As Rescue 911 dit destyds vir jou gedoen het, en jou PVR deesdae deurnag werk om al die reekse op die Discovery-kanaal (DStv-kanaal 250) op te neem, het ons goeie nuus! ID Investigation Discovery is die nuutste toevoeging tot die Discovery-netwerk en dit fokus op die forensiese wetenskap en hoe dit gebruik word om ondersoeke op te los. Die program is gegrond op die waarheid en regte mense se stories.

In Julie en Augustus is Investigation Discovery te sien op die Discovery-kanaal (DStv-kanaal 250)

Een hiervan is Deadly Women 2, 'n reeks van 6 dele wat die wêreld se wreedste moordenaresse en hul fynbeplande dade ondersoek. Fassinerende forensiese feite weerspieël hul boosaardige motiewe en die jaloesie, obsessie en wraak wat maak dat 'n 'gewone' vrou op 'n besete moordtog gaan.

Die kenners wat week na week hierdie grusame moorde ontleed en ondersoek, is forensiese patoloog, dr. Janis Amatuzio, en FBI-agent Candice DeLong, wat die profiele van hierdie moordenaresse saamstel. Lees 'n eksklusiewe onderhoud met dr. Janis Amatuzio.

Die eerste paar episodes is reeds verby, maar moenie episode 5 (Bad Medicine) en 6 (Predator) op Donderdag 30 Julie en Donderdag 6 Augustus om 10 nm misloop nie! Predator is gegrond op die lewe van Aileen Wuornos, 'n prostituut en reeksmoordenaar wat sewe mans in Florida tussen 1989 en 1990 vermoor het. Charlize Theron het in 2003 die Oscar-bekroonde rol van Aileen in die film Monster gespeel.

Reuk van die dood, Riana Mouton (LAPA-uitgewers)

Iemand is besig om jong vroue in Gauteng te ontvoer en te vermoor. Die moorde is onheilspellend, want die slagoffers word gemartel en uit woede vermoor. Junior Scheepers is die speurder wat hom moet vang, maar hy het probleme van sy eie. Sy lewe val uitmekaar na sy egskeiding en indien hy nie daarin slaag om by sy eie donkerte verby te kom nie, gaan hierdie moordenaar nog heelwat skade aanrig.