Dis ’n nuwe uitdaging en ek is opgewonde, maar tog ’n bietjie angstig. Dis ’n leerkurwe en baie stimulerend. Nadat ek vyf jaar gelede met borskanker gediagnoseer is en daarvan herstel het, voel ek só geseënd dat dit vroeg ontdek is en ek die regte behandeling gekry het. Ek kyk net vorentoe. Ek besef al hoe meer hoe belangrik dit is dat ’n mens gesond eet en stres in jou lewe beperk. Ek moes ’n hele paar kursusse aanpak om te leer hoe om dié vulstasie te bestuur, maar ek glo jy kan van enigiets ’n sukses maak as jy hard werk. My man, Ari, ’n sakeman en entrepreneur, het die grond besit en dit was geoormerk vir ’n vulstasie. Ons het al vyf jaar gelede aan die projek begin beplan. Nou is dit lekker om hiermee werk aan sowat dertig mense te verskaf. Ek is ook beskermvrou van die Rooikruis-Kinderhospitaal in Kaapstad. My hart gaan uit na kinders. Dis een ding om geld te skenk aan kinders, maar om týd te skenk is selfs kosbaarder. My eie kinders, Alexia (13) en Nikolaos (12), en my geloof is mý lewensinspirasie. Dít maak elke dag spesiaal. My toekomswens is dat my kinders gelukkige grootmense sal word. My onmiddellike doelwitte: Om vanjaar doelgerig fiks te word en om dié onderneming te laat groei deur gehaltediens te lewer. Een van sy grootste pluspunte is die uitsig: Jy sien Tafelberg, die Kaapse hawe én Bloubergstrand!”