In die wêreld van musiekteater is die naam Phillip Schnetler alombekend. In 2017 het hy immers een van die hoofrolle in die gewilde musiekblyspel Priscilla Queen of the Desert vertolk. Ook in produksies soos Spring Awakening, Saturday Night Fever, The Wonderful Wizard of Oz, Annie the Musical en meer onlangs Kinky Boots het hy sy verskyning gemaak – in laasgenoemde as een van die ikoniese Angels. Gee vir hom ’n verhoog en hy maak magic!

FOTO Zijn-Rudolp van Zyl

Phillip is op die dorpie Burgersfort in Limpopo gebore. As enigste kind het hy en sy ma, Hendrina, saam die lewe se opdraandes en afdraandes gestap. Sy skooljare op Lydenburg was nie maklik nie. “Ek is vreeslik geboelie. Maar daardie tyd het my die persoon gemaak wat ek vandag is. Mense kan van my sê wat hulle wil, maar ek weet wie ek is, en ek is trots daarop.”

Vandag leef, droom en praat hy die kunste. Met sy mantra: “Doen dinge wat jou gelukkig maak. Gaan oefen, eet lekker kos, alles wat jou gelukkig maak.”

Soos sy drag-persona: Lyz Dexia. “Drag laat my baie confident voel. Dit is ’n karakter wat nie jy is nie. Sy het haar eie persoonlikheid en is baie anders as Phillip.”

Lyz Dexia FOTO Zijn-Rudolph van Zyl

Suidooster was die eerste sepie waarin hy gespeel het. ’n Ervaring wat hy as onvergeetlik beskryf, veral omdat dit tydens inperking oor sy pad gekom het. “Dit was incredible! Ek kon nie vir ’n beter speelvak gevra het of om saam met beter akteurs te werk nie. Ag, hulle was net so accommodating. Vir ’n newbie om in ’n A-storielyn te speel ... sjoe. En Annelisa ... sy was net ’n droom!”

Phillip was in ekstase om teenoor veteraan Annelisa Weiland te kon speel. FOTO Suidooster

Ja, hy was starstruck. “Ek het 7de Laan gekyk toe sy nog die rol van Hilda vertolk het. Ek het nooit kon dink dat ek eendag haar kleinseun sou speel nie!”

Die karakter, wat vir vele kinkels en kabels gaan sorg, het hom uitgedaag. “Phillip is 19, ek 30. Om 11 jaar jonger te speel was ’n challenge. Ek moes opnuut daardie naïwiteit vind.”

2020 het die gordyne op die kunste laat sak. ’n Groot terugslag, maar Phillip hoop die laaste twee maande van die jaar sal goeie nuus bring. “Ek weet dit is so ’n bietjie far-fetched, maar ek sal die blyste mens ooit wees as die teaters weer oopmaak. As ’n kabaretkunstenaar is dit iets wat ek ongelooflik baie mis. Hopelik is daar sommer vinnig weer TV-werk in die pyplyn ...  Anders sal ek net graag tyd saam met familie en vriende wil spandeer.”

Phillip saam met van die lede in die musiekblyspel Kinky Boots. FOTO Instagram / Phillip Schnetler