EK HOOP

dat ek ’n swart taal ook kan praat. As ek dit kon doen, sal ek op voetsoolvlak kan kontak maak en dít sal my verryk. Dis ’n voorreg om Afrikaans en Engels te kan praat.

dat ek ’n nag kan deurslaap sonder om wakker te word. Artritis laat jou met gelatenheid mompel: “Ja-nee, oud word is nie vir sissies nie.” Met my jaarlikse ondersoek het die onkoloog verklaar dat my organe mooi “skoon” is van kanker. “Maar kyk net hoe lyk jou ruggraat, skouers, nekwerwels en knieë! Jy het chirurgie nodig!” Ek het nie tyd daarvoor nie. Dus hoop ek dat die pynpil wat ek drink tog nog net vir die jare wat oorbly, beskikbaar sal wees.

dat my twee laatlam-kleinseuns nog Afrikaans sal praat teen die tyd dat hulle skoolgaan en dat hulle nie na Engelse byvoeglike naamwoorde soos awesome sal gryp nie.

dat hierdie land se mense onder die Suiderkruis sal leer om met verandering saam te leef. Dís deel van die Skepping en dit verryk jou. As ons ons harte oopmaak en leer om probleme te konfronteer, sal ons groot skatte vind. Ons het reeds ver gevorder.