Willem Botha het skaars twee sinne gesê, toe val hy homself in die rede. “Ek wil net noem ... jy gaan dink ek is die mens wat die meeste praat onder die son.”

Dis tipies Willem, sê die mense wat hom ken, hy doen alles met oorgawe. Of hy nou ’n hond uit ’n bos uit gesels tydens ’n onderhoud, of sing of foto’s neem of TV-aanbieder is, hy gooi hom hart en siel daarin. Hy beteuel hom net as dit kom by Instagram-foto’s van sy Yorkie, Seven, en dit verg baie, skerts hy.

Hy was nog altyd ’n entoesiastiese mens, maar dis ook omdat hy die beste wil wees in wat hy ook al doen, verduidelik hy later oor ’n tweede koppie koffie. En as hy nie weet hoe nie, google hy dit. (Einde Maart bied hy in Bloemfontein ’n meesterklas in grimeertegnieke aan – nie te sleg vir ’n plaasseun wat dit net ’n paar jaar terug deur YouTube geleer het nie.)

Willem sal altyd sy Kwêla-onderhoud onthou met die 15-jarige Zoeloesprekende Nolwazi Mahlangu wat die ATKV se spelkompetisie gewen het – in haar vierde taal.

“Haar ma is blind, haar pa se been is afgesit, sy doen die huiswerk ... sy is veronderstel om nog kind te wees, en dan doen sy al dié goed. Dit inspireer my, dryf my om die beste te wees en oor niks te kla nie. Dit klink seker corny, maar ek probeer regtig die mooi in die lewe sien.”

Hy voel ’n bietjie broos vanoggend, laat hy later glip – “ek het in die motor op pad hierheen lekker gehuil”. Want sy ma se tannie, wat vir hom soos ’n ouma was, is in die nag oorlede nadat sy lank siek was. Maar ná veertien jaar in die musiek-bedryf het Willem al geleer “the show must go on”.

Hy is in Kaapstad vir die bekendstelling van sy musiekvideo “’n Liefde soos die”, saam met Tarryn Lamb, en “verskriklik opgewonde” oor die nuwe fase in sy lewe waarin hy saam met ander liedjieskrywers, sangers en vervaardigers werk. Die duet saam met Tarryn was heerlik; sy is ewe passievol daaroor as hy.

Vanjaar vat hy en sy beste vriendin, die sangeres Leah, ook weer saam die pad met hul nuwe albums – hy met ’n Liefde soos die en sy met Kyk na my. Hulle het al ’n hele paar keer saamgetoer – “ons was soos Sonny en Cher aan die heup vas!”

Sy sangloopbaan het nou éérs woema. Hy skud sy kop ... “dis eintlik crazy, ek sing al 14 jaar – en toe is 2019 skielik my besigste sangjaar.

“Dalk wou mense hê ek moet eers grootword. Ek was baie jonk toe ek in 2006 in Idols was [hy was naaswenner]. Ek moes myself dalk eers leer ken, my eie styl ontdek. As jy gemaklik in jou eie lyf is, as jy in die spieël kyk en kan sê: Kyk, jou ore is bak, dit is wat Liewe Jesus vir jou gegee het, dis wat jou spesiaal maak ... dis ’n goeie plek om te wees.”

Om soveel verskillende passies te hê en dit boonop jou werk te kan noem, wel, dis “’n massiewe voorreg”.

Jy’t byna oornag bekend geraak as die fotograaf van bekende sterre. Hoe hou jy ’n balans?

Ek slaap min, maar dis lekker. My fotografie het mense dalk onverhoeds betrap. Ek sing al jare, en hier neem ek nou ons land se mooistes en bestes af. Selfs ek het dit nie verwag nie, dis nie beplan nie. Jay [du Plessis] het my destyds gevra om sy foto te neem. Later het ál meer mense my genader en ek’t peanuts gevra, dit was ’n stokperdjie. Hy’t later vir my gesê as hy ooit weer hoor ek vra so min, gaan hy my nooit weer gebruik nie. “Niemand gaan glo jy is die beste as jy so min vra nie.” Ek vra steeds minder as ander, maar ek is geseënd op soveel maniere.

Hoe het jy as grimeerkunstenaar begin werk?

Leah [sangeres] het reklamefoto’s nodig gehad, maar ’n grimeerkunstenaar vra tot R3 000. Ek het in haar baie leë makeup-sakkie gedelf en haar hele oog met ’n oogpotlood geskakeer – alles op YouTube geleer. So het ek begin vertroud raak met tegnieke en produkte. Jy moet nou my kit sien, dis twee keer die grootte van die tafel. Ek bring saam met MUD-grimering my eie palet uit. Ek stileer ook hare, danksy YouTube. My ma het ’n sterk kunsklap, dis seker waar ek dit kry.

Leah, terloops, sê dankie dat jy haar bestie is. Hoekom is julle sulke goeie vriende?

Leah is so eerlik met mense, sy is absoluut haarself, sonder pretensies. Ek is ook dieselfde mens op en af van die verhoog. Ek skakel nie ’n switch aan nie. Ons is baie eerlik met mekaar, dis hoekom ons so goed oor die weg kom. Sy voel soms soos my jonger sussie, al is ek [op 32] ’n jaar jonger as sy. Mense dink ons stemme raak weg van al die sing, maar dis omdat ons so baie lag. En dis altyd lekker om haar af te neem.

Wie staan uit wat jy al afgeneem het?

Ek kon nie glo nie toe Laurika Rauch my verlede jaar vra of ek haar foto’s sal neem vir haar nuwe album [om 40 jaar in die bedryf te vier]. Ek was goed op my senuwees. Maar uiteindelik was dit een van die beste dae van my lewe.

Om Mej. SA af te neem was ’n opwindende nuwe reis. Schané Venter [van die Mej. SA-organisasie en SARIE Voorbladgesig 2019], stilis Werner Wessels, die hele span het my uit my gemaksone gedruk, om die groter prentjie te sien. Alles wat hulle doen, is deel van ’n strategie. Ek het Zozi [Tunzi] afgeneem twee dae voordat sy na die Mej. Heelal-wedstryd is, en ek het daai dag net bly dink: Hoe het ek dit reggekry om hier te staan?

Jou beginjare as sanger was aansienlik moeiliker.

Mense het op my neergekyk omdat ek met Idols die “maklike roete” gevat het. Hulle wou my nie bespreek nie. Maar toe ek in 2010 in [die musiekfilm] Liefling was, het die publiek my in ’n ander lig begin sien. Toe kry ek ’n rol in die verhoogstuk Tree aan van Deon Opperman, wat vir ses maande uitverkoop was, en later hoofrolle in sy TV-reekse Sterlopers en Donkerland.

Wat het jou destyds laat deurdruk?

Ek het nie ’n opsie gehad nie. Ek was 19, ek is met my hele trek Johannesburg toe. In die eerste jaar het groot geld ingekom, jy is pal op TV, met baie korporatiewe optredes. Ek het my eerste huis in Pretoria gekoop, maar toe die volgende Idols begin, skop realiteit in. Toe is ons skielik ou nuus. Dit was ’n rowwe paar jaar, baie optredes in pubs ... as ek “Blou” sing, sou mense skreeu: “Sing ‘Bloubul’!” As ek dit tien jaar later moes doen, sou ek nooit nie, maar ek was jonk, vreesloos, naïef, ek het gedink niks kan in my pad staan nie.

Is jy nou ’n gevestigde Gautenger? Mis jy die lewe op die plaas?

Ek sal nie my lewe vir ’n ander wil verruil nie, ek wens net ek het nader aan my ouers gebly. Ek mis ook my broer en sy kinders, wat ook op ons plaas by Riversdal woon. Ek mis soms die Willem van die plaas, my vriende daar, die mense van die Spar wat my steeds Willempie noem.

Ek en my pa het saam ’n skaapboerdery, ons staan al op 250. As ek daar is, dip ek die skape of scan die dragtige ooie. Ek is lief vir perde, ek en my broer het altyd langafstand-uithouritte gedoen, nou ry ek 30 km en kan vir twee weke nie loop nie!

As kind het ek altyd die afvlerk-valke of beseerde bokkies gerehabiliteer. Ek is mal oor diere; as ek kon, sou my hele Instagram net uit diere bestaan.

Hoekom wys jy so baie jou kaal bolyf op jou Instagram?

Doen ek? Vra enige van my vriende – op die plaas dra ek altyd ou gaas-atletiekbroekies en ek het nooit ’n hemp aan nie. Klere laat my versmoor voel.

Nee, ek post dit nie om my lyf te wys nie, maar omdat dit mooi foto’s is. Ek het een foto geplaas waar een helfte van my nipple wys, toe skryf ’n vrou sy kan nie glo hoe my waardes gedaal het nie, ek is veronderstel om ’n voorbeeld vir die jeug te wees. Ek het toe maar net geantwoord: Is jy ontsteld omdat ek net die helfte wys of omdat ek nie die ander een ook wys nie?

FOTO Pat Stone

Jy is aktief op sosiale media, waar mens dikwels aan kritiek uitgelewer is. Hoe hanteer jy dit?

Ek het met die 2019-Ghoemas gesien as jy jou uitgee as ’n toffie, gaan jy gekou word. [Willem was die aanbieder van dié musiektoekenningsgeleentheid wat deur talle kunstenaars geboikot is nadat die Ghoema-trust Steve Hofmeyr se benoeming vir “Die Land” onttrek het.] Ek was onder kontrak om as aanbieder op te tree, ek het nie ’n opsie gehad nie. Ek het ’n interne stryd met die Here gehad. Hoekom gooi mense klippe na my, stuur boodskappe dat my ma eerder ’n aborsie moes kry en selfs video’s waar hulle my album verbrand? Hoekom gebeur dit as my bedoelings eg was?

Toe is dit asof die Here my so ruk ... hou op fokus op wat mense van jou sê, hoeveel likes jy kry, hoeveel comments jy kry, as Ek sê jy is orraait, dan is jy.

Ek aanvaar daar sal altyd mense wees wat nie van my hou nie, wat dink ek sing nie goed genoeg nie of wat my bry irriterend vind ... ek het so ’n ver pad gekom van Idols toe ek daaroor gespot is, tot nou, waar ek dit omarm ... so ek is oukei.

Wat dink jy oor die impak van sosiale media op kinders?

Dit breek my hart as ek by skole optree en hoor hoe kinders op sosiale media gespot word oor hul slegte vel of gewig of omdat hulle nie goed in rugby is nie. Nou die dag het ’n dertienjarige meisie haarself gehang omdat haar vriende haar uitgehaal het op sosiale media. Op dertien het ek nie eens geweet dat jy jouself kan hang nie, dis so buite jou verwysingsraamwerk.

Watter onderhoude lê jou na aan die hart?

Ek hou van die dieper stories. Baiekeer dink ek: Is dit nou te sensitief om te vra? Dan sê ek vir myself as jy die beste wil wees, moet jy. Devi [Sankaree Govender] van Carte Blanche sal nie wonder nie. Ek wil ’n eerlike, rou joernalis wees. ’n Hoogtepunt was toe ek met ’n meisie met Stargardt-oogsiekte gesels het. Dis die progressiewe degenerasie van die makula, ’n klein deeltjie in die middel van die retina. Sy kan net op haar selfoon lees as sy die letters so groot maak dat sy een op ’n slag sien. Maar nou het sy ’n nuwe tegnologiese bril waarmee sy normaal kan lees. Sy speel A-span-netbal, sy was by die Paralimpiese Spele. Ek het so gehuil terwyl ek die onderhoud gedoen het, ek raak hopeloos te emosioneel betrokke.

Jy sing so mooi oor die liefde. Is daar ’n liefde in jou lewe?

As dit teen veertig nog nie gebeur het nie, gaan ek Boer soek ’n vrou toe! Ek was al in verhoudings, en dieselfde oorgawe waarmee ek alles doen, wil ek in die liefde sit, maar dit het nog nie gebeur nie. In dié stadium is ek verlief op my hondjie.

Is jy ooit depressief?

Nee, ek dink dis jou keuse hoe jy soggens opstaan. Ek raak ook kwaad en hartseer, maar ek voel nie sommer verslaan nie.

Ek praat nou nie van werklike depressie nie, dis ’n geestes-gesondheidskwessie. Jy verstaan dit nie tot iemand na aan jou daardeur gaan nie.

Leah vra watter droom jy nog het?

Om Rolene Strauss af te neem, sy is so elegant en klassiek. En as ek nog lank by Kwêla kan werk, sal ek baie gelukkig wees. En aanhou entrepreneur wees. Ek is ’n vennoot in my broer se perde-onderneming. Hy rig perde af en voer hulle na Doebai uit. Kliënte vlieg van daar, land in Kaapstad, vlieg met ’n helikopter na ons plaas om dertig perde te bekyk en ’n halfuur later is hulle weg. My mond hang oop!

Wat maak ’n goeie entrepreneur?

Ek het in die begin nie my geld uitgegee nie, maar in die besigheid belê. Ek en my ma het dieselfde uitkyk: Ek kyk altyd wat die oplossing is as mense paniekerig raak. My sakebrein is ook deur my pa se gesegde getokkel: “As werk help, dan werk jy.” Jy wil dalk nie iets vir R200 doen nie, maar dit kan lei tot ’n projek van R20 000. My foto’s is ’n sprekende voorbeeld.

Ek is spaarsamig, toe ek nie geld gehad het nie, het ek my eie eetkamertafel en TV-kas gemaak. Ek het tot ’n graspartytjie-verjaardag gehou waar vriende R50 of R100 kon gee vir gras vir my nuwe tuin. Ek is nie ’n materialistiese mens nie. Ek ken nie karre nie, ek ry ’n witte. Hierdie Mr Price-hemp het R50 gekos. Ek hoef nie grand klere te dra om waardig te voel nie.

Jou gevoel oor die toekoms van Afrikaans en Afrikaanse musiek?

Afrikaans is vir my die mooiste taal in die wêreld. En dit voel vir my die meerderheid van ons jeug is net so lief daarvoor. Dis al waarvoor ek bly hoop. Dis so lekker hoe ons deesdae in soveel genres Afrikaans vier, van boeremusiek en country tot hip-hop.