Vir die afgelope twee episodes is 7de Laan-kykers in 'n tronk. Ja, Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter) en Bonita Meintjies (Hildegardt Whites) is nou gevangenes. Saam met hulle is 'n hoogswanger Amanda (Carina Nel), Vivian (Vinette Ebrahim) en Natalie (Daniella Deysel). Daar was een karakter wat tot nou toe nog nie haar verskyning gemaak het nie ... Suster Miems. Die gevangene waarvoor almal bang is. 

Gister het kykers uiteindelik uitgevind: Suster Miems is toe al die tyd Emma (Bertha le Roux). Kykers het omtrent gegons! #onlyin7deLaan

FOTO 7de Laan

Bertha is geen vreemdeling nie ... Vir jare was haar karakter Emma gewild in die Laan. Sy het ook 'n paar storielyne gehad: van ontvoering, 'n buite-egtelike kind en 'n liefdesverhouding met Marko Greyling (Francois Lensley). Maar haar verhaal het tragies geëindig toe sy skuldig bevind is aan die moord op haar kêrel, Rick (Darren Kelvkens). 

FOTO 7de Laan

Wie is Miems? Bertha, wat nie veel wou verklap nie, het die volgende gesê: "Sy dra 'n masker om haarself in die tronk te beskerm. Haar tyd daar was rof en sy moes skuil agter 'n ander identiteit. Dis haar oorlewingsmeganisme."

Maar hoekom is almal bang vir Miems? "Sy is vriende met die tronkbewaarder. Sy het dus baie mag. En met haar magsposisie wil sy die tronk 'n beter plek maak ..."

Vir Bertha is dit heerlik om weer op die stel van 7de Laan te wees. 

"Dis lekker, dit voel gemaklik en dis ook lekker om saam met die span te werk en almal te sien."

Sy meen Emma sal altyd in kykers se harte bly. "Daar sal altyd 'n connection wees."

* Bertha is vanjaar by die Aardklop Nasionale Kunstefees te sien, waar sy 'n rol in die produksie Rouer vertolk.

Suster Miems in gisteraand se episode