In Februarie verlede jaar (Maart 2012-uitgawe) het SARIE die prag-troualbum van Zetske en Altus gewys. Die reën het byna gemaak dat dié akteurspaar nie hul droom-buitelugtroue kon kry nie, maar toe wag die  donderstorm nét lank genoeg. Zetske was elegant in haar Roedolf D Couture-meerminstylrok en Altus se "oë was vol trane" toe hy haar in die paadjie sien afstap – "so prentjiemooi".

Zetske vertel van hul eerste huweliksjaar saam:

Hoe was die eerste jaar van getroude lewe?

Fantasties! Dit het so vinnig verby gegaan! Soos in enige verhouding is dit nie altyd maanskyn en rose nie, maar ons het nie verwag dat dit sal wees nie. Ons verhouding is nou sterker as ooit.

Jou resep vir ’n gelukkige huwelik?

Gee mekaar ruimte – moenie jou maat versmoor nie. En die belangrikste is om te kommunikeer.

Die moeilikste ding van saambly is ...

Om by mekaar se gewoontes aan te pas en te "compromise".

Die lekkerste ding van saambly is ...

Om elke dag by jou beste vriend te wees!

Enige planne om met ’n gesin te begin?

Nog nie hierdie jaar nie ...

Zetske en Altus vier hul eerste huweliksherdenking

Die paartjie het hul huweliksherdenking op 6 Januarie vanjaar op die oewers van die Vaalrivier by die Riverside Sun Resort gevier (foto bo).

* Dié bekendes het ook in Januarie hul huweliksherdenkings gevier – Bobby en Annatjie van Jaarsveld was op 7 Januarie twee jaar getroud; en Kurt en Dunay Darren het hul tweede huweliksherdenking op 8 Januarie gevier.