Sy noem haarself Zayabaloeba de Lange. En die eerste indruk wat jy van Zanne Stapelberg kry, is een van BAIE. Baie kleur. Baie hare. Baie lag en baie om te sê. “Gul,” noem Michélle van Breda, SARIE-redakteur, haar. Op die verhoog én aan die ontbyttafel. Welige juwele wat rinkel soos sy en haar hande met jou gesels. ’n Bloedrooi mond wat maklik giggel.

’n Ruim hals wat ’n ruim hart (en natuurlik daardie stem) huisves. As mens nie vooraf geweet het jy’t te doen met een van SA se jongste en voorste opera-soprane nie, sou jy dit nooit kon raai nie. Sy’s net 28.

Zanne het in Durbanville, Kaapstad, grootgeword en matriek geskryf, en daarna op Stellenbosch musiek gaan studeer. Vir ’n kort rukkie het sy dit oorweeg om regte te studeer. “Maar gelukkig het ek betyds tot besinning gekom.”

In 1999 het sy haar hoër lisensiaat cum laude behaal en in 2000 was sy - op 22 - die jongste opera-sanger tot nog toe wat tot die Kaapse Opera Studio toegelaat is. Net ’n jaar later ontvang sy die toekenning as Beste jong opera-sanger van Vriende van Kaapstad Opera. In die vier jaar wat volg, het sy onder meer gesing in La Bohéme, Idomeneo en Die Zauberflöte.

Gunstelinge

KOS: Enigiets met deeg. En biltong!
DRANK: Old Brown Sherry, koffie
KLEUR: Goue lug wanneer die son begin sak. Als wat blink!
KLANK: My pa se stem
LIED/MUSIEK: Enigiets wat my begeester. Die operas van Giacomo Puccini, die tango-musiek van Astor Piazzolla ... dit laat my dans, op en af in my gang
KUNSTENAAR: Jomar de Lange
PLEK: My huis
MENS: Jomar
GESEGDES: Hectic on hope. Begeisterd.

 

In Februarie vanjaar was sy verruklik in Pulcinella by die Spier-kunstefees buite  Stellenbosch, en later vanjaar toer sy na Wallis en Engeland. Kritici en gehore is almal ewe opgewonde oor haar “sensasionele” stem. Hulle is beslis ook dol op haar sensuele verhoogmaniere. Want - en kyk maar na die foto’s hierby - Zanne Stapelberg smeul ...

Op ’n koel someroggend kry ons mekaar by ’n koffieplekkie in Durbanville, Kaapstad. Ons wikkel ons toe in helder, wollerige komberse en trotseer die skraal windjie sodat ons buite kan sit om die bome en die berge te kan sien. Maak ons hande warm om bekers warmsjokolade en praat onverpoos terwyl die wasemwolke tussen ons warrel.

Binne enkele minute val jy soos ’n Alice in Wonderland in die magiese wêreld van Zanne in. Waar alles anders is as dít waaraan jy gewoond is, waar katte grinnik en teepotte partytjie hou. Waar die lewe oor en oor seëvier en niks weggesteek word nie.  (“As jy met erns en konsentrasie léwe, het jy mos niks om weg te steek nie ...”) ’n Mens sou graag die woord “borrel” wou gebruik, as dit nie al so geyk was nie. Nee, eerder dan stu, of bruis. Waar mense hul liefde op goue bakstene verklaar en glitter in briewe gestrooi word.

Jomar de Lange is haar maat van 12 jaar met wie sy die afgelope 4 jaar getroud is. “Ons ken mekaar al sedert ek 16 is. Ons het albei hier in Durbanville gebly. Hy het ná skool vir 7 maande Engeland toe gegaan en ons het letterlik elke dag vir mekaar geskryf. Ons is absoluut beste vriende. Hy is real, tasbaar. Teenwoordig in sy eie lewe, en in ons albei s’n.”

Die uur wat nou volg, pendel tussen die vier pole van emosie: Lag, huil, peins . . . en ’n bietjie kwaad word. Oor onreg, ongevoeligheid en die sogenaamde belangrikheid van onbelangrike dinge.

Wat doen jy tans?

Ons is - en was - besig om ons huis te herstel. Dis ’n hengse gemors. Bakstene, sand en stof. Ons aanbouings het ontaard in ’n glorieuse fiasko ... ek kon vir twee weke nie in my huis loop nie omdat die mure onder in die grót wat hulle gegrawe het, meegegee het en al die mure binne die huis gekraak het! Toe ons terugtrek, besluit al wat ’n bedrading is om nie so saggies nie heen te gaan. Toe moet hulle weer als oopkap en ons herbedraad.

Nou is die ligte aan en ek was wasgoed en dit help my altyd om my kop oop te kry, so oop dat ek, nadat ek vir drie jaar ’n titlisarian was (haar eie woord - ek het niks geëet wat dood is of nipples het nie), weer begin vleis eet het. Ek sit nou gereeld en knaag aan ’n stuk biltong ... Ek vlug dikwels hierdie kant toe, na my ma’le toe. Hulle het ’n klein geskenkwinkel net hier om die draai.

En in jou werk?

Pas klaar met ’n hele reeks uiteenlopende vertonings. Daar was die opera en balletproduksie waarin ons onder meer Queen se musiek gebruik het. Ook ’n jazz- en Spaanse produksie by Die Boer in Durbanville. In Februarie was daar ook Pulcinella van Stravinsky by Spier, saam met Marthinus Basson. En die Haydn Creation in die Kaapse stadsaal met die Kaapse Filharmoniese Orkes. In April Mozart se Requiem in die Kaapse stadsaal met die Kaapse Filharmoniese Orkes en repetisies vir La Bohème, wat in Mei vir Kaapstad Opera opgevoer word.

Dan wil ek ook nog my eie show ontwikkel. Die idee groei al lank in my kop en ek wil my verstout deur dit ’n “operatic cabaret” te noem. Dis 95% klassieke musiek, máár met ’n teks wat ek geskryf het, daarin verweef - aan die einde ’n paar nommers wat ek en my pianis en musikale verwerker, Stefan Lombard, tot in die laatnag voor sy blinkswart klavier uitgebroei het. Ek doen ook werk met die SA komponis Hendrik Hofmeyr se sangsiklusse. Und so weiter, und so weiter ...

Hoe lank oefen jy elke dag?
Ek is elke dag te sien voor my klavier tussen tien en ongeveer sewe, met dramatiese pouses tussenin om te swem/sonbaai/vleisbraai of kattemaai.

Waar kom die musiek vandaan?

Uit die hart uit, dis mos die enigste plek waar musiek gebore mag word. Maar ek sing al vandat ek kan onthou, het kleintyd al myself staangemaak op hope boeke as ’n soort verhoog en mense vermaak met lawwe liedjies. Ek is mal oor musiek, en mal daaroor om dit vir mense te sing.

Wat was jou groot break in die lewe?
Ek dink nie eintlik daar was ’n break nie. Onthou, ek studeer al omtrent die helfte van my lewe sang. Jou stem is soos ’n spier, dit moet geoefen word om sy soepelheid, sy vorm, sy krag te bou. In ’n mate is ek soos ’n marathon-atleet - ek moet elke dag sing om fiks te bly. Daar is seker ’n mate van talent nodig en daarvoor is ek oneindig dankbaar. Maar om bo uit te kom, verg harde werk.

Vertel meer van jouself ... daai goeters wat niemand weet nie?
Ek was skottelgoed met ’n diamanté-tiara op. Ek is ’n sterk voorstander van die toevoeg van glamour tot die alledaagse. Ek is mal oor stryk ... soos in klere. Het al telkemale my kop by die strykplank uitgesorteer. As ek swem, verbeel ek my ek is ’n meermin. Ek hou van dans voor die spieël, tennis speel, huil dat my skouers ruk vir hartseer-movies, trampolien spring, alle kos wat deeg bevat, woordeboek lees - en dan so gou as moontlik die woorde in sinne te gebruik. Soos gister s’n, drelletjie, drogredenaar en draaggedeelte. Ja, ek trek nou by d ...

Wat is jou grootste liefdes?
SING!!! Om op die verhoog te staan met ’n groot, blink rok (my werk is soos om oor en oor te trou of matriekafskeid te hou!) en te PERFORM! Dis my eerlikste ding. Om te doen wat ek doen. Ek raak soos ’n verliefde tiener as ek besig is met lekker werk, half simpel en bloserig.

Vertel van die Marthinus Basson-produksie?
Marthinus het ’n draaiboek geskryf wat in die musiek verweef word (dit gaan oor liefdesverhoudings en gedragspatrone). Die produksie bevat akteurs, operasangers, tango-dansers, bewegingkunstenaars, ’n dirigent en orkes. Daar is ’n kreatiewe vryheid in die teaterbedryf wat vir my heerlik is - ek dink met opera is ’n mens so gebonde aan die musiek op die papier wat teen ’n sekere ritme moet voortvloei dat die raamwerk vir sommige sangers soos ’n hok word.

Met teater vind die spelers die ritme tussen die woorde en hul lywe self en die eindproduk is dikwels meer organies. Die produksie is vir my so lekker, want nie net sing ek nie, maar ek dans en speel toneel! Blykbaar het my middellyf ’n lewe van sy eie ... presies wat mens nodig het vir salsa. Ek sê nie dis onmoontlik om te vermag in opera nie, inteendeel.

Wie’s jou beste opera-komponis?

Giacomo Puccini. Hy was so ’n meesterlike komponis, maar ook ’n uitstekende dramaturg. Dan is dit maklik om die stories te vertel. Jy hoef net binne-in die musiek op die papier te klim en dan spreek die storie vanself. Dis vir my magic. Dis hoekom ons dit doen. We want to be moved. Gister het ek verby ’n muur met graffiti gery. Geverf in helder-oranje en diep juweel-blou is ’n klein dogtertjie wat op haar ma se skoot sit en musiek luister. In die praatborrel: If it is just a series of vibrations, why does it move me so?

Na watter opera sien jy uit?
Ek doen in Mei La Bohème in Kunstekaap. Ek het dit laas in 2001, twee weke voor my troue, gedoen toe ek nog ’n student was. Dis my gunsteling opera. Mooiste, mooiste musiek. Die storie is amper identies aan dié van Moulin Rouge en ek dink een van die faktore wat dit so kyk- en luisterbaar maak, is dat dit ’n storie oor ’n groep studente is. ’n Lief-en-leed soort van ding, maar met daai tikkie melodrama waarvoor die kunsvorm, opera, so bekend is.

Ek sal nooit vergeet nie, die dag toe ons besig was met die vierde bedryf waar Mimi besig is om te sterf lui my selfoon skielik in my broek se sak. Ek skrik my boeglam op my siekbed, maar antwoord. Dis Gert van de Merwe wat wil weet of ek kan kom vir ’n fitting. Heeltemal flustered oor ek vergeet het om die ding af te skakel, met Rodolfo wat sy hart uitsing in my linkeroor en Gert op die foon in my regteroor. Ek sê toe: “Nee, Gert, nee, miskien later, maar ek is nou eers besig om te oefen hoe om dood te gaan.”

Wat anders sou jy wou doen?
Weer hierdie. Hierdie lewe in musiek. Maar altyd saam met my man. My man laat my toe om te vlieg.

Wat inspireer jou die meeste?
Begeesterde, talentvolle mense wat in verwondering is oor die lewe. My man se mooi arms ... My skoonma se skaapskenkel-pastei. Toe ons by hulle op Tarkastad was vir Kersfees het ek elke dag ’n week lank - oggend, middag en aand - daarvan geëet! As ek van iets hou, raak ek obsessief! My skoonpa, wat ná 33 jaar nog net so opgewonde raak oor sy vrou se skilderkuns en elke keer as ons daar kom, dit vir ons uitwys asof ons dit nog nooit gesien het nie.

Waar hou jy vakansie of gaan herlaai jou batterye?
Binne-in. In ander mense se koppe, my eie, die wêreld van ’n boek, of die ruimte van ’n gedig. En Namibië. Ek is mal oor Namibië. Die woestyn. Swakopmund. Lekker plek, lekker mense.

Waaroor wonder jy?
Oor die note en die woorde, en of ons ooit als gaan kan sê en sing. En hoef ons? Of het ons al? En oor grense. Van mense se harte. En al die dinge waarvoor ons durf wens. En almal swem nou so saam met dolfyne, haaie en walvisse. Ek wonder of ’n mens saam met tuna kan swem? Het jy geweet hulle raak tot twee meter lank en weeg tot 100 kg! As ek aan tuna dink, sien ek ’n Pick n Pay No Name Brandblikkie, in springwater.

Hoe dink jy oor die Hiernamaals?
Die Hiernamaals is goed en wel, maar terwyl mens hier is, moet jy die hierste wees wat jy kan.

         ***

Ek kry ’n e-pos van Zanne. “Hoor hier, my man sê hy voel geweldig daaroor dat ek hom as my gunsteling-kunstenaar bestempel, maar ek kan dit doen sodra hy begin uitstal? Dus, tel skrywers? Dan verander ek my gunsteling-kunstenaar nou na . . . mmm . . . N.P. van Wyk Louw en Gabriel Gárcia Márquez. Kannie net een nie. Wie kan? En daar is nog!”

Een ding is seker, Zanne Stapelberg is hier. Sy noem haarself ook Zanabel de Lishious. Want sy ís.