Ek is dankbaar oor my lewe. Daar was baie genade - Karen Zoid

Karen Zoid


“Daar is ’n paar dinge waaroor ’n mens dróóm. Om die volkslied te sing by ’n nasionale byeenkoms, ’n nommereen-treffer op die radio, om ’n rockfees te open . . .”

Karen Zoid tiek al dié bokse. En daar’s geen einde in sig nie – iets waaroor Zoid-aanhangers allermins kla.

SA se voorste vrouerocker wat deur die tydskrif Time en die media-maatskappy U.S. News & World Report uitgesonder is as een van die land se musiekikone en al die verhoog gedeel het met grotes soos Annie Lennox, Metallica, Seal, UB40 en Hothouse Flowers, vier vanjaar nóg ’n mylpaal. Haar twee dekades in die bedryf.

Sy en haar band gaan dit met mening vier met talle spesiale optredes in Suid-Afrika en ook in Ierland, Australië en Nieu-Seeland. Sy gaan met onthou vier, want musiek is soos ’n foto. “Jy onthou soveel meer as jy musiek hoor as wanneer jy iets sien. Luister na die ou wat ‘Candle in the Wind’ op die klavier speel. Dit roep ’n gebeurtenis op.”

As sy Simon & Garfunkel hoor, is sy terug in graad vyf, toe sy in ’n a cappella-groep by die skool geoefen het. Wanneer sy na PJ Powers se musiek luister, is sy weer in ’n ander era.

Die feesgids van die Stellenbosse Woordfees kondig Karen se 20 Jaar Pops* op 8 Maart só aan: “20 jaar. 20 songs. Onthou jy die meisie wat met Voortrekkerkappies op die verhoog verskyn het met ‘Afrikaners is plesierig’ en regtig nie omgegee het wat enigiemand van haar dink nie. Sy het intussen met harde rocktreffers en sagte ballades Suid-Afrikaners se harte gesteel en dit is nou 20 jaar later . . .”

In die aanloop tot haar groot jaar gesels Karen plesierig en gemaklik met SARIE by die Table Bay Hotel in die Waterfront. Swart broek en hemp met ’n roomkleurige oorjas en tekkies, haar blonde hare vasgemaak.

Haar optrede saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO) by die Woordfees is één van daardie drome. “Ek wou dit al baie lank doen.”

Anders as wat jy sou dink, glo Karen nie haar musiek het, soos haar lewe, in fases beweeg nie. “Musiek is musiek. Die lewe is ’n hartseer plek. Mense voel dikwels godverlate. En musiek skep ’n ruimte vir hulle om van hul sorge te vergeet. Amper soos ’n vakansie of ’n kerk.”

Sy gee nie voor sy verstaan al die lyding en ellende om haar nie. “Maar ek is dankbaar oor my lewe. Daar was baie genade.”

Karen is meer as musikant. As geselsprogram-aanbieder het sy die vermoë om mense te laat lag. “Dit is die lekker van Republiek van Zoid Afrika**, wat in 2015 begin het. Ek wil mense laat lag of aan die gesels kry of ’n ander perspektief op die lewe gee. Vir my is dit nie ’n werk nie. Dit raak vir my al hoe lekkerder om te doen, dis versláwend.”

Hierdie liefde om mense saam te bring en “ligter” oor die lewe te laat voel, kan direk gekoppel word aan haar ma, Jeanette, wat op 34 aan kanker dood is, glo sy. As jong kind was Karen dikwels alleen en ’n randfiguur in ’n lewe wat sy as erg onstuimig ervaar het.

“Die bedryf het my geleer om my gut te volg. Min mense het goeie bedoelings met jou. Daar is dalk vier of vyf wat langtermynbesluite neem wat vir jou beswil is.” Goeie mentors soos Laurika Rauch, Nataniël, Vusi Mahlasela, Dorothy Masuka.

Nog ander het haar geleer hoe om haar passie as besigheid te benader. ’n Vryheid wat sy nodig het, want sy wíl vir haarself werk en haar eie reëls volg. Sy skryf haar eie liedjies en vervaardig haar eie CD’s, met die laaste een Op die oomblik – Deel 2 (2019). Sy het haar eie televisie-ateljee op Philadelphia buite Kaapstad waar Republiek van Zoid Afrika gemaak word. En sy doen televisieproduksies soos die Fiësta-bekroonde Dorothy/60 years (2014).

Aan die bedryf gee sy graag terug, om “onderwyser” te wees. Soos in The Voice SA (2016 en 2017) waar sy, Lira, Bobby van Jaarsveld en Kahn Morbee hoopvolle sangers onder hul vlerk geneem het. Sy wou hulle veral leer ’n sanger moet sy hart op sy mou dra, ’n bietjie pronkerig wees, nie bang om te wys wat in jou steek nie.

Oor die laaste jare het Karen ’n paar keer collaborations aangepak, en meen deel van haar sukses is om met die regte mense saam te werk. “Baie kunstenaars is privaat, maar wanneer jy sing, is dit gewoonlik ongelooflik persoonlike dinge wat jy deel. Werk jy so nou met iemand saam, is dit soos om drie weke lank met iemand te gaan toer. Of soos daardie gevoel tussen rugbyspelers wat mekaar jare reeds ken en saamspeel. Jy leer iemand regtig intiem ken. Dit is ’n spesiale vriendskapsband. Maar jy moet jouself baie weerloos kan maak om só iets te laat werk. Dit is ’n voorreg om so deel te word van iemand se lewe.”

En wie het nie een van haar bekendste en suksesvolste samewerkings, die duet “Toe vind ek jou” saam met sanger Francois van Coke, gesien nie? Toe dié video in 2015 op YouTube bekend gestel is, het dit oornag tot nommer een op SA iTunes gespring en dit was ook die gewildste Afrikaanse musiekvideo van die jaar. (Meer as 9 miljoen mense het al daarna op YouTube gekyk.) Ander groot colabs was met onder andere Johnny Clegg, en ’n konsert saam met die operaster Zanne Stapelberg en Freshlyground se Zohani Mahola. Sy het onder meer ook die Johnny Clegg-huldelied en -video, “The Crossing, Friends of Johnny Clegg”, voor sy dood verwerk en meer as R1 miljoen is al ingesamel vir die Friends of Johnny Clegg-stigting.

Sy is een vir doelwitte en maak in die begin van elke jaar lysies. Een so ’n doelwit is ’n vollengte-rolprent, waaroor sy nie wil uitwei nie, en om nog baie te reis . . .

Sy leef met mening, Karen Zoid. Hanteer elke dag met respek. Besef die lewe is delikaat. Die lirieke van haar liedjies sê sy is ’n fyn waarnemer wat al ’n uitdagende pad oor berge en dale afgelê het.

Wil jy die wêreld verstaan?
Draai jou rug op hom
Net vir ’n oomblik
Dit werk soos ’n bom
Die waarheid is swart
Die waarheid is wit
Die waarheid is tog gewoonlik absurd

(Uit: “Lig buig”, Op die oomblik – Deel 2)

Karen se groot feeskonsert om haar 20 jaar te vier vind op 3 en 4 Julie by die Sun Arena in Pretoria plaas.
* Haar Woordfees-optrede saam met die KFO is op 8 Maart by die Van der Stel-sportgronde op Stellenbosch.
** Die sesde seisoen van Republiek van Zoid Afrika begin op 16 April op kykNET.

Afrikaans hét net iets - Janice Honeyman

Janice Honeyman


Haar oer-oer-oupagrootjie was ’n Skotse heuningverkoper en sý deur en deur Engels, maar Janice Honeyman erken: “Afrikaans hét net iets. Dis lewendig en kleurryk. Ek hou daarvan om regie in Afrikaans te doen.

“Wanneer jy Shakespeare of Tsjechof uit Engels in Afrikaans vertaal, is dit nuut, rou en kragtig. In Engels is dit verfynd, amper te korrek.”

Só gesels dié bekroonde regisseur by die Adam Small-teater (voorheen H.B. Thom-teater) op Stellenbosch, waar sy ’n werksessie bywoon saam met teatermaker Saartjie Botha en van die room van ons akteurs – Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Wiseman Sithole, Peggy Tunyiswa en nuweling Robert Hindley, wat in die toneelstuk Valsrivier* speel.

Vanjaar is die eerste keer dat sy ’n regisseur vir ’n debuutproduksie by die Woordfees is – en Valsrivier, gegrond op die gelyknamige roman van Dominique Botha, maak haar baie opgewonde. Haar laaste Afrikaanse projek, ook op die Woordfees, was Bidsprinkaan (2013), gegrond op die boek deur wyle André P. Brink, maar dit het nie sy debuut op die fees gemaak nie.

Janice het dadelik ingestem om die regie van Valsrivier te doen toe sy genader is. “Ek is mal oor die storie, ’n gesinsdrama. Die stuk speel op die Vrystaatse platteland af, en omdat ek in Johannesburg woon, het dit my gedwing om navorsing te doen. Saartjie, wat die boek vir die teks verwerk het, is ’n Vrystaatse plaasmeisie en sal weer van haar persoonlike ervarings met my deel. Ons het in die verlede al lekker saamgewerk.”

Johan van der Merwe en Rudi Sadler, vervaardigers van Die reuk van appels, Kamphoer en DEURnis, wou ook al lank met Janice saamwerk en is in hul noppies dat sy ingestem het tot Valsrivier, een van die pronkproduksies wat hulle vanjaar vervaardig.

Al speel die stuk in die jare tagtig af, bly dit relevant, sê sy. “Dit gaan oor die politiek se uitwerking op ’n gesin, en hierdie twee was nog altyd onlosmaaklik deel van my lewe.”

Sy is mal oor teksverwerking en Valsrivier, waarvan drie van die karakters nog leef, is haar 29ste. “Ek wil die storie met groot sensitiwiteit en integriteit aan die gehoor oordra. Saartjie se struktuur is wonderlik en haar kennis van teater is fyn verweef met haar persoonlike ondervinding in mooi Afrikaans.”

Die eerste keer wat hulle die teks saam deurgelees het, het van die akteurs gehuil, vertel sy. “Dit is ’n baie emosionele stuk. Ek sal die karakters en die storie in detail weergee – soos ’n skilder wat dit alles met fyn kwashale op ’n doek aanbring en inkleur.”

Om die regte ritme tussen haar en die spelers te kry is belangrik . . . wanneer spelers ’n gedeelde visie het, glip als ineen soos ’n legkaart ná vier weke se aktiewe inoefening, verklap sy.

Dié doyenne van die teaterwêreld vier vanjaar haar 50ste jaar in die bedryf en het ook al in die buiteland haar merk gemaak, onder meer by die Royal Shakespeare Company se The Swan-teater op Stratford-upon-Avon. Met sir Antony Sher en John Kani in die rolverdeling van Shakespeare The Tempest was dit eers in die Baxter in Kaapstad ’n wegholsukses, asook later in Brittanje. Janice is reeds jare John Kani se voorkeur-regisseur en hy span haar in vir produksies plaaslik en internasionaal.

Op die verhoog voel sy lewend en gelukkig. “Ek sal waarskynlik werk tot ek eendag in my graf omslaan,” sê sy laggend. Sy is net so versot op haar honde: Toffoluxe Gangooly, (gedeeltelik) genoem na die voormalige Indiese krieketspeler Sourav Ganguly, want “ek is mal oor krieket”. En George Ashleigh de Villiers. “George is die manlike hoofkarakter in die toneelstuk Who’s Afraid of Virginia Woolf?. Ashleigh was sy naam by die skuiling. En hy het aan ’n dwelmhandelaar op Villiersdorp behoort. My pavement special is Sophia Rosa de Formosa the Twentieth Century Fox.”

Janice, wat al 32 jaar lank by pantomimes betrokke is, is spyt sy het nooit kinders gehad nie. “Hulle kan so maklik ‘vlieg’ en sien alles vars. Daarom moet die stukke elke jaar beter wees,” lag sy. Sy wil woorde toeganklik maak vir kinders. “Dit moet al van kleins af aangewakker word. En dít is een van die wonders van platforms soos die Woordfees.”

Sy onthou haar ma het haar en haar ouer broer (’n prokureur) eindeloos gestimuleer. “Sy was ’n wonderlike mens, wat die ongelooflikste stories vertel het.” Boeke soos Pollyanna, What Katy Did en Anne of Green Gables het sy verslind. “Ek het die hele blêrrie biblioteek deurgelees,” sê Janice. En naderhand wou sy die grootmens-boeke lees.

Nog ’n veer in haar hoed is ’n reeks kinderboeke wat sy geskryf het en eersdaags wil uitgee. Sy het dit ook self geïllustreer, “omdat dit my oneindig plesier verskaf”.

Oor die jare was sy plaaslik en internasionaal by vele opvoedkundige projekte betrokke. In Londen het sy byvoorbeeld die regie gedoen vir The Show-Me-How-Show, ’n regstreekse televisiereeks, en The Doll’s Show, ’n opvoedkundige reeks (albei vir kinders jonger as vyf), wat gesorg het vir heerlike werksgenot.

“Een van die grootste uitdagings ná jare se werk in die bedryf is om op die hoogte van die nuutste tendense te bly en altyd opnuut na iets te kan kyk.”

Nog passies van haar is opera – van Così fan tutte tot Die Fledermaus en Die vrolike weduwee – en musiekblyspele soos Hair, The Color Purple, Starlight Express en Show Boat. Laasgenoemde het groot draaie gegooi op verhoë tot in Noorweë, Swede, Duitsland, Frankryk en Brittanje. “Eendag wil ek nog Die towerfluit, Tosca en A Midsummer Night’s Dream se regie doen. Ek gaan nog,” sê Janice, wie se veelsydigheid getuig van ’n vreesloosheid om tussen genres te beweeg.

Nadat sy verlede jaar behandel is vir kolonkanker en nou in remissie is, is Janice op sewentig opnuut kind. Lente-weer, vriende, drome van reise na Oos- en Wes-Afrika, Thailand, Kambodja, Indië, lekker kos, goeie wyn, koek en soetgoed – dít is mos waaroor die lewe gaan. “Die vrees vir die dood het my lewe in perspektief geplaas. Ek het besef alles het grense. Ek het diep nagedink en is ‘lig’ en dankbaar oor die ekstra tyd wat aan my gegun is.”

* Valsrivier is van 6-11 Maart by die Adam Small-ouditorium op die Woordfees te sien.