Marche Media, die produksiemaatskappy verantwoordelik vir TV programme soos Boer Soek 'n Vrou, Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel en Waterfront, vervaardig die jaar drié van die ses vollengte films by kykNET se Silwerskermfees. Jaco Smit gesels oor die projekte, soos Christiaan Olwagen se Kanarie en Die Seemeeu.

Jaco, regisseur van Vir Altyd en Pad na jou hart, het half toevallig in die filmbedryf beland - eintlik wou hy ’n argitek word. Maar op sestien het hy sy rug in ’n motorfietsongeluk gebreek. “Ek het destyds sowat twee jaar op my rug gelê en rolprente gekyk. Dit klink dalk baie cheesy, maar my familie en stories het toe my lewe gered. Nou is ek ’n filmargitek.”

Die regisseur Jaco Smit is ’n mede-eienaar van Marche Media. FOTO Phyllis Green

Deesdae is sy grootste inspirasie baanbrekerswerk. Dis hoekom hy ’n aanhanger van Christiaan is. Saam is hulle trots op innoverende werk wat hulle in werke soos die bekroonde Johnny is nie dood nie, Kanarie en Die Seemeeu kon lewer.

Hy reken Christiaan is een van Suid-Afrika se sterkste storievertellers en regisseurs. “Ek voel of ek ’n meesterskursus in regie by hom gekry het. Dis ook wonderlik om saam met die regisseur Quentin Krog aan ’n Ander Mens te kon werk. Quentin is een van die sterkste tegniese en ‘genre’-regisseurs.”

Kyk die agter-die-skerm-video van ’n Ander mens:

Die akteur Bennie Fourie vertolk die hoofrol in die rolprent 'Ander Mens'. FOTO kykNET

Jaco glo die plaaslike filmbedryf betree ’n opwindene fase. “Dis ook besig om groot spronge in die globale mark te maak. Marche Media gaan sy bes doen om aggressief te bemark in Afrika, Noord-Europa, Noord-Amerika en Asië. Dis ons passie om stories aan die wye mark te vertel.”

Hy vergelyk die filmbedryf met ’n toerende sirkus. “Jy het spesiale kunstenaars, ’n tegniese span en oorhoofs skeppende visie nodig. Als  gegrond op die liefde om ’n storie avontuurlik te vertel. Elke filmprojek word deel van ’n mens se lewe en ons probeer om dít waardevol te maak.”

Die regisseur Christiaan Olwagen. FOTO The Rare Library/ Antonia Steyn

Alles het begin by Johnny is nie dood nie (2016) en hy vertel hulle sal dié eindproduk altyd as maatstaf gebruik vir ’n brawe aanslag  vir die vertel van stories in rolprente.

Ek sien uit daarna om Kanarie by die Silwerkskermfees te sien. Dit word op 19 Oktober landwyd uitgereik. Kanarie se wêreldwye première was by die INSIDE OUT LGBT-filmfees in Toronto, Kanada.  Dis ook by die OUTFEST in Los Angeles vertoon,” vertel Jaco. Dis gegrond op ’n ware verhaal in 1985, wat in die weermagkoor plaasgevind het.

Kyk die lokprent van Kanarie:

Naas sy passie om stories te vertel, hou hy ook van regie.  Hy het selfs ervaring opgedoen by die BBC as regisseur van die kinderrreeks Jamillah & Aladdin. “Ek wil meer daarop fokus,” vertel hy.

Kyk die lokprent van Die Seemeeu:

Christiaan is besig met die verwerking van die Elsa Joubert-boek Die swerfjare van Poppie Nongena vir sy vierde vollengte rolprent. Die toneelskrywer  en -verwerker Saartjie Botha sal saam met hom die teks behartig. En Marche Media is die trotse vennoot,” sê Jaco.

Marche Media is ook besig met bemagtigingsprojekte, vertel Jaco. "Marche Afrika is ’n nuwe maatskappy wat gestig is met die doel om Afrika-stories te ontwikkel, versprei en te ontgin. Ons gaan fokus op opvoedkundige inhoud en bemagtigingsgeleentede," vertel hy.

’n Toneel uit 'Kanarie'. SKERMGREEP YouTube/ KykNET