Wie sou kon dink Danny K is skaam? Nie as jy dié popsensasie – sexyste man in SA boonop – op die verhoog sien nie.

deur  Sonia Cabano
foto Phyllis Green

Hy sing, hy dans. Hy’s onlangs benoem as die sexyste man in Suid-Afrika. Hy het op versoek saam met Ladysmith Black Mambazo en Paul Simon vir Oprah Winfrey haar gunsteling-liedjie toegesing (“Diamonds on the soles of her shoes”) by die kletskoningin se 50ste verjaarsdag-opskop in Chicago. En by Nelson Mandela se 85ste verjaarsdagfees was hy ook op die verhoog, en is toegejuig deur ’n uitsoekgehoor van die wêreld se sake- en vermaaklikheidsreuse.

Danny K. Sy “Who’s that girl?”, in samewerking met Johnny Clegg, was ’n plaaslike radiotreffer. En platejoggies weet al: as ’n nuwe Danny K-uitreiking tot barstens toe deur ’n klub se luidsprekers pomp, dan pak die mense daai dansvloer vol.  Hy’s warm, Danny K. Hy’s nóú, en heeltemal ons eie. ’n Joodse outjie oorspronklik uit Sydenham in Johannesburg, met ’n vars en funky, sielvolle sangstyl en hope charisma. ’n Sweempie Michael Jackson en ’n titsel Stevie Wonder borrel weliswaar hier en daar na bo in sy musiek, maar die eind produk wat die ore so toor, is sy eie unieke doepa. Tuisgebrou – met skop. Hy speel ewe lekker in Lenasia as in Sandton, met aanhangers uit elke  skakering van die reënboognasie. Sy klank en beeld is losweg dié van die nuwe Suid-Afrika – en hy laat hom nie inboks deur pasklaar verklarings en rigiede kategorieë nie. En sy suksesresep verleen aan hom ’n ongeëwenaarde vermoë om musiekstyle en gehore te oorkruis, soos sy onlangse album-ko-produksie met die kwaito-sanger Mandoza klinkklaar getuig. Professionele erkenning en prestasies, soos vier onlangse SAMA-benoemings, stapel jaarliks op. Is Danny K Suid-Afrika se grootste popsensasie nóg? My haarkapper snak na asem as hy Danny se optrede by 2004 se MTV 46664-konsert in Groenpunt beskryf. “Hy het die gehoor in die palm van sy hand gehad, jong,” word bo-oor die haardroërs vertel. “En hulle daar gehou so lank hy wou. Hy’t ons rasend gehad!” Grotes soos Bono van U2, Alicia Keyes en Beyoncé Knowles het ook daar verhoogdraaie gemaak, maar die local outjie was ligvoets hul eweknie.
Tja.

Iemand soos Danny K skop jy nie  sommer agter elke bos uit nie, en om tyd vir ’n onderhoud met hom gereël te kry kos mooipraat en geduld. Ek onderhandel’n hele paar dae lank per selfoon en e-pos met Pam Koppel, sy bestuurder, voordat  ek kliek die groot K agter Danny staan vir Koppel, en Pam is natuurlik sy ma. Sy skerm vir haar kind. “Danny bestuur eintlik sy eie sake,” kom dit versigtig, “en hy’t nog nie aangedui wanneer hy beskikbaar sal wees nie.” Of: “Hy’s besig met ’n album-opname tot laat snags.” Dan weer: “Hy repeteer vir ’n optrede hierdie naweek.” Ons afspraak word keer op keer verskuif.  Oplaas word ’n kosbare uur vroeg op ’n weeksoggend aan my toegestaan. ’n Vlug uit die Kaap en ’n nag se rondrol in ’n hotelbed later – wat as daar weer iets voorval en hy kanselleer op die nipper? – vat ek eindelik koers na Hyde Park, die rykmansbuurt waar Danny se kantoor is. Dunkeld-Wes se lang, lowerryke lane lei my dieper en dieper tot in die hart van dié gesogte woonarea. Om die hoofkwartier van Danny se produksiemaatskappy, J23, en die luukse Koppel-gesinswoning te bereik, ry ek deur drie wagbemande veiligheids versperrings, en telkens word eers deurgebel vir toestemming voordat die swaar sierhekke vir my oopswaai. Dis  duidelik Pam en sy pa, Gavin, se grootste skatte, die 21-jarige kleinsus, Janna, en 27-jarige Danny, word hier soos pêrels gekoester.

Want die lewe kan wreed wees, en soms kan geen wag of heining beskerming bied teen die grootste verlies en skade nie. En dit weet Danny en sy familie beter as die meeste mense. In Junie 2003 is Jarren, die middelste Koppel-kind, op 23 in ‘n helikopter ongeluk by ’n bosberaad in Mpumalanga dood. Dit was ’n skokgolf waarvan die trillings nog meetbaar aangevoel kan word, nou nog in die voorportaal waar ek en Pam mekaar voor ’n muurgrootte spieël ontmoet. Die ruim woning is stil en gedemp stylvol  – soos sy self – met lig en lug wat strelend vanuit ’n tuin vol vrolike blombeddings na binne kom. En op die rand van die swembad staan drie reusekruike waaruit water na benede biggel. Twee ougat Yorkies – Danny se beminde Jamie en Mutcho – wedywer luidrugtig om my aandag terwyl ek wag, maar die oomblik dat hul oubaas die sitkamer binne drentel, blaas hulle summier die aftog. Daar’s net geen kompetisie nie. Hy’s ’n bietjie bleek om die kiewe, met ’n stoppelbaardjie en hare slierterig  onder sy keps, maar die neutbruin oë vonkel. Hy bied ’n verleë verskoning aan dat hy verlep voel ná die vorige nag se  studiosessie saam met Mandoza. “Ons het tot drie-uur gewerk, want die album moet binne die volgende paar dae klaarkom.”

Danny K uit die voorstede en Mandoza van Soweto – ’n ongewone kombinasie, nie waar nie? Hoe vlot sake?

Ek is gek daarna om kreatiewe medewerkings te doen, en is bekend daarvoor  in die musiekbedryf. Hierdie een is ’n 14-nommer album met lekker dans-, goedvoel- en partytjiemusiek. My klank het ’n pop-, soul- en R&B-invloed, en dit smelt lekker saam met Mandoza se kwaito-styl. My eintlike ding is melodieen harmoniegedrewe musiek, soos my tweede album, J23, bewys het. Ek ken Mandoza al geruime tyd deur die bedryf en is ’n groot aanhanger van hom. Op sy volgende album sal ek ook saamsing êrens.

Jy het ’n groot impak gemaak in ’n kort tyd, en dwing wyd respek af. Hoekom, dink jy?
As jy iets gedoen wil hê in hierdie wêreld, dan doen jy dit self! Wees die kampioen in jou eie lewe. Ek skryf my musiek, vervaardig my eie albums en vir ander kunstenaars, bemark en bestuur die hele joppie. Ek het darem my nagraadse studie in Sakebestuur aan Wits gedoen, hoor! Dit was my missie sedert die middel negentigerjare om myself as ’n plaaslike popsukses te bemark. Vier jaar lank hetdie platemaatskappye deur die bank teenkanting gebied. Glo te min geld, gebrek aan ’n mark, mededinging met oorsese kunstenaars, ens. Nadat Chris Galakis my by Primedia Music ’n kans gegee het met my eerste album, Danny  K, en dit ’n wegholsukses geword het, het ek leisels in eie hand geneem deur my eie platemaatskappy en uitgewery, J23, te stig. Deesdae het ek ’n deal met Gallo Records – ons deel die insetkoste om die helfte, en die wins ook. Maar ek behou volle kreatiewe beheer. Hulle het vertroue in my om die eindproduk te lewer.

J23 verwys na jou broer, Jarren. Julle was, soos jy dikwels sê, amper ’n tweeling, en sy dood het jou uiteraard diep geraak. Net voor die ongeluk was hy jou bestuurder …

In 2002 is ek Londen toe vir ’n jaar nadat ek ’n vyf-album-kontrak by Polydor aangebied is. Niks van daardie plek gehou nie, hoor, maar deurgedruk. Dit sou die kans van ’n leeftyd wees. Nadat die affêre deur die mat geval het, het ek teruggekom, en ek en daai slimkop-boetie van my het begin saam werk. Hy sou dit ver kon bring in hierdie bedryf, hy’t net ’n aangebore aan voeling daarvoor gehad. Hy was skerp en wys, ver ouer as sy jare. As kinders was Janna ons prinses – nou nog! – en ek die tipiese ouer broer, wat Jarren maar lekker kon karnuffel, en toe eensklaps kom daar hierdie ommeswaai, waar ek na hom kon gaan vir raad, op hom kon staatmaak. Dit was ’n soort genade dat ek juis tóé moes terugkom huis toe, want ek en Jarren het ’n jaar tyd saam gehad. Dit sou ek nie vir die wêreld se sukses verruil nie. Dis ’n erge verlies, steeds.

Was jy kleintyd al musikaal? Waar’t jy so gekonfyt geraak as musikant?

My pa, ’n entrepreneur, het in die laat tagtigerjare die groep Cinema bestuur, en ek het saamgekarring op al die konsert reise platteland toe. Afgekyk by hom, en ingeneem. En ek het grootgeword en saamgesing met musiek soos die Jackson 5 en Stevie Wonder. Alexis Faku, ’n groot pêl, is ’n musiekinstrukteur by wie ek ontsettend baie oor struktuur, ritme en melodie geleer het. Ons het saamgewerk toe ek agttien was en desperaat om die musiekbedryf te betree. Hy het die helfte van my nuwe album geskryf en vervaardig.
(Pam vertel dat Danny met die karradio saamgeneurie het voordat hy sy eerste woorde kon uiter, toonvas uit die staanspoor, terwyl ma en pa hom in die truspieëltjie dophou.) Danny se selfoon piep ’n boodskap. Dis van Lee-Ann Liebenberg, sy modelmeisie, en hy lees die boodskap hardop voor. “Aaa, luister net hier: Hey baby, I love you.” Hy vermurwe sigbaar.

Waar het julle mekaar ontmoet? Wat doen julle vir sports?
Vreemd genoeg is ons aan mekaar voor gestel deur my vorige meisie (’n voormalige Mej. SA, Vanessa Carreira). Het gedink dis nogal volwasse van Vanessa! Lee-Ann is net ’n bokkie, beeldskoon en ’n regte happy child. Vir haar is die glas altyd half vol. So ses maande ná Jarren se dood het dinge ernstig geraak tussen ons twee. Sy ondersteun my, sy laat my lag, die lewe is vir haar ’n fees, en dit is  aansteeklik. Ons is regte tuismuise – dis nogal aardig om uit te gaan en honderde pare oë heeltyd op jou te voel. Andersins hang ons uit saam met tjomme, maak ’n draai by die Melrose Arch-hotel, gaan uit vir pizza of ’n fliek.

Wat is die vreemdste ding wat ’n aanhanger nog gedoen het? Jy’s immers ons ‘sexyste popster’?
(Hier hoop ek natuurlik op ’n bietjie skinder! Hy lag net hardop en bloos.) Daar was ’n vrou by ’n handtekeningsessie ná ’n optrede wat vreeslik aangegaan het om my te verwelkom. Sy was naderhand amper in trane. “Dankie, dankie tog dat jy hier is,” het sy gesê, “ons is so dankbaar dat julle van so ver kom om ons te vermaak!” Toe snap ek sy dag ek’s van oorsee! Dit was weird.

Jy het darem ’n paar vernuftige stappies daar op die verhoog – jou vertoning is haarfyn uitgewerk. Neem jy danslesse?
Ek oefen sommer in my ma-hulle se garage! ’n Briljante choreograaf, Angelo Collins, sit hand by. Ek glo mos mens is so goed soos die mense met wie jy jou omring. Dit geld ook die orkes wat my begelei – daar is vier agtergrondsangers, tromspeler, hoof- en baskitaarspelers, en twee klawerbordspelers. Ons het ’n fantastiese kameraderie, en voor vertonings sit ons saam en gekskeer. Dan spring ons op en sê: “Reg! Laat ons gaan!” Sonder hulle kan ek nie.

Hoe berei jy jou voor vir ‘n optrede?
Tiger Woods het glo ’n vaste roetine wat hy volg voor elke afslaan. Ek ook, om my fokus te behou. Drink seker by die veertig koppies tee! Ek glo kunstenaars besef nie altyd wat die bedryfsdruk aan hulle kan doen nie, en rafel soms lelik uit, nè? Maar ek was nog altyd koelkop, ek behou my ewewig. Sokker is ’n passie, en daaglikse gimsessies ’n moet. Met alles wat ek uit my liggaam haal by optredes kan ek dit nie bekostig om ongesond te lewe nie.

Laagtepunte in ’n popster se lewe?
Ek was vrek bang toe my stem gebreek het, dat dit sommer heeltemal gaan breek en dan’s daar niks om ’n loopbaan mee te bou nie. Ek slaat darem nog die bariton en falsetto ewe goed. Rondsit in eensame hotelkamers en die reis vir werk vang my ook. Maar as my musiek iemand kan aanraak, vergoed dit vir alles. Die dag met Jarren se ongeluk was verskriklik. Verwarrende nuus het broksgewys deurgekom. Toe’s ons al vier op ’n vliegtuig soontoe, net om te hoor: Geen oorlewendes nie. (Hy bly ’n lang tyd stil.) Ons lewe baie vinnige en oppervlakkige lewens, soms – ek ook. Mens moet stiltyd hê. En as ek “I can’t imagine”, my huldeblyk aan Jarren, sing, al is dit voor duisende mense, is dit my stiltetyd. Ek maak my oë toe en dan’s alles weer reg.

Wanneer was jy op jou gelukkigste?
(Hy laat sak sy ken op sy bors.) Sjoe, dis ’n vraag daai. Ek moet gaan soek vir ’n antwoord. Weet jy, toe ons klein was, almal saam in die bussie op pad na sokkerwedstryde naweke … En somervakansies by Umhlanga-strand in Natal, toe ek en Janna en Jarren net dae omgespeel het in die son. Toe môre net nog ’n dag was, nè?

Pam loop stil deur die kamer. Sy sê niks, maar ek weet: ons gesprek is op ’n einde. Die oester skulp vou toe.
Wat beteken Suid-Afrikaans wees vir jou, Danny, vra ek terwyl ons groet. Want dis groot vir hom. “Ons kan alles, al ons verskille, uit die weg ruim deur saam te werk,” sê hy. “As ons saam ingooi, soos ek en Mandoza, kan ons briljante dinge uitrig, hier. Nuut maak. En ons doen dit nou. Ons moet net aanhou.” Hy ken van aanhou, Danny, en uithou. En sy pad boontoe is verseker. Want hy’s die koppelteken tussen ons, en ons het dit nodig.
*Kyk ook www.dannyk.com


GUNSTELINGE

Drankie: Enkelmout-whisky.
Kos: Pizza. Die bestes in die wêreld word gemaak deur Lapa Flo. (Hy pluk terstond sy selfoon uit, en gee
die nommer: 011 486 2651.)
Sangers: Stevie Wonder, Donny Hathaway en Prince.
Liedjie: Marvin Gaye se “What’s going on”. Wens ek kon dit eerste gesing het!
Fliek: The Matrix, die Godfatherreeks, The Commitments.
Akteur: Denzel Washington.
Aktrise: Ek gaan trots plaaslik bly en sê Charlize Theron.
Albums: Prince se Musicology, Usher se nuutste.
Eienskap wat jy graagste wil aanleer? Geduld! Ek wil alles NOU gedoen hê.
Wat maak jou kwaad? Ek’s nie een vir kwaad word nie. Maar swak organisasie maak my mal.
Grootste hoogtepunt: Saam met die kunstenaars by die 46664-konsert. Ons was daardie dag soos een om Nelson Mandela se boodskap uit te leef: gee van jouself, wees net jouself.
Wat sou jy die graagste aan wie wou sê: Om aan Stevie Wonder te kon sê, dankie vir die inspirasie. Ek het die kans gehad by Oprah se partytjie, maar ek was te skaam!