat hy baie privaat is, veral oor sy persoonlike lewe. Hy hou nie van oppervlakkige mense nie en jy moet sy respek en vertroue verdien. Solank jy hom nooit verraai nie, is hy ’n lewenslange en lojale vriend.

Hy het ’n aanleg om geld met eiendomme te maak. Daar is ook aanduidings van ’n toekoms in die sakewêreld. Wat sy loopbaan en verhoudinge betref, lê die beste nog
voor!

* Ontleding deur Jen Hirsch

Noudat ons weet wat sy hande verklap, kom ons hoor wat húlle te sê het:

SY MA, San-Marié:

"Ryk is baie terughoudend. Hy sal eerder luister as praat."

LYDIA VAN DER MERWE, SARIE-gesondheidsredakteur wat destyds met Ryk 'n onderhoud gevoer het:

"Ryk is soos 'n ronde, gladde klippie. Sonder enige groefies waar jy ordentlik vatplek kan kry. Daar is sy perfekte voorkoms. Maar Ryk waak ook sku oor wat in sy binneste aangaan."

RYK oor homself:

"Swem is 'n lewensvaardigheid. Dit het my baie geleer. Deursettingsvermoë, motivering, om nooit tou op te gooi nie... Ek het hard gewerk om daar te kom. Maar ek oefen ure elke dag en dan verwag mense boonop dat ek 'n glamour boy moet wees. Wat ek nie regtig is nie. Dit voel ook nie soos glamour nie, dis maar net iets wat ek doen."