EK HOOP

dat ek ’n swart taal ook kan praat. As ek dit kon doen, sal ek op voetsoolvlak kan kontak maak en dít sal my verryk. Dis ’n voorreg om Afrikaans en Engels te kan praat.

dat ek ’n nag kan deurslaap sonder om wakker te word. Artritis laat jou met gelatenheid mompel: “Ja-nee, oud word is nie vir sissies nie.” Met my jaarlikse ondersoek het die onkoloog verklaar dat my organe mooi “skoon” is van kanker. “Maar kyk net hoe lyk jou ruggraat, skouers, nekwerwels en knieë! Jy het chirurgie nodig!” Ek het nie tyd daarvoor nie. Dus hoop ek dat die pynpil wat ek drink tog nog net vir die jare wat oorbly, beskikbaar sal wees.

dat my twee laatlam-kleinseuns nog Afrikaans sal praat teen die tyd dat hulle skoolgaan en dat hulle nie na Engelse byvoeglike naamwoorde soos awesome sal gryp nie.

dat hierdie land se mense onder die Suiderkruis sal leer om met verandering saam te leef. Dís deel van die Skepping en dit verryk jou. As ons ons harte oopmaak en leer om probleme te konfronteer, sal ons groot skatte vind. Ons het reeds ver gevorder.

EK IS BANG

vir somme, syfers en rekeningkunde. Ek het nie gedink ek sal matriek slaag nie, weens ’n minderwaardigheidskompleks oor my gebrek aan wiskundige vaardighede. Onsimpatieke onderwysers het dit vererger. Toe slaag ek matriek in die eerste klas met onderskeidings in Engels en musiek.

ek verloor my geheue. My ma het seniel geword. Dis hartseer om te beleef, want die mens vir wie jy lief is, word iemand anders. Is dit te veel gevra dat ek eendag die woorde van N.P. van Wyk Louw se “O, wye en droewe land“ en Psalm 23 sal kan onthou?

vir konflik en oorlog. Toe ek vyf jaar oud was, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. Ek onthou die fluistergesprekke tuis . . . Ek kon die vrees aanvoel. Toe my twee seuns opgeroep is vir militêre diensplig in Angola, het my oudste seun met bittere ontnugtering vir my gevra wat ons daar soek. Ek het nie antwoorde gehad nie. Emily Hobhouse, wat haar oor die Boerevroue en -kinders in die konsentrasiekampe ontferm het, het dié waar woorde gesê: “Een van die ergste eienskappe van oorlog is die verrotting van die waarheid, regverdigheid en menslikheid.“

WAT EK NOU WEET

Toneelspel het my diep laat delf in my eie psige en fasette van myself gewys wat ek nie geweet het bestaan nie. Dit leer ’n mens veerkragtigheid. Jy vat die knocks soos ’n bokser.

Almal kom met ’n Goddelike Bloudruk aarde toe. Ons is hier om ’n rede. Om ’n mens te word, om vreugde, pyn, liefde, selfvervulling, al die emosies te ervaar. Dis ’n kringloop wat jy moet voltooi op reis na die ewigheid. Dis soms met verwondering dat jy terugkyk op die pad wat afgelê is, wat aanvanklik onverstaanbaar en soms bitter en pynlik is. En dan kyk jy skielik met nuwe begrip en deernis na alles.

My ma het deur haar voorbeeld vir my gewys hoe lyk ware liefde.

Ek is genees van borskanker, wat op 2 Mei 2002 by my gediagnoseer is. Sedertdien het my man, Jaap Smit, Parkinson se siekte gekry. Ek besef nou niks is seker in die lewe nie. Jy beplan een ding en die Bloudruk sê jy moet op ’n afdraaipaadjie gaan. Jy moet nóg ’n les leer. Alles kom op jou pad om jou na volkomenheid te lei.

My wêreld het klein geword, my behoeftes ook.

Moederskap louter ’n mens . . . die geboorteproses, daai kind waarin jy deeltjies van jou man, jouself, die heelal sien. Ma-wees is ’n voorreg. Ek het geleer om kritiek nooit persoonlik op te neem nie, my aan kundiges te steur, selfondersoek te doen en altyd te bly leer. ’n Kritikus het my eenkeer “unseemly and too tall“ genoem. Ek het ’n karakteraktrise geword en onder meer twaalf koninginne in my loopbaan vertolk, waar my lengte my goed te staan gekom het! Dis helend om te lag. Dis kenmerkend van Suid-Afrikaners. Ons lag dikwels ten spyte van rampe, verliese en teëspoed. Dis ons behoud.